Solidariteit: ‘Rasgedrewe verhuisings onafwendbaar met nuwe diensbillikheidskodes’

500px-Solidariteit_logo_svg_Solidariteit sê hy het ’n jaar gelede, te midde van sy regstellendeaksie-hofsaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD), gewaarsku dat die regering se benadering tot regstellende aksie in ’n vernietigende maatskaplikemanipulasieprogram ontaard het.

Die vakbond sê nou, in die aanloop tot sy bepalende saak in die konstitusionele hof namens lt.kol. Renate Barnard teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), is Solidariteit se waarskuwing duidelik geregverdig met die vrystelling van die konsepkodes vir billike indiensneming. Solidariteit het verlede jaar daarop gewys dat die onbuigsame afdwinging van die nasionale rassedemografie geen keuse aan mense, wat op ’n streeksbasis “oorverteenwoordig” is, laat nie as om na ander streke, waar hulle “onderverteenwoordig” is, te verhuis.

Volgens Piet le Roux, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het die regering se benadering tot regstellende aksie daarop gefikseer geraak om alle aangewese werkgewers te dwing om die nasionale rassedemografie as die enigste maatstaf vir die sukses van diensbillikheid te gebruik. “Luidens die kodes sal daar van werkgewers, wat 150 of meer mense in diens het, verwag word om die nasionale rassedemografie op top-, senior- en middelbestuursvlak te reflekteer. In die geval van die ander vlakke moet die gemiddeld van die nasionale en provinsiale rassedemografie gebruik word. Werkgewers met minder as 150 werknemers staar soortgelyke, dog effens minder drukkende vereistes in die gesig.”

Le Roux wys op die absurde gevolge van so ’n beleid: “Indien die nasionale rassedemografie op ’n rigiede manier op die Wes-Kaap toegepas word, sal daar bykans 1,2 miljoen te veel ekonomies aktiewe bruin mense in dié provinsie wees. Dit maak meer as die helfte van die hele ekonomies aktiewe bruin bevolking van Suid-Afrika uit. As hulle wil werk kry, sal hulle na ander provinsies moet verhuis – nie om nuwe poste daar te gaan beklee nie maar om bestaande werknemers te vervang. Ontwrigting van soortgelyke omvang is die voorland van mense wat toevallig as wit en Indiër, en selfs swart, geklassifiseer word in provinsies waar hul getalle die vlakke oorskry wat die minister as aanvaarbaar ag. Die regering se regstellendeaksiebeleid het in ’n wiskundige benadering ontwikkel wat mense met syfers vervang. Dit het niks met regstelling te make nie, maar alles met ras,” sê Le Roux.

Meerderheidsoorheersing
Solidariteit is ook gekant teen die bepalings van die kodes dat werkgewers slegs meerderheidsvakbonde, of verteenwoordigers van die meerderheid werknemers, hoef te raadpleeg oor diensbillikheidsaangeleenthede. Dit is strydig met die Wet op Diensbillikheid self, wat stipuleer dat die belange van sowel aangewese as nie-aangewese werknemers op alle beroepsvlakke in konsultasies oor diensbillikheid verteenwoordig moet wees. Die voorgestelde kodes sal die verteenwoordiging van minderheids- en nie-aangewese werknemers feitlik onmoontlik maak.

Stemme moet opgaan
Volgens Le Roux aanvaar Suid-Afrikaners, veral groot besighede, te geredelik dat die regering se manier die enigste manier is. “Wat ons in Suid-Afrika nodig het, is ’n ware verbintenis daartoe om nuwe idees oor regstellende aksie te ontwikkel. Ons doen ’n beroep op akademici, vakbond-, kerk- en gemeenskapsleiers, en veral die groot werkgewers in die besigheidswêreld om die regering se regstellendeaksieprogram krities te oordink en om lewensvatbare alternatiewe te soek. Dit is belangrik dat vele mense hul stemme oor die aangeleentheid laat hoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.