Solidariteit sal vra dat Nhleko en Phiyega gearresteer word

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Die vakbond Solidariteit sal vandag in die arbeidshof in Johannesburg op die arrestasie van die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, en die minister van polisie, Nathi Nhleko, aandring.

Dit volg nadat Phiyega en Nhleko by monde van ʼn polisiewoordvoerder laat blyk het dat hulle nie sélf môre hul saak oor die minagting van ’n vroeëre hofbevel rakende kol. Kobus Roos in die hof sal stel nie.

Volgens Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidpraktyke, is die minister en polisiehoof wetlik verplig om sélf in die hof te verskyn.

“Indien hulle versuim om môre in die hof te verskyn, sal dit dui op hul sorgeloosheid teenoor kol. Roos en die onreg wat hy aangedoen is. Boonop sal hulle ʼn direkte bevel van die hof verontagsaam en dit is ʼn oortreding wat moontlike tronkstraf inhou. Ons sal nie skroom om op die nodige optrede teen Phiyega en Nhleko aan te dring nie,” het Groenewald gesê.

Kragtens ’n vroeëre hofbevel deur die arbeidshof moes Phiyega en Nhleko toesien dat kol. Roos in ʼn soortgelyke pos as sy vorige pos in die polisie se misdaadintelligensie-eenheid aangestel word. Dié bevel het gevolg nadat kol. Roos eensydig uit sy pos as hoof van die interne-ouditafdeling van misdaadintelligensie deur oud-lt.genl. Richard Mdluli verplaas is. Kol. Roos is egter steeds nie in ʼn soortgelyke pos as sy vorige pos aangestel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.