Solidariteit kondig onderwysplan van R400 miljoen aan

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn driejaar-opleidingsplan teen ’n koste van R400 miljoen by sy nasionale kongres in Pretoria aangekondig.

Die aankondiging sluit planne vir privaat Afrikaanse onderwys van laerskool tot universiteitvlak in. Deel van die beplanning behels die oprigting van ʼn nuwe Afrikaanse opleidingskampus wat die tuiste van verskeie opleidingsinstellings sal wees.

Akademia, die eerste been van ʼn volwaardige nuwe privaat Afrikaanse universiteit, gaan radikaal uitgebrei word en verdere ambagte gaan tot Solidariteit se tegniese kollege, Sol-Tech, bygevoeg word. Solidariteit het ook aangekondig dat hy sy studiehulp aan sy lede en hul kinders in die volgende drie jaar tot R60 miljoen gaan uitbrei.

ʼn Nuwe projek wat deur Solidariteit Helpende Hand se skolesentrum aangepak gaan word, is die onwikkeling van ʼn volledige Afrikaanse skoolkurrikulum wat met die nuutste tegnologiese leermiddels ondersteun sal word. Die kurrikulum sal ondersteuning bied vir staatskole en -onderwysers, privaat skole en tuisonderrig.

“Met die koms van die inligtingsekonomie moet vakbonde inligting besit,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê. “Die beste manier waarop vakbonde hul lede in die nuwe ekonomie kan beskerm, is deur kennis. Die rol van vakbonde moet radikaal verander, anders gaan hulle hul relevansie verloor.”

Hermann sê die meeste vakbonde het in die industriële era vasgehaak en raak gefrustreerd en meer radikaal omdat hul invloed besig is om te verklein. “Hulle probeer om in die nuwe ekonomie met ou planne te funksioneer. Met die aankondiging van ons nuwe opleidingsplanne wil ons op die voorpunt wees van kennis en veral wat vakbonde se nuwe rol betref,” het hy bygevoeg.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, beplan Solidariteit nie net vir die volgende kwartaalresultaat, ekonomiese siklus of verkiesing nie, maar vir die volgende geslag. “Die boodskap wat ons vir jongmense wil oordra, is om vir hulle ʼn toekoms in Suid-Afrika oop te leer. Die jongmens wat die kuns van lewenslange leer aanleer, het ʼn lewenslange toekoms. Die grootste voordeel wat ʼn vakbond vir sy lede kan bied, is om hulle met kennis toe te rus,” het Buys gesê.

Hermann het ook gesê dat deur die draer van kennis te wees Solidariteit ʼn instelling word wat inspirasie verteenwoordig. Deur Solidariteit word jy geneem na die toekoms wat jy vir jouself gedroom het.

“Ons wil mense toerus om hier in Suid-Afrika te bly en ʼn bydrae te lewer tot die groei van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Dit is ook ons bydrae om werkloosheid en armoede hok te slaan,” het Hermann gesê.

Deel van Solidariteit se opleidingsplanne is ʼn fokus op wiskunde-onderrig met ʼn Vereniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers, wiskundeklubs by skole en winterskole. Daar word ook beplan om hierdie planne na ander kritieke vakrigtings uit te brei.

Solidariteit het ook aangekondig dat hy deur Solidariteit Helpende Hand groot maatskaplike uitreikprogramme op onderwysgebied ten uitvoer gaan bring. Dit sluit in planne om oor die volgende drie jaar duisende kleuterskole met voedingsprojekte te ondersteun en om 12 000 skooltassies aan behoeftige Afrikaanse leerlinge en miljoene rande se studiehulp aan behoeftige studente beskikbaar te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

nic van rensburg ·

Is dit nou ongelooflik of wat, woorde het ek nie. Mag die projek geseend wees soos nog nooit vantevore nie. Nou is ek eers trots om ‘n lid van Solidariteit te wees.

Belinda ·

Dankie vir ieder en elk van julle, julle is net die BESTE!!!!!!!!!!!!!!!!

Grassie ·

Hierdie is die eerste maal wat ek sien dat ‘n instansie werklik iets groots aanpak wat ongetwyfeld ‘n positiewe bydrae gaan lewer tot die voortbestaan van die Afrikaner in ons land. Dit gaan ‘n nuwe geslag jongelinge voortbring wat slimmer, beter gewalifiseerd en beter opgevoed is as die ander taalgroepe en wat die toets van die tye beter sal kan trotseer. Kennis is mag en as ons jeug kennis opdoen sal hulle nie ondergekry word nie.

Gawie Brits ·

Baie sterkte met jul toekomsplanne. Ek sal julle ondersteun. Julle laat n mens net weer besef dat as jy gaan le en wag gaan jy stef,maar harde werk bring uitkoms.

Johan Venter ·

Ek is baie trots, en nou nog soveel temeer omte kan se dat ek ‘n lid van Solidariteit is. Aan al my mede Afrikaners, sluit aan by Solidariteit – kyk wat doen hulle vir ons mense!!!!

Danie ·

Mese moet asb aansluit by Solidariteit en sy strukture.Die regering het nou sy “tweede oorgang” aangekondig en ook “radikale ekonomiese transformasie”.Regstellende aksie gaan verskerp word,selfs grondonteiening is nou op die agenda.Solidariteit is werklik die enigste organisasie waar Afrikaners kollektief kan saamstaan om hul regte te verdedig.Dis of n kwessie van saamstaan of gaan onder.Ek persoonlik het aftrekorders vir Solidariteit,Afriforum en Helpende Hand,en voel baie trots om n bydrae te lewer.Niks kom verniet nie,almal wat kan moet asb aansluit.

Amanda de Winnaar ·

Fantastiese inisiatief, baie bemoedigend. Alle sterkte!

Dirkie Burmeister ·

Dankie vir die goeie werk.Waar kry ek hulp vir my dogter wat werkloos is en nie verder kan studeer nie.Syt verlede jaar met universiteittoelating geslaag.

Danie ·

@Elizma.n Mens kan net Afriforum kontak en enige bedrag gee,dis jou eie keuse.Net wat jy kan bekostig.Ek behoort ook aan Solidariteit ,dis so R90 per maand,en daar is heelwat voordele daaraan verbonde,soos n begrafnisplan en regsverteenwoordiging.

Danie ·

@Elizma.Daar is geen spesifieke bedrag by Afriforum nie,net wat jy kan bekostig.Ek betaal so R90 by Solidariteit self,en dit sluit baie voordele in,soos n begrafnisplan en regsverteenwoordiging.

Leonard van der Dussen ·

Word daar met ‘n “volledige Afrikaanse skoolkurrikulum” iets bedoel wat werklik ‘n selfstandige kurrikulum is, of gaan daar net nog weer leermateriaal (weliswaar met meer moderne metode en inslag) op die staatskurrikulum geplaas word? Die woord “kurrikulum” word op ‘n baie los manier gebruik in aankondigings soos hierdie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.