Solidariteit in hof oor polisierange

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit se hofsaak teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oor sy nuwe rangstelsel hervat Dinsdag in die arbeidshof in Johannesburg.

Solidariteit sal aanvoer dat die nuwe stelsel onbillik teen minderheidsgroepe diskrimineer wanneer aanstellings op die vlak van luitenant, kaptein en majoor gedoen word.

Solidariteit het in 2011 ’n geskil met die SAPD oor die nuwe rangstelsel verklaar en die bevordering van 1 634 polisielede ingevolge die nuwe rangstelsel hangende die uitslag van die hofgeding laat vries.

Die SAPD het vroeër bevestig dat die 1 634 poste in die range van luitenant, kaptein en majoor, nog nie gevul is nie.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê Solidariteit voer die saak namens drie wit polisiebeamptes, lede van Solidariteit, wat nie ingevolge die rangstelsel bevorder is nie weens hul velkleur.

Die polisielede het gesamentlik meer as 85 jaar ondervinding. “Solidariteit versoek dat die kollektiewe ooreenkoms tussen die SAPD en die polisievakbonde Popcru en Sapu ongeldig verklaar word. Volgens die kollektiewe ooreenkoms word poste volgens die nasionale rassedemografie aan die onderskeie rasgroepe toegeken. Hierdie proses het tot gevolg dat wit beamptes met meer as 17 jaar diens in die polisie nie bevorder word nie, maar hul swart kollegas wat so min soos 5 jaar diens het, word wel bevorder. Dit is duidelik dat die SAPD ʼn wiskundige rassebenadering volg om die poste ingevolge sy nasionale regstellendeaksie-plan te vul in plaas daarvan om beamptes vir hulle jarelange diens en op grond van meriete te beloon.”

Groenewald het gesê die SAPD het op 20 April 2010 ʼn nuwe rangstelsel bekendgestel waarvolgens twee nuwe range ─ luitenant en majoor ─ ingestel is om adjudant-offisiere en kapteins geleentheid tot bevordering te gee. “Die beskikbare poste in die rang van kaptein, luitenant en majoor is volgens ras en geslag in groepe verdeel. In 2011, tydens die eerste fase van die rangstelsel, is ʼn totaal van 3 817 polisiebeamptes, waaronder slegs 356 wit beamptes, na die rang van luitenant bevorder. ʼn Totaal van 812 polisiebeamptes is na die rang van kaptein bevorder waarvan geen wit beamptes was nie, terwyl ʼn totaal van 513 polisiebeamptes na die rang van majoor bevorder is, waarvan 48 wit beamptes was.”

Solidariteit het na die eerste fase ʼn saak van onbillike diskriminasie op grond van ras na die arbeidshof verwys. Die vakbond het ook om ʼn dringende interdik aansoek gedoen om die aanvang van die tweede fase van bevorderings ingevolge die nuwe rangstelsel tydelik te stuit. Die arbeidshof het beslis dat die SAPD nie mag voortgaan om polisielede ingevolge die nuwe rangstelsel te bevorder voordat die hofsake wat Solidariteit vroeër oor dié omstrede rangstelsel en die polisie se regstellendeaksieplan aanhangig gemaak het, aangehoor is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Carl ·

Ons SAPS en die land het die beste man en vrou in elke pos nodig. Hoe vinniger dit in plek gestel word hoe vinniger sal die SAPS weer misdaad in die land kan hok slaan.
Goeie werk Solidariteit!

ladybug ·

Roer hulle Solidariteit! Dis hoogtyd dat iemand opstaan vir ons blanke lede wat so oor gesien word vir bevordering net omdat hulle wit is!

Een van die vele redes ook hoekom ons polisiemag so in sy maai is!

kobus mouton ·

ek is 20 jaar in my rang en 37 jaar in die diens.roer hulle Solidariteit.

Daniel ·

Ek weet ek word benadeel agv my velkleur is in 1995 bevorder na Adjudant agv goeie werk en studies ek het nog net 2 vakke gekort en na 20 jaar in die rang en 29 jaar diensjare en wat daagliks blootgestel word aan al die verkeerde optredes deur sapd lede wat n kardinale diens lewer aan alle SA burgers en die gehalte is so swak dat ek nie weer as trotse lid met kennis en ervaring enigsins buite sal werk nie die situasie is tragies en ek stel dit as n ingeligte feit dat die dun blou lyn slegs weer sal herstel met geleerde gemotiveerde aanstellings wat die land en sy mense eerste stel om te dien en te gee sonder huiwering om as persoon integriteit te he wat dien sonder dat ek hier is oor geld ek is hier vir opoffering om n verskil te maak en suksesvol te wees om deel te wees van n groep /span wat saamwerk met n gesamentlike doel met inagneming van alle rolspelers wat hul taak moet doen en om dit te doen soos my skepper van my verreis en hier is in die organisasie net n handjievol oor n werknemer word gemeet en geevalueer aan sy sukses dit wat hy bereik en beteken onmisbaar as hy afwesig is ons is tans net nommers vergete en word nie gewardeer nie en dan moet ek saam met my mede geleerde sapds wat swart is en ook oor die hoof gesien word vir bevordering ons koppe in skaamte sak vir bevorderings vir entiteite wat nie eers in die sapd hoort nie politieke aanstellings van leeke binne die organisasie is n oneerbare aspek wat indruis teen die grondwetlike pligte en verantwoorbaarheid teenoor die president die kabinet en alle instansies binne en buite die grense van die Republiek ek het n gewete en is n christen met waardes ek verag onverantwoordelikheid om weg te kyk en niks te doen nie is verkeerd dan hoort jy nie in die organisasie nie PUNT dankie solidariteit vir u ondersteunende rol aan ongelykhede binne SA

bea ·

My man is al die afgelope 20jaar op selfde rang, het in 2010 hoër rang gekry en dieselfde dag het hul dit weer terug getrek omrede daar nie genoeg geld is om hulle te betaal volgens die range!!!!!! so dink maar vir jouself hoekom dit so is, beslis nie oor geld!!!

derek reynecke ·

Dit is die rede dat ek in Junie 2014 bedank het. (33 jaar diens) 18 jaar in rang en 20 jaar in bevelvoerderspos en kan nie bevorder word nie, maar “mense” met 17 jaar diens kry poste. dan moet ons hulle nog die werk leer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.