Solidariteit ontvang steun vir klag by VN

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema

Suid-Afrikaners oor ʼn wye spektrum, insluitend verskeie meningsvormers, het vandag tydens ʼn konferensie in Pretoria hul steun betoon vir Solidariteit se klag teen die Suid-Afrikaanse regering oor regstelaksie by die Verenigde Nasies (VN).

Daarby het die vakbond die eerste insette op sy verslag, wat in Augustus vanjaar by die VN ingedien word, ontvang. Die meningsvormers wat aan die konferensie deelgeneem het en hul insette gelewer het, sluit in: Martin Brassey SC; Herman Mashaba en Sandile Zungu, bekende sakelui; Theuns Eloff, voorsitter van die F.W. de Klerk-stigting; Temba Nolutshungu, direkteur van die Vryemarkstigting; Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum en Tony Leon, voormalige leier van die Demokratiese Alliansie (DA).

Die konferensie lui die begin in van ʼn twee maande lange openbare proses om insette te kry van Suid-Afrikaners oor die hele ras- en politieke spektrum heen om sodoende ʼn breë spektrum van Suid-Afrikaners se mening in die verslag te weergee.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, meen die konferensie en openbare insetproses is die eerste stap om debatvoering oor die omstrede kwessie van regstellende aksie in Suid-Afrika te bevorder.

“Ons is nie demokratiese onderdane wat die staat ten alle koste moet gehoorsaam nie, maar demokratiese burgers wat die waardes van ons demokrasie, soms ten spyte van die staat, moet beskerm. Ons vertrou dat vandag se konferensie en die publiek se insette ons konsepverslag positief sal beïnvloed,” het Hermann gesê.

Solidariteit het alle Suid-Afrikaners genooi om hul insette by www.solidariteit.co.za te gaan lewer.

Die vakbond se verslag aan die VN handel spesifiek oor die regering se oortreding van die VN-konvensie wat alle vorme van rassediskriminasie verbied. “Ons is van mening dat die Suid-Afrikaanse regering die internasionale wette, konvensies en praktyk oor regstellende aksie oortree. Die gevolg is benadeling, nie net van die nie-aangewese groep nie, maar van die breë Suid-Afrikaanse samelewing,” sê Hermann.

Hermann verduidelik die regering se beleid van rassekwotas kan nie as regstellende aksie gedefinieer word nie, maar eerder as ’n vorm van neo-rassisme wat nêrens in die wêreld aanvaarbaar is nie.

Van die belangrikste punte van Solidariteit se klag teen die regering se neo-rassisme is dat:

  • Verskillende silo’s vir verskillende ras- en geslagsgroepe geskep word;
  • Die regering ’n toekoms deur maatskaplike manipulasie wil skep;
  • Rasseklassifikasie in Suid-Afrika weer geïnstitusionaliseer word;
  • Rasverskille die basis vir besluitneming geword het;
  • Nie op benadeling van die verlede gefokus word nie, maar slegs op ras;
  • Daar nie ’n sonsondergangklousule is nie omdat die rassedemografie deurlopend verander;
  • Daar nie ʼn fokus op opleiding en ontwikkeling van mense is nie, maar slegs op wiskundige uitkomste; en dat
  • Rassekwotas nagejaag word sonder inagneming van dienslewering.

Daarteenoor bepaal internasionale praktyke oor regstellende aksie dat:

  • Geen silo’s geskep mag word nie, dat ook gekyk word na klas en dat ras net in uiterse gevalle gebruik moet word;
  • Benadeling in sy geheel, en nie net met syfers nie, reggestel moet word;
  • Gewaak moet word daarteen dat vorme van rasseklassifikasie nie geïnstitusionaliseer moet word nie;
  • Daar met die oog daarop dat slegs meriete uiteindelik gebruik word, ʼn sonsondergang moet wees wat nie verder strek as wat nodig is nie;
  • ʼn Verskeidenheid van faktore in ag geneem moet word, wat insluit billikheid, individuele meriete en operasionele vereistes;
  • Gefokus word op opleiding en ontwikkeling van mense as die belangrikste metodes van regstelling; en dat
  • Gefokus word op goeie dienslewering as ʼn vorm van regstelling, veral vir armes.

Hieronder volg uittreksels uit enkele van die insette wat tydens die konferensie gelewer is:

Tony Leon. Foto: Reint Dykema

Tony Leon. Foto: Reint Dykema

Tony Leon, voormalige leier van die DA:

Op grond van my onlangse betrokkenheid as ’n senior Suid-Afrikaanse diplomatieke verteenwoordiger kan ek beslis bevestig dat hierdie regering bedag is op sy internasionale verpligtinge en dat die rol en sentraliteit van die VN, sy konvensies en komitees as arbiters in die geval van internasionale en plaaslike konflik vir die regering van opperbelang is. As ’n land wat ’n ondertekenaar van die konvensie is, is dit nie alleen reg nie maar hoort dit ook so te wees dat ons nasionale optrede ingevolge die konvensie onder die loep geneem word. Ek wens Solidariteit derhalwe daarmee geluk dat hy hierdie belangrike en noodsaaklike proses aanpak. Lees die volledige toespraak. Klik hier.

Radio Pretoria se Klankkoerant het met Leon gesels oor sy indrukke oor die verslag:

Temba Nolutshungu. Foto: Reint Dykema

Temba Nolutshungu. Foto: Reint Dykema

Temba Nolutshungu, direkteur van die Vryemarkstigting:

Die grootste politieke bedrog wat tot dusver ná apartheid gepleeg is, is die verordening van regstellendeaksie-beleid waarna op eufemistiese manier verwys word as swart ekonomiese bemagtiging. Dit is ’n bedrieëry want die voorstanders van die beleid moes bewus wees het van die empiriese bewyse dat ’n beleid van regstellende aksie, waar dit ook al in die wêreld nagestreef is, ten beste klaaglik misluk het, en op sy ergste teenproduktief was. Die beleide lewer nie die gewenste resultate op nie; hulle verryk die elite binne die teikengroep wat politieke verbintenisse het, en uiteindelik vervreem dit sekere bevolkingsektore. Lees die volledige toespraak. Klik hier.

Herman Mashaba. Foto: Reint Dykema

Herman Mashaba. Foto: Reint Dykema

Herman Mashaba, bekende sakeman:

Hierdie skaduverslag van Solidariteit aan die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie is meer as ’n allerbelangrike inisiatief. Rassediskriminasie het oor die afgelope 300 jaar van ons opgetekende geskiedenis die lewe van elke mens in Suid-Afrika geraak, en dit is ongelukkig vandag steeds die geval. Lees die volledige toespraak. Klik hier.

Cornelius Jansen van Rensburg. Foto: Reint Dykema

Cornelius Jansen van Rensburg. Foto: Reint Dykema

Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum:

As elke sektor van die Suid-Afrikaanse ekonomie die land se rassedemografie moet weerspieël, sal dit die ekonomiese geleenthede wat tot die beskikking van die nuut-uitgeslote rassegroepe is vir alle praktiese doeleindes afkamp. Dit sal uiteindelik ’n monopolie ten opsigte van die aanbod van goedere en dienste skep. Lees die volledige toespraak. Klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jakoba ·

Ek wens Solidariteit my steun toe en alle sterkte, mag God en sy Engele julle dra. Julle sal van krag tot krag gaan

Jan ·

Die DA en Tony Leon was groot ondersteuners van Regstellende Aksie. Die DA ondermyn blanke belange in Suid-Afrika, maar die Afrikaners kon dit nog nie uitwerk nie. ‘n Swart individu wat voor 1994 buite Suid-Afrika gebore is (byvoorbeeld in Engeland) word op grond van ras tans in Suid-Afrika be oordeel. Geen buitelanders moet voordeel uit regstellende aksie kan kry nie. Chinese het nie onder Apartheid gelei nie, maar trek nou voordeel uit die ANC se rassebeleid.

Theriza ·

Julle het my steun. Ek sal graag wil sien dat iemand ‘n voorblad artikel in die koerante publiseer wat vra hoe die Bafana Sokker span die land se rasse verteenwoordig? Ek is nie ‘n groot sport kenner of deelnemer nie, maar so *&^vol om te hoor hoe die rugby (en netbal) spanne “kwotas” MOET he, maar vir die sokker is daar nie reels nie.

Albert Anderson ·

gaan op hulle web werf en gee jou steun en mening

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.