Solidariteit se noodfonds kry meer as R5 miljoen

Solidariteit Beweging Noodfonds. (Foto: Verskaf)

“Te midde van die krisis, sien ons met dankbaarheid soveel genade.”

Só sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, nadat die Solidariteit Beweging se noodfonds die R5 miljoen-kerf verbygesteek het.

Die noodfonds, wat einde Maart gestig is om onder meer kinders en bejaardes met noodvoeding te help, beloop tans R5,2 miljoen. Skenkings vir die fonds het sedert verlede week Donderdag in presies ʼn week se tyd van R3 miljoen met meer as R2 miljoen  toegeneem.

Hermann sê dat van die geld wat ingekom het, alreeds bestee is. Altesaam 782 gesinne is in die week van 4 tot 10 April in die Helpende Hand se nege streke en drie Ons Plek-sentrums met kontant of produkte gehelp. ʼn Verdere 74 instansies is in dieselfde week deur Helpende Hand bygestaan.

Die fonds word deur Solidariteit Helpende Hand bestuur en word deur instellings van die beweging soos AfriForum, Solidariteit, Solidariteit Helpende Hand en die FAK ondersteun.

Buiten die noodvoeding, staan die fonds ook Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) by om te sorg dat leerders op Wolkskool, die SOS se e-leerstelsel, voortgesette onderrig tydens die Covid-19-krisis kan kry.

Die Wolkskool het nou al meer as 93 000 leerders wat geregistreer is. “Binne dae het ons reeds ʼn matriekskool gebou,” sê Hermann.

ʼn Totaal van R120 000 is reeds vir dié matriekskool aangewend. Hermann sê hulle begroot om so R300 000 in totaal op die skool te bestee. ʼn Verdere R1,2 miljoen gaan ook gebruik word om nuwe ontwikkelinge vir die Wolkskool te doen.

Hermann sê dié noodfonds moet nie met die regering se Solidarity Fund verwar word nie, want dit verskil van mekaar. “Die regering het sy eie fonds met sy eie doelwitte, terwyl die Solidariteit Beweging se noodfonds ’n helpmekaarfonds uit die gemeenskap, vir die gemeenskap is.”

Hermann het vroeër gesê dat afgesien van die derduisende rande wat groter maatskappye aan die fonds geskenk het, het honderde klein bydraes van gewone mense ingestroom. “Dit is danksy gewone mense dat Solidariteit Helpende Hand en die Wolkskool hierdie wonderlike werk kan doen. Baie mense gee wat hulle kan. Die fonds groei daagliks, maar die nood word ook elke dag groter.”

Hermann sê van Solidariteit se kant af is hulle baie dankbaar vir almal se bydraes.

“’n Krisis kan die mooiste en lelikste van ’n gemeenskap uitbring. Die afgelope tyd het ons soveel mooi uit die gemeenskap gesien; mense reik op ’n groot skaal na mekaar uit. Met dié noodfonds is dit is ’n wonderlike belewenis om soveel mooi in mense se harte te sien.”

Die platform waar mense skenkings kan maak, bly onbepaald oop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oujongvrou ·

Dankie solidariteit. Ek dink daai wolkskool kan ook sommer aangaan nadat skole heropen het. Duisende ouers sal liewer hierdie ondersteun vir n fooi as wat hulle kinders openbare skole bywoon waar hulle geboelie word en die skuld kry vir rassisme om elke hoek en draai . Dink daaraan.

Stefan ·

Dis baie mooi, dankie mense.
Maar wat is 5 miljoen as ons net ‘n paar weke 3500 miljoen in SAA se bodemlose put gedump het, hulle wil nou nog 10.000 miljoen hè!

SomeOne ·

solidariteit, ek hoop julle het die nodige beveiliging by die skool, want ander gaan sommige misdadigers die skool teiken net vir die “fun” daarvan, aangesien daar soveel skole met brande beskadig is

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.