‘Solidariteit se staking byt nou seer’ by Sasol

Solidariteit-lede en lede van die gemeenskap betoog teen Sasol se Khanyisa-aandeleskema in Secunda in Mpumalanga (6 September 2018). Foto: Reint Dykema

Sasol se lisensie vir toegelate oortydure tydens sy jaarlikse sluiting van sy Sasolburg-aanleg is opgeskort terwyl instandhouding by sy Secunda-aanleg etlike ure agter is weens Solidariteit se sloerstaking.

Die nasionale bedingingsraad vir die chemiese bedryf het Sasol skriftelik in kennis gestel dat dié lisensie met onmiddellike effek opgeskort is.

Gerhard Cloete, ʼn woordvoerder van Solidariteit, het gesê Sasol doen vir dié lisensie aansoek om toestemming te kry om oormatige oortydure te werk sodat die jaarlikse sluiting op ʼn veilige wyse kan geskied.

“Met die opskorting van dié lisensie beteken dit daar mag nou nie meer oormatige oortydure gewerk word nie.” Die lisensie is opgeskort nadat Solidariteit gekla het dat personeel, wat glo nie die nodige klaring en sertifisering het nie, die Sasolburg-aanleg in bedryf gehou het.

“Na regte moes ʼn stoomaanleg weens veiligheid by Sasol 1 Saterdagoggend gesluit word omdat Solidariteit-lede tydens die dagskof sou staak. Solidariteit-lede wat wel Vrydagaand se nagskof gewerk het, het aangebied om Saterdagoggend langer te werk om die aanleg veilig af te skakel.

“Sasol het egter die besluit geneem om die betrokke aanleg in bedryf te hou met personeel wat nie oor die nodige klarings en sertifisering beskik om daar te mag werk nie. Dit het natuurlik groot kommer oor die veiligheid van werknemers by die aanleg laat ontstaan. Die besluit om die aanleg met die dienste van werknemers wat nie daartoe bevoeg is nie aan die gang te hou, is roekeloos,” het Solidariteit vroeër gesê.

Volgens Cloete is instandhouding by Sasol se aanleg in Secunda reeds tot 96 uur agter skedule. In Sasolburg is produksie by een aanleg geraak en instandhouding by die ander.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het intussen gesê die opskorting van die lisensie kan ʼn reuse-impak op die instandhoudingsprojek hê. “Solidariteit se staking byt nou seer. Elke uur agter is miljoene rande.”

Solidariteit-lede by Sasol staak in opstand teen fase 2 van die Khanyisa-personeelaandeleskema. Ingevolge dié skema sal swart werknemers by Sasol R500 000 aandele by die maatskappy ontvang, terwyl wit werknemers, ongeag hul posisie of diensrekord by Sasol, geensins aan die fase mag deelneem nie.

Solidariteit meen dat Sasol se beleid in ’n suiwer rassebeleid van uitsluiting ontaard het. Sasol hou egter voet by stuk dat die aandeleskema deel is van die maatskappy se transformasieplan en ten doel het om die ongeregtighede van die verlede reg te stel.

Gesprekke tussen die partye sal eerskomende Woensdag voortgesit word onder die toesig van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA). Dit volg nadat die KVBA ingevolge artikel 150 van die Wet op Arbeidsverhoudinge die partye genader het om die dispuut te help oplos.

Die hooggeregshof in Johannesburg het intussen Vrydag beslis die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (oftewel Nedlac) moet sy aanvanklike besluit om Solidariteit se aansoek vir ʼn nasionale staking van al die vakbond se lede te weier, heroorweeg.

Solidariteit het aansoek gedoen vir toestemming dat al 180 000 Solidariteit-lede die reg het om in solidariteit met Sasol-werkers te staak. Solidariteit het Donderdag die aansoek ingevolge artikel 77 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, wat werkers die reg gee om in sosio-ekonomiese belang wettig te betoog, ingedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Blue Butterfly

Wel gedaan met die staking. Tyd dat ons net stilbly en alles gelate aanvaar is hopelik verby. Ek steun julle 100%.

piper

en steeds sien ek geen dansende betogers wat bande brand winkels plunder, paaie versper klippe gooi ens. nie.

Lendl Metcalf

Ons is nou wel in die miderheid, maar dit wys jou watter impak ons steeds het en watter verlies Sasol ly met n slegs n sloerstaking. Wittes het nie nodig om te brand en breek nie, ons werk net bietjie stadiger. Ons sal die land tot in ‘submission’ wurg indien die regering aanhou met hulle blatante rassisme teen blankes. Ons het nog die hef in die hand, dis tyd om die regering net weer te herineer met wie hulle te doen het. Die blanke man is geduldig, maar as jy sy kultuur, self-determinasie of nalatenskap bedreig, dan gaan jy n… Lees meer »

Adrian

Mooi …. beautiful ???

Hansie Slim

Sasol manne, ons is trots op julle!!!!