Solidariteit lê voorstelle vir ‘slim’ afsondering aan Ramaphosa voor

Pres. Cyril Ramaphosa en minister Zweli Mkhize by The Ranch Hotel in Polokwane. (Foto: Elmond Jiyane)

Solidariteit het die naweek in ʼn voorlegging aan pres. Cyril Ramaphosa ʼn aantal voorstelle voorgelê oor hoe die regulasies vir algemene afsondering aangepas behoort te word om meer ekonomiese vryheid en volhoubaarheid te verseker.

Dit kom nadat die president die tydperk vir algehele afsondering met twee weke tot einde April verleng het.

“Inperkings in die huidige formaat gaan ’n inploffing in die ekonomie veroorsaak. In die lig hiervan het die vakbond Solidariteit die naweek omvattende voorstelle aan president Ramaphosa en tersaaklike ministers gemaak oor moontlike veranderinge aan die inperkingsmaatreëls,” sê Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut (SNI).

Die ministers sluit in die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, Gwede Mantashe, minister van minerale en energie, dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en Thulas Nxesi, minister van arbeid.

Die voorstelle behels die wysiging van regulasies wat hoofsaaklik ten doel sal hê om die risiko vir Covid-19 in die werkplek te minimaliseer en afsondering tot bepaalde hoërisikogebiede te beperk. Pres. Ramaphosa het Saterdagaand ontvangs van die voorstelle erken.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die vakbond het ook reeds die afgelope week met van die ministers, ministeriële adviseurs en prominente sakelui oor die regulasies in gesprek getree en tot dusver ʼn “positiewe oor” gekry.

Die vakbond sal ook in die komende week die voorstelle aan verskeie ander rolspelers voorhou. Dit sluit in vakbonde soos Cosatu, Numsa en Amcu, asook mynhuise, Sasol en ArcelorMittal. “Die doel van die konsultasie is om raakpunte met ander rolspelers te identifiseer, maar dan gesamentlike oplossings te probeer vind waar verskille bestaan,” sê Hermann.

Volgens Hermann kan voortgesette inperkings in sy huidige formaat ’n kokende pot veroorsaak wat tot gevolg kan hê dat inperkings ongedissiplineerd verbreek word, wat groot druk op veiligheidsmagte, stabiliteit en die stryd teen die virus kan plaas.

In sy memorandum aan die president maak Solidariteit voorstelle vir “slim” inperkingsmaatreëls sodat Suid-Afrikaners gesond kan leef en werk, terwyl die koronavirus onverskrokke beveg word.

Meer as 1 800 Suid-Afrikaners het insette gelewer in die ontwikkeling van die voorstelle deur Solidariteit.

In die memorandum sê Solidariteit dat alles moontlik gedoen moet word om Suid-Afrika se werkers en entrepreneurs in staat te stel om ’n inkomste te verdien sodat kwesbare en eensame burgers in Suid-Afrika beskerm kan word, terwyl vrede en stabiliteit gehandhaaf word.

Weermaglede word ontplooi om die verspreiding van Covid-19 te help beperk. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

“Solidariteit begryp dat drastiese ingrypings nodig is in die stryd teen Covid-19 aangesien baie Suid-Afrikaners se immuniteitstelsel nie in staat is om die virus te beveg nie […] Ons moet egter ook verseker dat die lewensbestaan van miljoene werkers beveilig word,” lui die memorandum.

Solidariteit stel ʼn reeks omvattende maatreëls voor om te verseker dat mense gesond kan werk. Hierdie maatreëls sluit in:

  • Streng higiëniese regulasies in die werkplek
  • Die aankoop en gebruik van beskermende toerusting
  • Reëls aangaande sosiale afstand
  • Die uitvoer van daaglikse risiko-analise by werkplekke
  • Die geleidelike terugkeer van werknemers na die werkplek
  • Die regulering van die aantal werkers op kantoor deur byvoorbeeld werksure te verander of werkers in skofte in te deel.

‘n Polisiebeampte gaan ‘n motoris se besonderhede in Kaapstad na. (Foto: Nardus Engelbrecht, AP)

Solidariteit stel ook voor dat inperkings op bepaalde risikogebiede fokus. “Internasionale voorbeelde soos die VSA, Italië en China het gewys dat die virus veral in sekere dele gekonsentreer is. Indien inperkings op risikogebiede fokus, kan mediese, maatskaplike, veiligheid- en ander hulpbronne veral op dié gebiede gefokus word. Mense in ander gebiede kan met meer vryheid rondbeweeg om hulle in staat te stel om deel te neem aan ekonomiese en sosiale geleenthede soos begrafnisse en troues,” lui die memorandum.

Solidariteit stel voor dat dié gebiede volgens munisipale grense of distrikte binne metro’s bepaal word. Vervoer van nie-noodsaaklike goedere sal meer vrylik buite hoërisikogebiede kan plaasvind en polisiemagte kan tot die gebiede beperk word, wat ook minder druk op die polisie se beperkte kapasiteit plaas.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is dit nodig dat daar ’n skuif gemaak word vanaf slegs noodsaaklike werkers na almal wat gesond kan werk. “Die keuse is nie tussen gesondheid en werk nie, maar vir gesonde werk vir soveel as moontlik mense.”

Hermann sê die koronavirus gaan nog lank met Suid-Afrikaners wees. “Ons sal ’n volhoubare antwoord vir gesonde werk moet kry. Ons moet onverskrokke teen die virus en onverskrokke vir die ekonomie wees om die langtermynuitwerking op sowel gesondheid as die ekonomie te beperk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cecil

Ons moet maar almal help waar ons kan, maar wie gaan al die maatreels bestuur en kyk dat dit wel toegepas word. Wie gaan toesien dat inwoners in beperkte gebiede wel daar sal bly. In ander gebiede kan mense rond beweeg en is dit so gou soos nou en inwoners van beperkte gebiede/risiko gebiede sal in die nie risiko gebiede wees. Almal sal gaan waar daar werk en kos is. n Baie groot persentasie van die inwoners in die risiko gebiede is in elk geval werksaam in die nie risiko gebiede.

Yvonne

Ons bid dat daar met wysheid en insig opgetree sal word

Piet

Dankie Solidariteit.

Die Wolf

Ten minste probeer Solidariteit. Ek dink nie daar is iemand in die regering wat met n plan vorendag kan kom nie. Indien daar nie nou proaktief opgetree word nie, is depressie en onrus ons voorland. Dit klink vir my dat voorstelle slegs van een groep kom, terwyl die ander op die regering se finansiele rug wil ry. Of van die voorstelle wel gebruik gaan word is n ander vraag.

Michael 1

Hier kom n onafhanklike organisasie soos solidariteit met n meer praktiese oplossing as die regering, dit beaam net weer as ons n onafhanklike tuisland kry met bevoegde leiers hoe great sal almal wat moeg is vir die land soos hy huidig is nie lewe nie.(land vir almal wit,swart )