Solidariteit kry mandaat vir Sasol-staking

Sasol se Secunda-aanleg. Foto: Jóhni Steenkamp

Solidariteit sal binnekort met ʼn stakingsreferendum onder die vakbond se duisende lede by Sasol begin om die besonderhede van die komende staking te finaliseer nadat die vakbond ʼn stakingsmandaat by sy lede gekry het.

Dit volg nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) vroeër ʼn sertifikaat aan Solidariteit toegestaan het wat sy lede in staat stel om wettig te staak nadat die vakbond nie ʼn ooreenkoms met Sasol kon bereik oor dié maatskappy se omstrede bemagtigingskema, Khanyisa, nie.

Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregdienste by Solidariteit, het aan Maroela Media gesê die stakingsreferendum behels dat verteenwoordigers van Solidariteit met hul lede in gesprek sal tree om te besluit wanneer die staking gaan plaasvind, hoe lank dit gaan duur, wat tydens die staking gaan gebeur, en so meer.

“Ons is nog nie seker wanneer die staking sal begin of hoe lank dit sal duur nie – dit is iets wat ons lede moet bepaal. Die staking sal egter landwyd wees en beslis nie net by Sasol se hoofkantoor [in Sandton] nie,” het Van der Bijl gesê. “Ons lede sal vir ons sê wat hul behoefte is met hierdie staking en hoe hulle dit graag wil hanteer.”

Hy het ook bevestig dat verteenwoordigers van Solidariteit vandag met Sasol sal vergader rakende die voorwaardes van sigbare protesaksie tydens die staking.

Solidariteit het ongeveer 6 300 lede by Sasol.

Die staking volg nadat Sasol einde verlede jaar bekendgemaak het dat sy toe bestaande werknemerbemagtigingskema, Inzalo, wat op 18 Mei vanjaar ten einde geloop het, vervang gaan word met ʼn nuwe bemagtigingskema, genaamd Khanyisa. Dié werknemer-aandeletransaksie maak egter glad nie voorsiening vir wit werknemers nie.

Solidariteit het ʼn dispuut by die KVBA aangeteken en aangevoer wit werknemers mag staak om soortgelyke voordele te bekom. Die KVBA het einde Mei bevind dat Solidariteit se dispuut as ʼn saak van gemeenskaplike belang geklassifiseer en dus verder deur die KVBA ondersoek moet word. Solidariteitlede is kort daarna amptelik toestemming gegee om wettig te staak.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het vroeër verduidelik dat Khanyisa wesenlik beteken dat ʼn wit werknemer wat al 38 jaar lank by Sasol werk, geen voordeel uit die skema sal ontvang nie, terwyl ʼn swart werknemer wat pas uit universiteit kom en byvoorbeeld net drie dae lank by Sasol werk, met aandele van R500 000 beloon sal word. “Die enigste verskil tussen die twee werknemers is die kleur van hul vel. Ons lid wat 38 jaar lank gehelp het om Sasol op te bou, kry niks vir sy lojale diens nie. Die skema is absoluut absurd,” het Hermann gesê.

Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, het Woensdag gesê dié staking sal die eerste keer wees dat wit werkers in Suid-Afrika staak weens rasuitsluiting. “Volgens die konsepmynbouhandves moet personeelaandeleskemas inklusief wees, ongeag ras. Sasol se skema staan lynreg teen die handves asook die algemene praktyk rakende bemagtigingskemas,” het Kruger gesê.

“ʼn Stelsel wat gewone werknemers op grond van ras verdeel, is ʼn resep vir rassespanning. Dié spanning is al merkbaar teenwoordig by Sasol.”

Sasol het verlede maand in ʼn brief aan sy werknemers gesê die maatskappy het ʼn “etiese verpligting” om beslissende stappe te doen om die ongeregtigheid van die verlede aan te spreek. “Transformasie, in die vorm van aandeelhouding in Sasol Suid-Afrika deur voorheen benadeelde groepe, is ʼn belangrike etiese, maatskaplike en sake-noodsaaklikheid vir Sasol.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Minderheid ·

Die probleem met ‘n geteikende minderheid wat staak is dat hulle dalk net verder teen gediskrimineer kan word. Die voordeel is dat die minderheid juis die is wat die kundigste is en seker die meerderheid van die werk doen.

Rudi Raaths ·

Solidariteit se eis moet wees dat ALLE werknemers die voorgestelde Khanyisa vergoeding kry. Indien hulle dan enige verdere agterstand wat party agtergeblewenis mag hê wil opvang, moet dit addisioneel aan diesulkes eenmalig gegee word. Agterstande kan nie herhaaldelik opgevang word nie, erens moet ons mos nou gelyk word.
As hulle dit nie kan bekostig nie, dan kry niemand niks, finish en klaar.

Topster ·

As dit nie diskriminasie teen die blanke is nie dan weet ek nie wat dit is nie

wraggies ·

Ek hoop die staking lê vir Sasol lam, dis ‘n rasistiese beleid.

Janneman ·

Is daar nog iemand wat wil staak? Eskom, SASSA, Uber, Telkom en poskantoor almal staak al. Kom mense, gaan vir goud!

Marius ·

Dit is wat al die groot maatskappye nou doen wat deur die meerderheid blankes opgebou was van niks nou draai hulle,hulle rue op ons omdat ons die minderheid is kry vir julle Sasol.

Gert ·

Blaas op al die Sasol aanlegte en kyk of die regering dit weer kan herbou!!

Erwin ·

Baie onregverdig en rassisties, staak solank as julle kan. Sasol moet volgende val. Sasol mustfall#

Annie ·

Ek sit nou net en wonder gaan die wittes nou vir eens en altyd oor iets kan saamstaan of gaan ons maar op die kantlyn (soos altyd) sit en maak of dit nie werklik ons probleem is nie… of gaan ons bietjie ruggraat kry en saam met die wit werkers staak deur nie ons motors by Sasol vol te maak nie… sit ek nou lekker en wonder…

Rerig??? ·

Gelukkig het ons nie eens n Sasol stasie in ons dorp nie en ja, net soos ek nooit ooit weer by WW gekoop het of sal koop nie, en so ook Spur en nou is Sasol op my lysie ook.
Net jammer familie werk daar en ja, ek hoop hy staak want dan kan hy kwaliteit tyd aan sy gesin spandeer. Hy is amper nooit by die huis nie.

Vernon ·

Ek werk nou wel nie by Sasol nie maar sal daai tydperk wat hul staak verby hul petrolstasies ry.

chrisjan ·

Waarom net vir die tydperk as hulle staak?Ek het 30 jaar gelede laas by ‘n Sasol pomp ingegooi en sal NOOIT weer nie.Hulle kan Sasol toemaak .Ek het Sasol nie nodig nie.

Coen ·

Ek kry n korting by ABSA as ek brandstof by sasol koop. Hulle kan dit maar hou

Beyers Alberts ·

Die tyd toe ons die inzalu aandele gekry het, het hulle gese ons kan dit na tien jaar verkoop .Nou na due tien jaar verby is het hulle die inzalu sommer netso totniet gemaak,sonder dat ons n keuse gehad het om ons aandele te verkoop.Hoe duisende rande het ons nie verloor nie.Wat gaanaan hierdie saak gedoen word.

Peet ·

Ag foeitog!! Die wonderlike polities korrekte organisasie. Dit het niks met sake noodsaaklikheid te doen nie, maar eerder ‘n beheptheid met “window dressing”. Sterkte met die staking.

jaco ·

lekker staak die mense WAT REEDS WERK het. Dis amper n “voorreg” vir n wit mens in SA om werk te hê en dan loop staak hierdie wit lede van Solidariteit. As SASOL eendag moet personeel verminder om watter rede ook al, word hierdie wit mense EERSTE afgedank.
As jy wit is en jy het werk, Sê DAN 100 MAAL PER DAG, sommer so terwyl jy werk, vir die liewe Vader in die hemel DANKIE dat jy wel werk het, en AANVAAR jou werksomstandighede, salaris ens ens. Glo my, ek weet waarvan ek praat van wat gebeur as jy eers uit die arbeidsmark is. Dis HEL om dan weer werk te kry, want oral kry jy die regstellende aksie en BEE redes oor waarom daar nie werk vir jou is nie.
Dis sulke optredes van wit vakbonde wat uiteindelik daartoe lei dat goed gesê word soos “alle wit mense is mos so” en dan word ALLE wit mense gestraf oor die onnadenkende optrede van ‘n minderheid wit mense wat nie met die bietjie wat hulle wel het tevrede is nie. Uiteindelik verloor alle wit mense dan alles wat hulle het.

Chris Ws ·

Ek dink Sasol moet voor die hof gedaag word oor “apartheid” en rassisme.AfriForum waar is julle?????

Louis ·

Om op die kantlyn te staan en te hoop vir die beste sal niks help dis hoekom daar reeds so baie blankes sonder werk is om op die kantlyn te staan dink jy net aan jouself en nie aan jou kinders of aan ander banke werkers of moet almal net wag tot dit jou beurt is om weggewys te word

Herman ·

Tipies weer ‘n bewys van die “Animal Farm” effek. Almal is gelyk maar ander meer gelyk as ander..
Jy kan nie kapitaal groei deur dit te verdeel nie. As iemand heeltyd ‘n deel wil he waarvan jy opbou, gaan jy mos ook nie meer vir opbou nie of hoe? Die verval van enige ekonomie onder sosilalisme/kommunisme

Ella ·

Ja Sasol en net jammer julle Inzalo vonds het ewe skielik bankrot gespeel net voor die mense wat aandele gekry het uitbetaal moes word. So toe kry hulle in elk geval nie `n sent nie. Ek weet wat kan julle met die wortel doen wat julle voor al die werkers se neuse gehou het….

Hendrik ·

Dalk en dis n skrale dalk, kan ons boere wat diesel en verwante produkte deur 3de party kunsmis produsente ook by die boikot en staking aansluit? Boere om kunsmis vervaardigers te dwing om alternatief as Sasol te gebruik in hul produksie ketting. Helaas dink ek ons lot is dat elkeen op sy eie probeer oorleef/of eerder net bestaan. Ons is so bang om geteiken te word, terwyl die waarheid is dat ons klaar almal die einde in die gesig staar. Geniet die paar dae, maande wat jy nog werk het, dis van korte duur.

bgj van der westhuizen ·

of hulle staak of nie die wit mense se werk by sasol gaan in elke geval minder word dit is tyd dat ons saam staan en ook wit mense wat nie vir sasol werk geen produkte koop wat deur hulle vervaardig word nie as eimand weet watter produkte deur sasol gemaak word sit dit in facebook dat ons die selde kan doen as met spur ons moet begin om die volgende te doen kom die wit man te na kom ons jou maatskapy te na ons hou sasol jy was gebou met die wit man se belasting geld

Piet Pompies ·

Sasol het sy ontstaan te danke aan geld wat Sasol werknemers addisioneel as belasting op hulle salaris laat aftrek het. Hierdie belasting geld is gebruik vir die ontwikkeling en oprigting van steenkool tot brandstof proses. Hoekom word die sukses hiervan nou net met sekere werknemers gedeel. My oorlede pa het vir Sasol gewerk .

Hendrik ·

Solank SASOL diskrimineer teen sy wit werknemers ten opsigte van sy vergoedingspakket, so lank sal ek nie sy vulstasies gebruik nie. Nie eens om ‘n brood te koop nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.