Solidariteit NetWerk se vyfjaarwerkplan in ’n neutedop

solidariteit-netwerkvanwerk-lindie-strydom-paul-van-deventer-marthinus-visser

Lindie Strydom (regs) gesels met Marthinus Visser van Akademia en Paul van Deventer van Sol-Tech tydens die bekendstelling van Solidariteit se nuwe rigting. Foto: Solidariteit/Twitter.com

Solidariteit het Donderdag die organisasie se nuwe netwerk van werk met ’n vyfjaarbegroting van R4,5 miljard aangekondig.

Die Solidariteit NetWerk gaan ʼn omvattende alternatiewe skoolstelsel, ’n beroepskollege, universiteit, studiehulp, ’n jeugbeweging, ’n netwerk van beroepsgildes, mentorskappe, werkplasing, beskerming in die werkplek en voortgesette opleiding insluit.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gaan die NetWerk die volle loopbaanpad saam met sy lede stap.

Hier is ‘n oorsig van die organisasie se planne wat sal strek van 2019 tot 2024:

  1. Solidariteit se missie, sedert 1902, is om goeie werk te verseker. In 2019 is die omstandighede anders, maar die opdrag is dieselfde.
  2. Die Vierde Industriële Rewolusie (4IR) word gekenmerk deur ontwrigtende kennis. Solidariteit moet sy lede toerus om in dié ontwrigtende wêreld ’n goeie werk te kan hê.
  3. Kennis en lewenslange leer is ’n voorvereiste om in die nuwe ekonomiese rewolusie te oorleef. Kennis is dus ’n kernelement in Solidariteit se NetWerk van Werk.
  4. Solidariteitlede in die algemeen, en die Afrikaanse- en Afrikanergemeenskap in die besonder, word ook gekonfronteer met die staat wat verswak, ’n onvriendelike staat met min begrip vir minderhede, en ’n versmorende rasse-ideologie. Die uitgangspunt van die Solidariteit NetWerk is meer gemeenskap en minder staat.
  5. Die doel van die Solidariteit NetWerk is om te verseker dat hierdie gemeenskappe die laagste werkloosheidskoers in die wêreld het. Solidariteit wil help dat almal wat wil werk, kan werk.
  6. Die beste belegging vir Solidariteit in Suid-Afrika is om sorg te dra dat sy lede werk. Dit is die grootste vermenigvuldiger wat tot voordeel van almal in Suid-Afrika is.
  7. Die Solidariteit Netwerk moet ook geborgenheid bied in omstandighede waarin mense vervreemd voel.
  8. Om dit te kan doen, moet Solidariteit self ook ontwrigtend dink. In die lig daarvan het Solidariteit besluit om ’n omvattende netwerk van werk te skep, wat die tradisionele vakbondwese totaal herontwerp vir die eise van die nuwe ekonomiese en politieke rewolusie.
  9. Die doel van die Solidariteit NetWerk is nie om self werk te skep nie, maar om mense wat wil werk, in staat te stel om te kan werk en werk te skep.
  10. Die Solidariteit Navorsingsinstituut se verslag oor emigrasie wys dat Afrikaners in die besonder weer meer kinders kry. Daar is dus ’n volgende geslag waarvoor beplan moet word.
  11. Die Solidariteit NetWerk bestaan uit:
  • Wêreldklas-skole

Die Skoleondersteuningsentrum ontwikkel ’n stelsel wat openbare skole ondersteun om uitnemend te bly, en wat Afrikaanse privaat skole van wêreldklas as antwoord sal bied op die kwynende aanbod van moedertaalonderrig.

  • Jeug

Solidariteit Jeug moet jongmense help om voor te berei vir die arbeidsmark, moet vir hul belange opstaan, en moet hulle by die groter NetWerk laat inskakel. ’n Instrument om jongmense met loopbaankeuses te help, is ontwikkel.

  • Studiehulp

Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum stel studente in staat om te kan studeer.

  • Universiteitstudie

Akademia moet ’n wêreldklas privaat universiteit as antwoord bied, met studiesentrums landwyd en ’n groot kampus met koshuise, sportvelde en ’n studentelewe.

  • Beroepsopleiding

Sol-Tech bied ’n wye reeks ambagte aan en gaan sy aanbod uitbrei op ’n splintenuwe kampus wat gebou word. Die Bo-Karoo-opleidingsentrum is ’n nuwe inisiatief wat verantwoordelikheid neem vir bou-opleiding.

  • Voortgesette leer

S-Leer bied voortgesette beroepsopleiding wat CPD-punte vir voortgesette leer vir professionele beroepe insluit.

  • Werkplasing

’n Werkplasingsplatform gaan op die Solidariteit NetWerk geplaas word, Ajani (ʼn privaat maatskappy) plaas Sol-Tech-studente by goedgekeurde werkgewers, en gildes gaan verantwoordelikheid neem om jongmense in beroepe te plaas.

  • Arbeidsverhoudinge

Solidariteit se groot taak is steeds om belange in die werkplek te beskerm, wat insluit erkenning op grond van belang en beskerming teen die staat se rasse-ideologie.

  • Arbeidsreg

Arbeidsreg bly ’n belangrike wapen om lede se regte te beskerm. Groot klem word gelê op die regte van minderheidsvakbonde en op litigasie teen onbillike rassediskriminasie.

  • Beroepsgildes

Solidariteitlede gaan nie net volgens werkplek nie, maar ook volgens beroepsgildes georganiseer word. Gildes help jongmense om tot die werkplek toe te tree, en gildes vorm netwerke, fasiliteer verdere opleiding en tree as waghond op.

  • Kapitaalmobilisering

Kanton is ’n eiendomsbeleggingsmaatskappy wat deur ’n vennootskap tussen kultuur en kapitaal leefruimtes vir Afrikaans skep. ’n Goeie voorbeeld gaan die bou van die Akademia-kampus wees. Instellings soos die Solidariteit Beleggingsmaatskappy en Solidariteit Finansiële Dienste speel ook ʼn groot rol.

  • Openbare belang

Solidariteit gaan steeds aktief intree vir die openbare belang met ʼn spesifieke fokus op belastingmisbruik, die staat se rasse-ideologie en onderwys en opleiding.

  • Werkverwante produkte

Solidariteit Finansiële Dienste ontwikkel werkverwante produkte soos mediese versekering, pensioen- en beleggingsbeplanning.

  • Normalisering van die arbeidsmark

Solidariteit het ʼn projek op Orania begin waardeur toegang vir jonges op intreeposvlakke gegee word met die oog om hulle toe te rus om vinning opwaarts te beweeg.

  1. ’n Omvattende stelsel word ontwikkel om die verskillende instellings van die NetWerk aan mekaar te koppel. Hierdie stelsel sal ook ’n lojaliteitskomponent hê. Wat Discovery (Vitality) met die mediese bedryf gedoen het, gaan die Solidariteit NetWerk met die wêreld van werk doen.
  2. Die Solidariteit NetWerk gaan die totale loopbaanpad saam met sy lede stap – vanaf skool, deur studies, tot in die werkplek en selfs met aftrede. Dit is die mees omvattende werkdiens van enige vakbond ter wêreld.
  3. Daar word voorsien dat die vyfjaarbegroting, dit is die gesamentlike bedryfs- en kapitale begroting, van al die aktiwiteite van die NetWerk R4,5 miljard gaan wees.
  4. Die NetWerk stuur ’n sterk boodskap uit dat ’n toekoms hier gebou gaan word. Die deelnemers sê: “Ons gaan nêrens heen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Marius ·

Bly my geld word goed ge spandeer met die regre mense en vir my volk.

Ben ·

10uit10
Dankie Herman. Harde werk sal ons saam doen en toekoms skep. Ek en nageslag gaan nêrens nie bky hier. Kom ons wys hoe word dit gedoen.
Ek is vandag trots.

Braam van Wyk ·

Skitterend, Solidariteit! Julle maak my opnuut trots en dankbaar om te kan sê: Ek is ‘n Afrikaner. Voorspoed en seën met die uitvoer van die planne.

Pieter ·

Wonderlik, Solidariteit! Maroela, kan die verwysing na “1902” in punt 1 van die uiteensetting korrek wees? Het Solidariteit toe al bestaan?

Anja van der Merwe ·

Dagsê Pieter

Dankie vir jou boodskap. Die vakbond Solidariteit het inderdaad in 1902 begin en het in daardie stadium as die Mynwerkersunie bekend gestaan. Die vakbond het sy naam in 2002 verander.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Rita Labuschagne ·

‘n Boer het nog altyd ‘n plan gehad!! Maar sal die regering dit toelaat?

dinkhardop ·

Uitstekend! Puik. En hierdie is net die begin van groot dinge. Knaap gedaan Solidariteit!

Landie ·

Dit is wodnerlike nuus!!!! Groter bemarking onder afrikaanses sal help met die bemarking uitbreiding en sukses van die Netwerk. Julle het beslis my ondersteuning.

Peet ·

Ons het nog n magdom van kennis in die afgetredenes wat ontgin behoort te word sodat dit nie graf toe gaan nie. Ek is bereid om waar tyd en omstandighede my toelaat my kennis aan verdienstelike jong mense oor te dra. Ek daag ander uit om dieselfde aan te bied.

Stephan de S ·

Hierdie inisiatief gee vir my hoop. Mag julle ywer v krag tot krag gaan. Hierdie planne behoort ook baie Afrikaners se hande oop te maak om te gee.
Aan die pensioenaris: die staat alleen met sy belastinginkomste en ander bronne van inkomste het die finansiële vermoë om op lang termyn pensioene uit te betaal…….dis in elk geval geld wat hulle by salarisse geneem of verplig het om te neem vir belegging in pensioenfondse.

Willie ·

Hulle moet ook kyk om Blankes wat hulle werk weens afleggings verloor het help plaas. Want met jou bleek kan jy aansoek doen tevergeefs..

Pensioenaris ·

En hoe bevoordeel dit pensioenarisse wat hul hele lewe hard gewerk het maar nie n aktiewe lid kan wees van solidariteit omdat daar geen voordele of enige hulp daargestel word vir hulle nie. So die mense wat die land help opbou het delf nou definitief die onderspit en kan nie aan die lewe bly nie.

PJC ·

Hierdie klink na ń klompie briljante planne net wat ons van Afriforum gewoond is.

Dankbaar ·

Uit my hart dankie! So dankbaar ek nog hier op Afrikaanse bodem, en kan darem ‘n skamele bydrae lewer. My vraag ego egter nogsteeds: privaat gesondheidsinstansies? Mediese opleiding binne ‘n eie private akademiese hospitaal? Ons kan nie meer ons mense se sorg aan die genade van ander oorlaat nie. Ons kinders is reg om te studeer…maar die universiteite keer hulle aansoeke smalend die rug toe. Ons gaan voortvarend wees binne ‘n wêreldklasgesondheidsgemeenskap ook. Asb oorweeg dit?

Jimmy ·

Ek hou ook van’n nanny staat. Dit voel so veilig. Daar sal altyd iemand wees om my op te pas.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.