Solidariteit oortref doelwitte vir 2020

Toekomsberaad-algemeen

Die Toekomsberaad wat in 2016 deur die Solidariteit Beweging aangebied is. Foto: Forumnuus.co.za

Die Solidariteit Beweging het tydens sy eerste toekomsberaad in 2015 ʼn aantal doelwitte gestel wat hy teen 2020 wil bereik, ten einde te verseker dat sy lede vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika kan leef.

Vier jaar later het die Beweging talle suksesse behaal en maak hy gereed vir die tweede Toekomsberaad wat Donderdag by die Moreletapark Ouditorium in Pretoria sal plaasvind.

Die Beweging het die volgende suksesse behaal sedert 2015:

  • Solidariteit-regsdienste het sy veldtog teen regstellende aksie verskerp deur in die afgelope vyf jaar twee keer by die Verenigde Nasies (VN) en Cerd, die komitee vir die uitwissing van alle rassediskriminasie, besoek af te lê. Solidariteit het voorts ʼn aanbieding en skaduverslag gedoen rakende die Suid-Afrikaanse regering se toepassing van regstellende aksie. Cerd het ná afloop hiervan die regering versoek om sy aandag indringend op die beleid te vestig en voorts ʼn alternatiewe verslag rakende regstellende aksie in te dien.
  • In 2015 het AfriForum beloof om meer gemeenskappe te help om buurtwagte te stig. Hulle het aangedui dat hulle graag die bestaande 68 buurtwagstrukture wil uitbrei en dié getal minstens wil verdubbel. Die afgelope vyf jaar het die getal buurtwagte meer as verdubbel tot 140 buurtwagte met 9 500 lede. Meer as 7 900 buurtwaglede het sedert 2015 opleidingsmodules, waaronder regsaspekte, toneelhantering en noodhulp, deurloop.
  • kosblikkie

    Foto: Verskaf

    In 2015 kon Helpende Hand se voedingsprojekte 4 000 behoeftige kleuters daagliks versorg. In 2019 het hierdie getal verdubbel tot 8 000.

  • Helpende Hand se studiefondssentrum, wat behoeftige Afrikaanse studente finansieel ondersteun, se uitbetalings aan studente het amper verdubbel van R25 miljoen in 2015 tot R41 miljoen in 2019. Sedert 2015 is ʼn bedrag van R145,1 miljoen aan studente uitbetaal. Die droom was om teen 2020 ʼn studiefonds van R160 miljoen op te bou. Dié fonds staan tans op R185 miljoen.
  • Op 13 September 2019 is die eerste sooi op Sol-Tech se nuwe kampus gespit met die vooruitsig om die kampus teen Januarie 2021 in gebruik te neem. Sol-Tech se grootste mededingende voordeel in Suid-Afrika is die uitsonderlike gehalte en standaard van die opleiding wat dit bied.
  • Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, tydens die sooi-spit seremonie. Foto: Reint Dykema.

    Akademia se studentetal het sedert 2019 van 275 na 1 050 gegroei. Dié instelling van hoër onderwys bied nou vyf graadkursusse en het sedert 2015 agt nuwe kwalifikasies geakkrediteer.

  • In Augustus vanjaar het Maroela Media se meer as 2 miljoen lesers bykans 20 500 000 berigte en artikels op die webwerf gelees. Die getal unieke lesers het meer as verdubbel van 2015 se amper 800 000 unieke lesers.

Solidariteit Beweging sal tydens die Toekomsberaad Donderdag ʼn aantal uitdagings identifiseer en nuwe doelwitte vir 2030 aankondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Disselboom ·

Nou vir ‘n skool of twee wat self en nuut gebou word,

Dolf ·

Goed en wel, maar wat is die “end game”? Wat is die Afrikaner se politieke pad vorentoe? Al hierdie programme gaan nie wittes in die land hou nie.

johan ·

Die ou Soltech is goed en professioneel. Hulle lewer goeie diens en die instrukteurs en toerusting fantasties. Daarna word vakleerlinge na werk gewers uitgeplaas. Die meerderheid werkgewers , soos in bemarkings veldtogte voorgestel, leer en lei die jong manne goed op.Daar is egter uitsonderings. Iemand na an my is na .n fafriek in Gauteng geplaas . Daar was hulle veronderstel om hom op te lei in alle aspekte van sy ambag. Dit het nie gebeur nie.Hy doen nou al die afgelope 2 jaar presies dieselfde werk oor en oor. Daar is geen verdere opleiding in die ander aspekte van sy ambag nie.Hy is basies net goedkoop arbeid. Dit maak seer, want dit is boereverneukery, dit is ons eie mense wat ons so behandel. Ajanie wil niks help nie, hulle se dit is tussen werkgewer en vakleerling.Van al die pragtige prenjies van ope dag en bemarking het daar niks van gekom nie !

Knapsekêrel ·

Dis die realiteite Johan. Daar is nie meer baie geleenthede soos in die ou dae nie. Die ekonomie is teen die planke en dis bitter moeilik vir wit ondernemings om tenders te kry. Die vrees is dat meer meer wit vakleerlinge as goedkoop arbeid gebruik gaan word soos wat SolTech die worsmajien laai. Vir al die aksies is daar altyd reaksies.

Sven ·

Dolf, daar is nie ‘n politieke plan nie. Planne word net gemaak om Afrikaners ekonomies en maatskaplik te bemagtig. Ek twyfel ook of dit jonges hier sal hou.

koos ·

waar gaan almal wat so met helpende hande se geld studeer, eendag werk kry? Al hoor solidariteit nou ook vanaf die VN, Donald Trump en selfs vanaf die Here en die satan dat regstellende aksie inderdaad verkeerd is, word dit STEEDS in SA toegepas. NIKS stop dit nie. Ek weet van dokters in ingenieurs wat werkloos is. aanmekaar tel hulle “verkeerde” velkleur teen hulle. In die buiteland werk nie vir almal nie. werk is nie so vollop daar nie en verhuising soontoe is regtig BAIE duur.
Ek het my 2 universiteitsgrade later afgehaal van my CV af en een jaar militere diensplig maar op my CV na 2 toe “verleng”. die 3 jaar op universiteit het ek aangedui as “ek het gestudeer, maar niks bereik nie”. Ek was moeg vir werksaansoeke wat, behalwe vir my “verkeerde” velkleur”, ook afgekeur is omdat ek glo “te goed gekwalifiseerd”of “verkeerd gekwalifiseerd” is.
Vreemd, maar met die “leuens” op my CV het ek meer werksonderhoude gekry en uiteindelik ‘n ordentlike werk. En eks nooit uitgevra oor die “leuens” op my CV nie. Maar ek sal moet werk tot LANK na die tradisionele aftreeouderdom. jare van werkloosheid en allerhande tydelike jobs beteken daars bitter min pensioen vir my eendag.

Jimmy ·

Die slim manne is besig om lugkastele te bou met gewone mense se geld. Indien daar planne gemaak word om geleerde Afrikaners in die buiteland te help hervestig is die saak reg. Maar om hier werkloos rond te loop met ‘n kwalifikasie in die sak is ‘n marteling. Soos Sven hierbo sê ons kort ‘n politieke plan, en baie dringend ook.

Gideon ·

Dis ongelukkig die realiteit deesdae. Ek het twee grade gedoen B.A. in Korporatiewe Kommunikasie, en B.A. Honneurs in Linguistike Studies, en toe oorsee gegaan om Engels te gee. Ek het tydens my studies maar ook gewerk as ‘n waitor, toe fasiliteerder, en uiteindelik as redakteur om my studies te betaal.

Ek beplan om vir die volgende 6 jaar te studeer terwyl ek spaar om my Meesters te finansier, waarna ek sal werksoek by ‘n universiteit om verdere navorsing (en hopelik my Doktors) te doen.

Mens kan oorsee werk soek, jy moet net op die regte plek soek en beryd wees om, soos enige jong knapie, die ekstra ure in te sit en jou vingers stomp te werk. Jy sal verbaas wees hoe gretig sekere oorsee se industriee is om blanke Suid-Afrikaners aan te stel weens on reputasie vir harde werk en uithou vermoe.

Kerneels ·

Met al daai geld kan daar ‘n tuisland vir Afrikaners gekoop word. Dan kan ons almal saam woeker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.