Solidariteit, Poskantoor bereik skikking

Foto ter illustrasie. (Foto: SA Post Office/Twitter)

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag ’n skikkingsooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) en Medipos, die mediese fonds waaraan Sapo se werknemers behoort, bereik.

Ingevolge dié ooreenkoms, wat deur die arbeidshof in Johannesburg as ’n hofbevel bekragtig is, moet Sapo ’n sekere minimum maandelikse betaling aan dié fonds oorbetaal.

Op sy beurt het Medipos onderneem om werknemers se mediese dekking in stand te hou op voorwaarde dat die Raad op Mediese Skemas (RMS) die ooreenkoms goedkeur.

Maroela Media het vroeër berig dat Solidariteit Dinsdag ʼn dringende hofaansoek teen Sapo sou bring ná die Poskantoor versuim het om bydraes van meer as R600 miljoen aan werknemers se mediese fonds oor te betaal.

Volgens Solidariteit sou hierdie werknemers weens agterstallige premies van 1 Oktober af geen verdere voordele van Medipos af kon ontvang nie.

“Sapo het vir maande versuim om die volle ledebydraes namens sy werknemers aan die fonds oor te betaal terwyl die aftrekkings steeds op werknemers se salarisstrokies aangedui was.”

Die ooreenkoms wat intussen bereik is, bepaal verder dat indien die RMS nie toestemming vir die uitvoering van die ooreenkoms verleen nie, die hofaansoek weer aan die einde van November op die arbeidshof se rol geplaas sal word om aangehoor te word.

Tot dan sal geen werknemers van Sapo wat lid van Medipos is, se mediese eise vanaf 1 Oktober geweier word nie.

“Dit is verregaande dat Solidariteit hom tot die hof moes wend om die Poskantoor sodoende te dwing om sy verpligtinge na te kom. Die wanbestuur en korrupsie wat kenmerkend is van staatsentiteite en -departemente laat onskuldige werknemers daaronder ly, terwyl bestuurslede en kaders telkens skotvry daarvan afkom,” sê Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit.“Hierdie wanpraktyke kan nie langer geduld word nie, daarom het en sal Solidariteit hom voortdurend tot die hof wend om seker te maak dat reg en geregtigheid geskied.”

Van der Bijl sê die vakbond is verheug dat hul lede die voordele van hul mediese fonds sonder onderbreking sal kan bly geniet.

“Baie werknemers ly aan mediese toestande of moet operasies ondergaan wat deur die staking van hierdie voordele benadeel sou word. Dit is ʼn oorwinning vir elke werknemer van Sapo en wat lid van die Medipos mediese skema is.”

Van der Bijl meen dit is ook nie net ’n oorwinning vir Solidariteit se lede nie, maar ook vir ander werkers wat by Sapo werksaam is en lede van Medipos is.

“Ons sal egter steeds as waghond optree en ons lede se belange beskerm. Ons sal nie skroom om met verdere litigasie voort te gaan indien Sapo versuim om sy verpligtinge na te kom nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Yvonne ·

Tiptol…dit is wat ek ook wil weet…..en daar kom dadels van

Nie Verbaas ·

In enige normale funksionerende land sou die skuldiges al lankal agter tralies gewees het. Nou smeek CR lede om hulle nog n kans te gee terwyl nog nie een groot vis oor korrupsie agter tralies is nie.

Di ·

Appel val nie onder ‘n peerboom nie – Alles verwant aan die ANC is pateties, korrup en skelm.

Skuilnaam ·

Eerlik nou: wanneer laas het jy die Poskantoor gebruik? Maak die blêddie ding toe!

koos10 ·

Skuilnaam, twee redes:
1. Duisende mense gaan werkloos wees, en dit pas nie by die ANC se beleid nie, veral nie voor die komende verkiesing nie.
2. Die regeringsamptenare sal ook nie meer hulself kan verryk nie.

Marcello ·

Stem saam, hulle tariewe is buitensporig, ek het verlede week hulle geskakel om uit te vind wat hulle my sal vra vir ‘n kaartjie groote brief, die antwoord: R53.00 vir spoedpos.

Swerwer ·

Wie is in beheer aan die stuur van die Poskantoor? Dit verklaar absoluut alles.

Jr ·

Ooh Solidariteit julle is ysters. Gee hierdie govt bloedneus keer na keer. Haal my hoed af vir julle

Marcello ·

Wow !!! Solidariteit julle is uitstekend, trots om ‘n lid te wees, hou so aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.