Solidariteit kla SA aan by internasionale instellings oor rassepraktyke

dr-dirk-hermann-en-johan-kruger

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, en Johan Kruger, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit in Genève, Switserland by die Internasionale Arbeidsorganisasie. Foto: Solidariteit/Facebook.

Solidariteit het vandag ʼn klag by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) oor Suid-Afrika se beleid van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging ingedien. Volgens Solidariteit maak die regering hom skuldig aan onbillike rassediskriminasie en vra hy die IAO om dit te ondersoek en ʼn uitspraak daaroor te gee.

Dié klag van Solidariteit is een van drie wat vandeesweek by verskillende liggame van die Verenigde Nasies in Genève teen die Suid-Afrikaanse regering gelê word oor rassisme en die dubbele standaarde wat geld by die hantering daarvan. Donderdag gaan Solidariteit ʼn klag by die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie lê en Vrydag by die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD).

“Ons is almal moeg vir ras en die dubbele standaarde wat geld by die hantering daarvan. Die tyd om daaroor stil te bly, is verby. Ons mag nie toelaat dat minderhede, en spesifiek wit mense, deurlopend gekriminaliseer word nie. Dubbele standaarde in die hantering van ras is nie net verkeerd nie; dit is boonop gevaarlik. Dit het egter so deel van die Suid-Afrikaanse samelewing geword dat dit byna nie raakgesien word nie. Die doel van ons veldtog is om te wys dat die keiser kaal is sodat die situasie genormaliseer kan word,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê.

Solidariteit kla die Suid-Afrikaanse regering by die Internasionale Arbeidsorganisasie aan ingevolge konvensie 111 van die IAO, wat onder meer vereis dat maatreëls vir regstellende aksie regstellend en tydelik van aard moet wees.

In sy klag sê Solidariteit dat die regering se stelsel van rassekwotas nie nierassigheid, soos vereis deur die Grondwet, bevorder nie, maar eerder nuwe rassisme tot gevolg het. Die stelsel het niks met regstelling te doen nie, maar alles met ras en dit lei tot geïnstitusionaliseerde rassisme.

In Solidariteit se klag wat aan die IAO voorgelê word, word ook gemeld dat die huidige stelsel van rassekwotas in Suid-Afrika mense volgens apartheidskategorieë van ras indeel. Mense word dan volgens ʼn wiskundige formule aan die hand van die nasionale rassedemografie bevorder of aangestel. Hierdie wiskundige stelsel ignoreer die regstelling van benadeeldes geheel en al. In sy klag voer Solidariteit aan dat hierdie wiskundige rassestelsel tot gevolg het dat ʼn persoon se reg om ʼn beroep te beoefen, beperk word deur die verteenwoordiging van die spesifieke ras waaraan die persoon behoort.

Oor swart ekonomiese bemagtiging sê Solidariteit dat die stelsel bloot ʼn klein elite-groepie bevoordeel. Die stelsel wat punte aan maatskappye vir rasseaanstellings en -eienaarskap gee, het bloot tot gevolg dat Suid-Afrika verder volgens ras ingedeel word.

Volgens die Solidariteit-klag is dit baie duidelik dat Suid-Afrika se rasseklassifikasiestelsel nie regstelling tot gevolg het nie en permanent van aard is.

“Suid-Afrika laat toe dat rasseklassifikasie al meer in die land geïnstitusionaliseer word. Growwe rassepraktyke word nie net as normaal geag nie, maar wel as noodsaaklik. Iemand moet sê dit is verkeerd. Die norme oor ras in Suid-Afrika is so skeefgetrek dat eksterne waghonde soos die Verenigde Nasies en die Internasionale Arbeidsorganisasie hulle daaroor moet uitspreek,” het Hermann gesê.

Volgens Solidariteit het hy nou alle interne remedieë in Suid-Afrika uitgeput en daarom vra hy nou die IAO om hom daaroor uit te spreek of die Suid-Afrikaanse regering aan die vereistes van konvensie 111 voldoen.

Volgens Hermann is Suid-Afrika deur die Verenigde Nasies en spesifiek die Internasionale Arbeidsorganisasie deel van ʼn groter internasionale gemeenskap en kan die land dus nie in isolasie optree nie. Binne die dissipline van die Verenigde Nasies kom lande ooreen op optrede teenoor hul burgers en teenoor mekaar oor wat billik is. Vir Solidariteit is dit duidelik dat Suid-Afrika, wat regstellende aksie en swart bemagtiging betref, tans buite die internasionale grense van billikheid optree. Die internasionale gemeenskap het ʼn plig om teen die Suid-Afrikaanse regering op te tree.

Solidariteit het ook vroeër die week klagte oor rassisme en die dubbelstandaarde wat geld by die hantering daarvan by die Suid-Afrikaanse parlement en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien.

  • Esmarie Yssel van Pretoria FM doen verslag uit Genève oor Solidariteit se massaklag teen Suid-Afrika se onregverdige rassepraktykte. Luister na Yssel se onderhoud met Hermann bo aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johann ·

Hreat. Dankie. Wow. Whoooopedeeedooodaaa…MAAR; presies hoe het dit ‘n impak op die “regering” se magsbehepte vergrype,, eensydige reëls, blatante diskriminasie, anargie en terroris beleë magsbasis onder n massa wat in toom gehou word met sosiale toelaas, t shirts, kospakkies en voer van leuns oor die geskiedenis? Hoe steur Zuma en sy Zumaikies , die sg top 6 in die ANC , bespotlike sotlikhede soos Malema…hulle aan sulke aanklagte? Wat wou nog uitsprake daaroor teen hulle? In ons eie land vee hulle hulle gatte met blankes se bestaansreg af, selfs NA direkte hof uitsprake teen hulle? Sg demokratiese instellings soos die sirkus genaamd MENSE REGTE KOMMISSIE, kryusig blankes met rassisme volgens hul eie magsgewin, en so kan ek aangaan. Hoe, hoekom sou hierdie “wereld bewusmakings poging (waarvoor ek sakke vol respek en dankbaarheid het), enigsins die psigopatiese vlak van selfaangewese mag en vergrype aanspreek? Ons is gesnoeker mense…met n snoeker stok right up our….

Michael ·

Baie goeie nuus dit is verblydend dat my karige donasie reg aangewend word kan julle dink as elke Afrikaans sprekende ‘n klein donasie gee wat vermag kan word……dankie solidariteit

Magda ·

Ook Lid van Solidariteit – nie groot Donasie nie maar is bly ek behoort aan hulle – Dankie Solidariteti – Hoop julle bereid iets met julle klagtes

Befanus ·

Het die DA dan nie iets soortgelyk ingedien nie?

NEE. NEE, hulle HET NIE!

Toi Toi ·

Ek sit in die oos kaap…..en wens ek kan help…ek dink aan die boere van coligne

lw ·

Al pas die regering regstellende aksie toe tot hul pers in die gesig is, sal die miljoene wat aangewas het deur bevolkingsontploffing nog steeds nie almal werk kry nie. Hul wiskundige formule sal nooit klop in elk geval nie!

Alida ·

Hou net aan. Iewers moet iemand luister. Ek hoop die kwessie van moorde op blankes kry ook aandag.

Riaan ·

(Groot kompliment aan die skrywer – dis die mooiste Afrikaans!)

Welgedaan Solidariteit! Erens moet iemand begin luister en jul beredeneer die saak uitstekend. Dis tyd dat die wêreld én SA besef dat, al wat ons kan beïnvloed, ‘die verkeerdhede van die hede’ is en nie ‘die verkeerdhede van die verlede’ nie.

As die internasionale gemeenskap SA se huidige beleid bly ondersteun is dit net so goed hul keur (bv) n Israeliese aksie goed om 6miljoen Duitsers te vermoor agv wat in die wêreldoorloeë gebeur het.

pietie ·

Die probleem lê by die rasideologie wat wyd en syd in SA gepropageer word en as die enigste benadering deur die massas aanvaar word. Ons sal moet dink hoe ons hierteen kan werk.

Dries ·

Ek is dankbaar om ‘n lid van Solidariteit en Afri-forum te wees

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.