Solidariteit, regering slyp strydbyle by VN oor apartheid-rasklassifikasie

(Foto: Mat Reding/Unsplash)

ʼn Groot geveg tussen die regering en Solidariteit lê van môre af voor by die Verenigde Nasies (VN) oor Suid-Afrika se rassebeleid.

Die geveg het reeds in 2016 begin tydens die vorige sitting van die VN se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie (CERD).

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, begin die regering die geveg op die agtervoet.

Hy verduidelik dat die regering hierdie week by die VN moet verduidelik waarom hy nog apartheid-rasseklassifikasie gebruik – iets waaroor die VN se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie reeds in 2016 sy kommer uitgespreek het.

“Die paradoks is dat die ANC ʼn groot rol gespeel het om hierdie konvensie te vestig in sy stryd teen apartheid. Nou staan die ANC in die beskuldigdebank weens sy apartheid-rasseklassifikasie,” sê Hermann.

Hierdie aanbeveling volg nadat Solidariteit in 2016 in ʼn voorlegging aan CERD aangevoer het dat die regering se obsessie met rasseverteenwoordiging ʼn oortreding van die konvensie vir die uitskakeling van rassediskriminasie is.

Solidariteit het die geveg plaaslik verder gevat en in ʼn petisie aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ook aangevoer dat die regering internasionale standaarde oortree. Die SAMRK is volgens die wet die waghond oor internasionale menseregtekonvensies.

Die SAMRK het in ʼn gelykheidsverslag bevind dat Suid-Afrika inderdaad nie voldoen aan die internasionale konvensie vir die uitskakeling van rassediskriminasie nie.

Indien ʼn land ʼn konvensie geratifiseer het, moet plaaslike wetgewing daaraan voldoen. Die SAMRK het aanbeveel dat die regering die Wet op Billike Indiensneming binne ses maande moet wysig.

“Die regering het die aanbevelings geïgnoreer en dit het daartoe gelei dat Solidariteit ʼn substantiewe klag teen die regering se rigiede rassebeleid by die VN se Internasionale Arbeidsorganisasie gaan lê het. Die proses het gelei tot ʼn historiese skikking tussen Solidariteit en die regering wat beperkings op rasseverteenwoordiging geplaas het.

“Die skikking was ʼn groot deurbraak, maar die stryd is nie verby nie. Suid-Afrika kan op geen manier wetgewing wat rasseverteenwoordiging afdwing bekostig nie. Die land moet fokus op die beste vaardighede, swart of wit. Ons rasprys was te duur, dit het ons in die donker gelaat. Ons gaan vra dat raswette moet stop en ons sê die tyd is nou,” sê Hermann.

Die regering moet elke vier jaar aan CERD verslag doen oor sy voldoening aan die konvensie. Die laaste keer wat die konvensie vergader het, was in 2016. Burgerlike organisasies kan in ʼn skaduverslag aantoon dat ʼn regering nie aan vereistes voldoen nie.

“Behalwe die internasionale diplomatieke druk kan aanbevelings ook in plaaslike litigasie gebruik word,” sê Hermann.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.