Solidariteit sal Gauteng-onnies bystaan

onderwyser

Foto: Homeyesterday.com

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag gesê dat hy enige onderwyser wat steeds onregmatig deur die Gautengse onderwysdepartement se nuwe personeelvoorsiening geraak word met regshulp sal ondersteun.

Dit volg nadat die onderwysdepartement onderneem het dat geen onderwyser as gevolg van oortollige poste afgedank gaan word nie.

“Ons verwelkom die onderneming om nie mense af te dank nie, maar gaan as waghond optree om te verseker dat die departement wel die onderneming gestand doen,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê. “Ons twyfel egter steeds oor die oorspronklike bedoeling van die proses. Indien ons van een personeellid te hore sou kom wat onregmatig geraak word, sal ons onmiddellik voortgaan met regstappe.”

Volgens Solidariteit het tientalle skole kennis gekry dat van hul poste oortollig is. In reaksie op Solidariteit se aanmaningsbrief ontken die onderwysdepartement egter in ʼn skrywe aan Solidariteit dat hy die Wet op Arbeidsverhoudinge oortree en nooi hy Solidariteit uit tot verdere gesprekvoering.

“Ons verkies altyd om dispute deur gesprek op te los en sal die uitnodiging opvolg,” het Hermann bevestig.

Hermann sê voorts dat dit nie rustigheid bring dat die departement stel dat onderwysers in oortollige poste geskuif gaan word nie, maar eerder onrustigheid.

“Talle onderwysers is nou onseker of hulle wel moontlik geskuif gaan word. Skuiwe sonder konsultasie is ook onregmatig en onderwysers wat op dié manier geraak word, kan ons ook kontak. Dit bevestig ook dat sekere skole wel aanstaande jaar met minder onderwysers gaan moet klaarkom. Die leerdergetalle van die skole waarmee ons gekonsulteer het, het nie gekrimp nie. Dit beteken dus bloot dat hulle dieselfde werk met minder onderwysers sal moet doen,” het Hermann gesê.

Solidariteit het ʼn spesiale veldtog van stapel gestuur waardeur mense wat moontlik negatief geraak word die vakbond kan ondersteun. ʼn Spesiale webbladsy is geskep waarop klagtes geregistreer kan word.

Intussen het Steve Mabona, woordvoerder vir die Gautengse onderwysdepartement, Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat die skole wat die ergste deur besnoeiing op onderwysposte geraak word, hoërskole is waar die onderwyser-en-leerder-ratio laer as 1:35 was.

“Die departement kon weens ʼn begrotingsbeperking net die totale aantal poste van 2017 behou vir verspreiding tussen die skole in 2018, al is daar ʼn toename in leerdergetalle. Ons kon ook daarin slaag om ʼn bykomende 500 poste te skep, maar was verplig om finansiële omsigtigheid uit te oefen,” het Mabona gesê.

Hy het bevestig dat die departement voortgaan om by die provinsiale tesourie aan te klop vir bykomende fondse om finansiële druk te verlig.

“Gehalte van onderwys is ons kernbesigheid en staan sentraal tot alles wat ons doen. Daarom het ons die tesourie vir addisionele fondse genader,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

skerwe ·

alles voormalige model C skole. kan jou wed die abdokuut gratis lokasieskole verloor nie een pos nie

Disselboom ·

Nogal interessant, die stilte oor watter skole geraak word. Heel interessant.

Herman ·

Hoe verstaan ek dit? Die bevolkingsaanwas stoomroller onbeheersd voort. Die aantal kinders wat jaarliks moet skool toe gaan vergroot. Meer skole word benodig. Meer klaskamers word benodig. Meer kinders word in klaskamers geprop. Hoe is dit dan nou dat daar ‘n oorskot aan onderwysers is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.