Solidariteit-lid ernstig beseer ná aanval deur stakers

Argieffoto

Argieffoto

‘n Lid van die vakbond Solidariteit is Donderdag by die motoronderdeelvervaardiger Autocast in Port-Elizabeth erg deur stakers aangeval.

“Die reg om te staak sluit nie die reg op geweld in nie,” het Marius Croucamp, bedryfshoof van Solidariteit se metaal- en ingenieursbedryf, in reaksie op die aanval gesê.

Croucamp sê die lid is met knopkieries geslaan en is daar is glo op sy kop gespring. “Hy het ernstige hoofbeserings opgedoen en is per ambulans hospitaal toe geneem.”

Solidariteit het die voorval skriftelik by die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, aangemeld en versoek dat daar dringend en sonder skroom teen gewelddadige stakers opgetree moet word.

“Gewelddadige optrede in die naam van ’n staking is onverskoonbaar. Persone wat niestakende werkers aanval en bedreig, behoort met die volle mag van die gereg as kriminele vervolg te word,” het Croucamp gesê.

Solidariteit sê hy het in die afgelope dae, sedert die staking Dinsdag ʼn aanvang geneem het, verskeie klagtes van geweld en intimidasie teen sy lede regoor die land ontvang.

“Op verskeie plekke het die staking in kriminaliteit verval. Oortreders bestook voertuie en geboue met klippe en verskeie niestakers is al in die proses beseer. Ons organiseerders hou die situasie fyn dop en sal voortgaan om alle gevalle van geweld en intimidasie teen ons lede op te volg,” sê Croucamp.

Croucamp sê Solidariteit het sy organiseerders opdrag gegee om dringend verdere beveiligingsmoontlikhede by tersaaklike werksplekke te ondersoek.

“Solidariteit sal voortgaan om toekomstige voorvalle van geweld en intimidasie onder werkgewers se aandag te bring en polisievervolging daarvan aan te moedig. Dis onaanvaarbaar dat kriminele aktiwiteite onder die dekmantel van ’n staking uitgevoer word,” sê Croucamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.