Solidariteit se app ʼn eerste vir vakbondwese in Suid-Afrika

touch-screens-redefine-the-market_1Solidariteit het Woensdag ʼn nuwe fase in die digitale era en vakbondwese betree met die bekendstelling van sy toepassing (app) vir slimfone. Solidariteit is die eerste Suid-Afrikaanse vakbond om ʼn app bekend te stel en dit plaas dit die vakbond aan die voorpunt van moderne vakbondwese.

Daleen Gouws, hoof van Solidariteit se afdeling vir elektroniese kommunikasie, sê die app sal Solidariteit-lede bemagtig deur hulle in staat te stel om maklik met die vakbond te kommunikeer en toegang te kry tot hulpmiddels vir administratiewe en informatiewe doeleindes. “Die doel van die app is onder meer om te verseker dat die vakbond, ons lede se ouboet in die werkplek, altyd byderhand is en om Solidariteit-lede se lewens te vergemaklik deur hulle tyd te spaar. Dit verseker ook dat Solidariteit in pas is met die jongste neigings en sal help om jongmense op ʼn byderwetse wyse bewus te maak van die belangrikheid van beskerming in die werkplek.”

Gouws sê die app kan byvoorbeeld gebruik word om by die vakbond aan te sluit. “ʼn Lid kan ook vinnig die vakbond se ledegids naslaan om seker te maak van die voordele wat hy of sy geniet. Die app stel lede verder in staat om ʼn arbeidsprobleem aan te meld en die nodige regsbystand te kry. Die Solidariteit Tydskrif is nou net ʼn klik weg, terwyl lede ook vinnig na al die nuutste nuus rakende die vakbond se bedrywighede kan loer.”

Gouws sê daar sal deurlopend werk gedoen word om die huidige app te verryk, te verbeter en te vergemaklik ten einde te verseker dat dit aan Solidariteit-lede se behoeftes voldoen. “Ons werk reeds aan die volgende fase waar ons baie meer wil bied, soos die moontlikheid dat lede hul lidmaatskapinligting kan opdateer en ledekaarte elektronies kan besigtig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.