Solidariteit nader arbeidshof oor SAPD se diensbillikheidsplan

Dirk Groenewald, Solidariteit

Dirk Groenewald, Solidariteit

Die vakbond Solidariteit het vandag gesê hy gaan die arbeidshof nader ten einde toestemming te kry om met die polisie oor hul diensbillikheidsplan te onderhandel.

Die vakbond sê dit volg nadat die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, nie gereageer het op sy se skriftelike versoek om deel te hê aan die onderhandelings oor die plan nie.

Volgens Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, het Solidariteit die afgelope paar jaar gevind dat die SAPD se diensbillikheidsplan niks anders as ʼn kwotastelsel is nie.

“Dit is vir ons duidelik dat POPCRU en SAPU, die twee erkende polisievakbonde wat by die saamstel van die huidige diensbillikheidsplan betrokke was, ook nie bereid is om die belange van polisielede uit die nie-aangewese groepe te verteenwoordig nie. Solidariteit moes oor die afgelope vier jaar oor die 20 hofsake wat oor onbillike diskriminasie handel namens sy lede in die SAPD aanhangig maak,” sê Groenewald.

“Solidariteit is dus die enigste vakbond in die polisie wat hom vir die regte van minderhede beywer. Aangesien die nasionale polisiekommissaris ons versoek geïgnoreer het, het ons geen ander keuse nie as om by wyse van ʼn hofbevel die polisie te dwing om met ons oor die plan te onderhandel.

Ons sal, in ons versoek aan die arbeidshof, ons veral beroep op dié dele in die Wet op Gelyke Indiensneming wat bepaal dat die regte en belange van minderhede in ag geneem moet word wanneer ʼn diensbillikheidsplan opgestel word,” sê Groenewald.

Groenewald het bygevoeg dat Solidariteit vandeesweek met ʼn uitgebreide veldtog begin om sy verteenwoordigendheid in die polisie te versterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Renate Barnard ·

Dit is presies wat die huidige bestuur van die SAPD doen – ignoreer die regte van minderhede. Baie duidelik ‘n aanduiding dat hulle nie in goeder trou wil optree nie. Baie sterkte aan Solidariteit met die nuwe geveg – aanhouer wen! As die minderheidsgroepe weet wat is goed vir hulle, sal hulle verseker by Solidariteit aansluit – veral aangesien SAPU en POPCRU baie beslis nie bereid is om op te staan teen diskriminerende arbeidspraktyke nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.