Solidariteit in hof oor kleuterskole

Die organisasies voer aan kinders se reg op basiese onderrig word ontneem. (Foto: Maroela Media)

Solidariteit se beroepsgilde vir maatskaplike werkers en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het hulle Maandag tot die Pretoriase hooggeregshof gewend om die minister van maatskaplike ontwikkeling en die minister van samewerkende regering met ’n dringende hofaansoek te dwing om uitsluitsel te gee oor die heropening van private kleuterskole en dagsorgsentrums.

Solidariteit en die SOS het die hof versoek dat die saak so vinnig as 23 Junie op die rol geplaas moet word.

Albei ministers het versuim om te reageer op die dringende skrywe wat Solidariteit en SOS op 4 Junie aan hulle gestuur het.

Maroela Media het vroeër berig kleuterskole wat by die departement van basiese onderwys geregistreer is, mag op 6 Julie hul bedrywighede hervat, maar dié wat by die departement van maatskaplike ontwikkeling geregistreer is, is steeds in die duister oor die pad vorentoe.

“Dit is verregaande dat departementele kleuterskole mag oopmaak, maar dat die private eweknieë nie mag nie,” sê Marisa Engelbrecht, sektorhoof by Solidariteit se beroepsgilde vir maatskaplike werkers. “Dit is belangrik dat kinders gesond mag leer, dat onderwysers en skoolpersoneel kinders korrek kan stimuleer om hulle tot hul volle potensiaal te ontwikkel, en vir ouers om hul kinders in ’n veilige, stimulerende skoolopset te mag laat versorg terwyl hulle ’n inkomste verdien.”

Volgens Engelbrecht is die probleem veel dieper as bloot dat kinders verhoed word om by die skool op te daag. Sy sê die uitstel van skoolbywoning kan kinders se vroeë ontwikkelingsfases, wat uiters belangrik is vir hul liggaamlike en kognitiewe ontwikkeling, negatief beïnvloed.

Engelbrecht sê baie kinders maak ook staat op voedingskemas wat by die skole aangebied word. Hulle benodig ook ander maatskaplike hulp waarvan hulle nou ontneem word.

“Dit is duidelik dat deur te versuim om duidelikheid oor die kwessie te gee, die regering nie nou in die kinders se beste belang optree nie,” sê Engelbrecht.

Duisende ouers het ook met die aanvang van vlak 3 teruggekeer werk toe, wat dit nou noodsaaklik maak dat kleuterskole en dagsorgsentrums moet oopmaak sodat hierdie ouers ʼn heenkome vir hul kinders het.

Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se arbeidsregsdienste, is van mening dat private kleuterskole ook sakeondernemings is wat werk aan duisende Suid-Afrikaners verskaf. “Die personeel en eienaars van hierdie skole en sentrums moet die reg hê om gesond te kan werk, net soos wat talle ander ondernemings nou daardie reg geniet,” sê Van der Bijl.

Solidariteit en die SOS is die afgelope week oorval deur steun om die heropening van private kleuterskole te bespoedig.

“Dit is in die belang van die kind, die ouer, die personeel en die eienaars van die skole en daarom gaan ons voort om hierdie aansoek voor die hof te bring. As die regering nie uit sy eie in sy landsburgers se beste belang wil optree nie, sal ons daarvoor veg,” sê Van der Bijl.

Maroela Media het vroeër berig eienaars, ouers en kinders betrokke by private en onafhanklike kleuterskole, dagsorgsentrums en crèches het vandag (8 Junie) ʼn nasionale bid- en vasdag gehou. Dit doel was om ʼn boodskap van hoop te skep vir diegene betrokke by die vroeëkinderontwikkelingsektor wat steeds in die duister is oor wanneer hulle weer kan heropen.

Die biddag het van sonsopkoms tot sonsondergang geduur en almal wat aan die biddag wou deelneem, is versoek om iets rooi aangetrek.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

En wanneer hulle wel kan oopmaak neem dan net ons eie mense indiens, indien moontlik. Aangesien die regering niks voel vir die blankes nie, moet hulle maar vir hulle our people sorg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.