Solidariteit lê klag teen minister van kleinsakeontwikkeling  

Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Solidariteit het Maandag ʼn strafregtelike klag teen die minister van kleinsakeontwikkeling, Khumbudzo Ntshavheni, by die Lyttelton-polisiestasie in Centurion gelê.

Die klag sluit onder meer meineed in. Dié stap volg nadat die minister onder eed in hofstukke aan Solidariteit onderneem het dat ras nie ’n rol speel as maatstaf vir hulp aan kleinsakeondernemings nie.

“Ons kan ’n minister wat jok in hofstukke nie net los nie. Dit sal ’n bespotting van die regsproses maak. Solidariteit het ’n hofsaak teen die minister en haar departement teruggetrek op grond van [haar versekering] wat sy onder eed onderneem het,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Solidariteit het op 25 Maart klagte teen die departemente van kleinsakeontwikkeling en toerisme by die Menseregtekommissie ingedien nadat albei departemente aangedui het dat hulle swart ekonomiese bemagtiging (SEB) as vereiste gaan voorhou vir die kwalifisering van noodfondse. In reaksie het die departement van kleinsakeontwikkeling onder eed verseker dat dit nie die geval is nie. Gevolglik het Solidariteit nie met die hofsaak teen dié departement voortgegaan nie. Die saak teen die departement van toerisme is op 28 April in die Noord-Gautengse hooggeregshof aangehoor. Die hof het intussen beslis die departement van toerisme mág ras as maatstaaf gebruik in die toekenning van noodfondse.

Solidariteit bestuurshoof dr. Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

“Op die dag wat die hofsaak teen die departement van toerisme geëindig het, het die minister van kleinsakeontwikkeling weer haar storie verander,” sê Hermann.

Tydens ’n portefeuljekomiteevergadering wat op 28 April plaasgevind het, het Ntshavheni erken dat SEB inderdaad ’n vereiste vir kleinsakeondernemings is om vir noodfondse te kwalifiseer, wat die hofstukke wat aan Solidariteit oorhandig is, weerspreek. Op 29 April het Solidariteit in ’n skrywe aan die minister daarop aangedring dat noodfondse nie op grond van ras toegeken sal word nie. Solidariteit is van mening dat hy geen ander keuse het as om voort te gaan met ’n strafregtelike klag nie.

“Die toekenning van hulp op grond van ras is steeds bisar. Ons gaan dit nie hier los nie. Ons het ʼn kriminele klag teen die minister gelê. Ons gaan ook dringend na die Konstitusionele Hof appelleer en ’n klag by die Verenigde Nasies se komitee oor die uitskakeling van rassediskriminasie lê. Sakeondernemings ly, mense is in nood, maar al wat die regering sien, is jou velkleur. Hierteen sal ons sonder ophou veg,” sê Hermann.

John Steenhuisen. (Foto: Facebook)

Die DA het ook Donderdag aangedui hy gaan voort met regstappe teen die departement van kleinsakeontwikkeling oor dieselfde kwessie.

“Die DA het sy prokureurs opdrag gegee om voort te gaan met ʼn dringende aansoek in die hooggeregshof om te verhoed dat die onwetlike gebruik van swart bemagtiging, ras, geslag, ouderdom of gestremdheid as kriteria gebruik word in die toekenning van hulpfondse,” het John Steenhuisen, die DA-leier, gesê.

Steenhuisen sê die party se aansoek verskil van dié van Solidariteit in dat die DA verligting teen alle vorm van diskriminasie, eerder as net ras, soek en dit ook nie net op een regeringsdepartement gemik is nie, maar alle sektore van die ekonomie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frans

Sterkte dit kani net so gelos word nie

JohanR

Lekker Solidariteit….RY HULLE!

Willem

Hou duim vas vir julle

Fedup

To solodarity, the da and vf, for 5 weeks everything in this country went for a bowl of, you know what. Now everyone want to jump in a pool of sueing and dragging their feet to get to the pont. Either all of you get a judge with brains or make sure the one who drew the shortest straw, actually know the law. Talking will never solve any problems. We as south africans cannot go on like this. We can always sort this out our own way.

Louwrens

Gaan niks van die saak kom nie.