Solidariteit loods nuwe veldtog teen rassediskriminasie

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit gaan ʼn massa-klag teen die rasvergrype van die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies (VN) se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie (CERD) lê. Met dié doel voor oë het die vakbond Donderdag ʼn veldtog geloods om soveel moontlik Suid-Afrikaners te kry om ʼn protesbrief te onderteken, wat aan die klag geheg sal word. Solidariteit hoop om meer as 100 000 handtekeninge in te vorder.

“Die land het ʼn nuwe raslaagtepunt bereik toe die staat besluit het dat wit mense nie hulp tydens die Covid-19-krisis mag kry nie – pandemiehulp wat slegs op grond van ras toegeken word. As ons nie eers in ʼn krisis op die staat kan staatmaak nie bloot omdat ons wit is, wanneer sal ons dan kan?” vra dr. Dirk Herman, bestuurshoof van Solidariteit.

Solidariteit het op 25 Maart ’n klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien toe dit aan die lig gekom het dat die departement van toerisme daarop aandring om die vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) te gebruik met die toewysing van hulpfondse. Hulppakkette word tans aan toerismeondernemings gebied wat weens die Covid-19-krisis sukkel om kop bo water te hou.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Hermann wys daarop dat Suid-Afrika die mees rasgereguleerde land ter wêreld is. “Vir alles is daar ʼn rassewet. Daar is ras as jy wil studeer, ras as jy finansiële studiehulp nodig het, ras as jy wil rugby, krieket of netbal speel, ras as jy wil sake doen, ras as jy werk en ras as jy aansoek doen vir bevordering.

“Obsessiewe rassetransformasie sit ons ligte af, maak SAL bankrot, maak mense dood in staatshospitale en dompel munisipaliteite in die skuld. Rasbeskuldigings is aan die orde van die dag. Rasseherries bars los om onskuldige mense se koppe,” sê Hermann.

Om ʼn klag by die VN te lê, moet al die plaaslike roetes in die land, wat politieke gesprekke en die nodige regsroetes insluit, eers gevolg word. “Solidariteit het al ver op die regspad gevorder. Ons moet egter ook politieke gesprek eis. Om suksesvol daarmee te wees, moet ons kan wys dat massas mense gesprek met die regering eis,” sê Hermann.

Daarom het die vakbond ʼn protesbrief opgestel wat nou deur soveel moontlik Suid-Afrikaanse burgers onderteken moet word. Solidariteit eis in dié protesbrief ʼn gesprek met Ramaphosa, steun hofsake teen rasvergrype en maak ook sy voorneme bekend om ʼn klag by die VN in te dien.

“Ek is die eerste ondertekenaar van ʼn protesbrief teen rasvergrype, nie net as bestuurshoof van Solidariteit nie, maar as ʼn pa van vier dogters en as burger van hierdie land.

“Ek wil jou vra om dit saam met my en duisende ander te doen. Versprei hierdie skrywe so wyd as moontlik.”

Kliek hier om die protesbrief te onderteken.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Antoinette

Wanneer gaan die regering besef dat om suksesvol te regeer, kwaliteit belangriker is as kwantiteit? Geen wonder die land is in so ‘n gemors nie.

Pieter

Ons betaal baie belasting, maar kry basies niks terug of waarde vir geld nie. Ondersoek ‘n metode om belastingaftrekkings te maak vir ‘n volkseie noodhulpfonds.

Die Sekretaris-generaal van die VN is ‘n uitgesproke ANC en Mandela ondersteuner. Sal interessant wees om sy optrede te bestudeer.

Lorna

Hoop witmense gaan nou besef hul moet ophou om so guldelik uit te deel
Geen net vir witmense

Persheks Adri

Ons is altyd TE wit, maar ons geld help die land aan die gang hou! Wat doen die regering? Als is apartheid se skuld of Covid! Bou ‘n brug en kom daaroor!

houopkruip

Ek bly verstom staan oor die feit dat ons niks of min hoor van invloedryke mense (Rupert, Bekker, Vosloo, Wiese, Basson, Mouton, ens, ens, ens) oor plaasmoorde en ander onreg in die land nie.
Ons hoor wel van miljarde en miljarde rande wat geskenk word aan bv staats en/of ANC ondersteunde organisasies (maar wat van Solidariteit, Afriforum, ens, ens, ens ?)