‘Solidariteit maak kulturele vryheid ʼn werklikheid’  

flip-buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Die regering se miskenning van grondwetlike taal- en kulturele ruimtes is ʼn verbreking van die 1994-skikking. Dit is die mening van Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Buys het gepraat by ʼn beraad van die FW de Klerk-stigting oor die toekoms van multikulturalisme in Suid-Afrika.

Regter Albie Sachs, Mathews Phosa, Rhoda Kadalie en oudpres. FW de Klerk het ook opgetree by die geleentheid wat in samewerking met die Duitse Konrad Adenauer-stigting aangebied is.

Buys het gesê die ANC probeer om die multikulturele werklikheid van die land op grond van hul monokulturele ideologie te omskep. Dit veroorsaak ʼn groeiende gaping tussen grondwetlike en politieke ruimtes vir taal- en kultuurgemeenskappe. “Die ANC se verskraling van nasionale eenheid tot inlywing by die meerderheid is ʼn aantasting van groepe soos die Afrikaners se reg op vryheid, gelykheid en menswaardigheid…. Dit het reeds tot onherstelbare skade aan Afrikaners se grondliggende regte en belange gelei,” het Buys gesê.

Hy het beklemtoon dat die ANC monokulturalisme op Suid-Afrika wil afdwing, téén die wêreldneiging na multikulturalisme. Volgens Buys is die grootste vraagstuk waarmee die wêreld te kampe het hoe om die verhoudinge tussen verskillende gemeenskappe te reguleer. “Daarteenoor probeer die ANC deur sosiale ingenieurswese verskillende groepe in een nasie indwing”.

Die ANC se ideologie van transformasie waarvolgens alles in die land verteenwoordigend van die bevolkingsamestelling moet wees, beteken dat elke deel van minderhede se lewens deur die meerderheid beheer moet word. “Dit is ondemokraties en ongrondwetlik as ‘n party selfs met net 51% van die stemme oor 100% van die mag beskik,” het Buys gesê.

Hy het kulturele vryheid as oplossing vir die glybaan na monokulturalisme voorgestel, ingevolge riglyne van die Verenigde Nasies oor oplossings vir multikulturele lande. “Demokrasie sonder kulturele vryheid vir minderhede beteken demokrasie net vir die meerderheid,” het Buys gesê. Daarom sal Solidariteit alle grondwetlike ruimtes benut om kulturele vryheid te verwesenlik.

Hy het die noodsaaklike rol van gemeenskapsorganisasies in die bevordering van kulturele vryheid beklemtoon en gesê dit kan in werking gestel word deur kulturele skikkings met die regering, ʼn handves van kulturele regte, of deur sterk selfdoen-instellings soos die Solidariteit Beweging wat byvoorbeeld Akademia tot ʼn wêreldklas-universiteit gaan uitbou.

Hy het benadruk dat hoewel Solidariteit bereid bly om met die regering oor knelpunte te praat, hulle nie gaan wag vir toestemming om praktiese oplossings te skep nie. “Ons bly daartoe verbind om ʼn toekoms te skep waar Afrikaners ook blywend vry, veilig en voorspoedig kan leef, tot voordeel van die land en al sy mense.”

Lees volledige toespraak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Theo ·

Doen so voort Flip. Julle doen goeie werk in moeilike omstandighede.

Spokie ·

Theo, jy kon dit nie beter stel nie. Ons weet reeds wie die “meerderheid” is en dat ons kanse op oorwinning baie skraler is. Ons AFRIKANERS wil inderdaad ook vry en veilig voel in ons eie land. Ons het van die pragtigste dele in die land, maar mens is te bang om jou huis te verlaat want ons voel nêrens meer veilig nie. Nie eens meer by die kampplekke om net ‘n bietjie te gaan rus vir ‘n naweek se wegbreek nie. Ons Afrikaners KAN saamstaan soos nou weer bewys is met die waterkrisis en hulp van ons eie mense. Ons almal in die land kan weer saamstaan, maar ons word om elke hoek en draai geblok of ge-intimideer. Solidariteit en Mnr Buys, DOEN SO VOORT!!!!!

jakes ·

FLIP BUYS- so na foto bo berig kyk sien ek jy het selfde sindroom as ek. ALS fout in die land en elke dag word ‘n paar DOENERS ‘n jaar ouer weens stres. DIE RES tik kommentaar, prys, loof en is dankbaar al DOEN hulself NIKS vir Die Beweging. DANKIE vir jou en alle lede. PRATERS, sluit aan.

Spokie ·

Jakes, jou kommentaar is absoluut ongevraag om so ‘n aanmerking te maak op “twee” mense se kommentaar. Wil net vir jou inlig dat ek reeds ‘n trotse lid is van Solidariteit-beweging en net soveel DOEN wat ek kan om my mede-Afrikaner help. Is jy dalk ook een van die PRATERS????????????? Vra maar net.

Fanie ·

Aan: ‘Kort en kragtig’
Jy gebruik nou seker hierdie skuilnaam omdat jou gewone ekstremistiese kommintaar verwyder moes word om Maroela nie onnodig bloot te stel nie. Mense soos jy vergiftig die Internasionaal erkende reg op Selfbeskikking met so ‘n rassistiese inhoud, dat almal daarvan moet vlug soos ‘n aansteeklike siekte. Miskien moet Maroela Flip Buys se stuk oor ‘Wie en wat ‘n Afrikaner is’ weer opsit dat mense deur jou skinderstories kan sien. Dit help nie om téén alles maar vír niks te wees nie.

Kort-en-kragtig ·

Wat op dees aarde is so “ekstremisties” aan my vorige kommentaar? Ek het bloot ʼn objektiewe feit met mense gedeel en hulle boonop verwys na die inhoud in Flip se artikel. Waarom beskou jy my verwysing na feite as “skinderstories”? Is julle nog steeds skaam vir die inhoud daarvan? Dis hoog tyd dat iemand julle misleiding blootstel!!

Martie ·

Is die Volksmoord nie ook n verbreking van die 1994 skikking nie?

Dr. Amari. ·

As Flip se mening reg is (en ek stem saam met hom) dat “die ANC se verskraling van nasionale eenheid tot inlywing by die meerderheid ‘n aantasting van groepe soos die Afrikaners se reg op Vryheid, gelykheid en menswaardigheid” is.

Dit wil dus voorkom of die ANC poog om die Afrikaner se totale kultuur te verander. Kultuur sluit egter nie net uitwendige of sigbare dinge en gebruike in nie. Dit behels ook ‘n dieper vlak, wat minder sigbaar is en moeilik verander, naamlik waardes.

‘n Groot probleem is dan nou ook dat die s.g. verandering van ‘n minderheid se kultuur deur ‘n proses van botsing kan plaasvind – tussen die wat verandering wil afdwing en die wat nie dieselfde pad van verandering wil loop nie.

Ek sien groot probleme.

Gert ·

Martie, weet jy wat is ‘n Volksmoord? Ek begryp jou emosie, maar dis nie die waarheid nie. Dis Konsentrasiekampe soos toe die Engelse 10% Boere vd 2 Republieke uitgewis het. Plaasmoorde is verskriklik, maar nog nie Volksmoord nie. Bewerings van ‘n huidige Volksmoord maak die Britse Volksmoord en Konsentrasiekampe goedkoop, en benadeel die stryd teen Plaasmoorde omdat dit nie geloofwaardig is nie.

Kort-en-kragtig ·

Ek wag nog steeds vir ‘n behoorlike antwoord vanaf die “Fanie”-vent nadat hy my van “rassisme” beskuldig het!!!

Oom Boer ·

Dankie aan Solidariteit en ook in besonders aan Mnr. Flip Buys vir jul bydrae en harde werk daagliks tot erkenning en die ophef om die Afrikaanse taal, kultuur, geloof, die geskiedenis ens
behoue te laat bly. Ek is ‘n trotse Afriforum/Solidaritei lid vir vele jare. Dankie aan elke Suid Afrikaner oud en jonk wat met trots opstaan en hul kuluur verteenwoordig. Mag GOD jul elke dag dra en Seen met jul verteenwoordiging op elke vlak wat die nodige meriete gegrond is. Jong mense ons ouer gardes se blus is al amper uit maar asb staan op vir onse kultuur en red dit van uitwissing asb want ons kyk vandag op na jul. Sterkte en ons hartlike dank aan ieder en elk vir jul bydraes.

Michael ·

DANKIE Solidariteit en Afriforum as elke Afrikaans sprekende burger net ‘n klein finansiële bydrae gee om hulle te ondersteun skop ons die ANC en da se alies

John ·

Ons het die geleentheid gehad om ‘n goeie bedeling daar te stel. As die onderhandelaars destyds raad ingewin het en nie so angstig was om die wereld te beindruk nie, kon hierdie selfde voorstelle ingevoer gewees het. Nou word dit ‘n onbegonne taak. Die meerderheidsregering gaan nie bes gee nie. Hulle is nou goed oppad na alles vat. Fondse en hofsittings en bakhand staan gaan nie help nie. Kyk maar net na ons stryd om Afrikaans te behou. Kry ons iets reg? Soveel stigtings, soveel gepraat en almal gaan laataand huistoe met ‘n lee koffertjie. Ons gewese president De Klerk kom nou met idees. Sjoe, 25 jaar te laat en nou moet die ander raap en skraap uit die lee pappot vir die groepie Afrikaners wat alweer voel hulle moet herwaarts en derwaarts trek en nog ‘n volkstaat begin op plekke waar daar niks is nie, net swoeg en sweet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.