Solidariteit kap staat en Amcu oor humanitêre krisis

Rustenburg Foto; Helpende Hand

Rustenburg Foto: Helpende Hand

Die vakbond Solidariteit het die staat en die vakbond Amcu vandag gekritiseer omdat hulle weinig doen om die humanitêre krisis wat deur die Amcu-staking veroorsaak word, te verlig. Duisende mense wat nie eers aan die staking deelneem nie is tans in die Rustenburg-omgewing verarm as gevolg van die geveg tussen die mynhuise en Amcu.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Solidariteit Helpende Hand reeds R700 000 aan ’n noodlenigingsprogram vir sy lede en hulle gesinne spandeer. Aan die ander kant neem Amcu weinig verantwoordelik vir sy lede se nood en gevolglik is daar ongelooflike druk op Solidariteit se noodlenigingsprogram. “Gister het tientalle Amcu-lede op ’n voedingprojek van Solidariteit toegesak en groot ontwrigting veroorsaak. Helpende Hand kan nie verantwoordelikheid vir Amcu-lede en die hele gemeenskap neem nie,” sê Hermann.

Volgens Hermann moet Amcu en die staat self verantwoordelikheid vir die situasie neem. “Amcu veroorsaak ’n humanitêre krisis, maar weier om verantwoordelikheid daarvoor te neem. Die stakingsfonds wat Amcu geskep het, is ontoereikend en kan nie sy lede na behore ondersteun nie. Die stakingsfonds maak voorsiening vir R12,50 vir elke Amcu-lid. Dit is gelykstaande aan een brood wat oor die vier maande lange staking voorsien is,” sê Hermann.

Volgens Hermann bied Helping Hand reeds bystand aan meer as 1 000 gesinne en nagenoeg 4 000 individue. Hulle is ook betrokke by nege skole se voedingskemas ter waarde van R250 000. Daarby fasiliteer Helpende Hand gratis emosionele en skuldberading. “Ons daag die Amcu-leierskap uit om by ons volgende aksies kos te gee vir honderde honger kinders en doeke en formule uit te deel vir moeders met babas. Ons is ook teleurgesteld oor die staat se afwesigheid in die krisis. Die situasie begin rampspoedige afmetings aanneem, maar die staat bly afwesig,” meen Hermann.

Hermann sê verder: “Terwyl die mynhuise en Amcu in ’n magstryd gewikkel is, neem die staat weens skynbare politieke redes ’n neutrale houding in. Diegene wat die prys daarvoor betaal, is onskuldige vrouens en kinders.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marieta ·

So tipies van die klomp dwase. Glo Malema en sy trawante se liegstories dat hulle sal betaal vir die werkers wat sal aanhou staak. maar as hulle uiteindelik besef dat hulle om die bos gelei is en dan nou net elkeen ± 60sent kry om te oorleef van Malema is hulle eens nog steeds te sleg om dan eerder vir paar duisend te gaan werk. Nee, sal eerder steel, moor en plunder. Mos nog nooit geleer mens moet WERK vir wat jy wil he nie!

alet ·

Stuur hulle almal na die inhuldiging van hulle president toe sodat hulle kan gaan aansit by n 5 gangmaaltyd of laat hulle gryp en hardloop dis verniet

jannie ·

Solidariteit wys die unies in Suid afrika jy is en bly die beste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.