‘Solidariteit se staking byt nou seer’ by Sasol

Solidariteit-lede en lede van die gemeenskap betoog teen Sasol se Khanyisa-aandeleskema in Secunda in Mpumalanga (6 September 2018). Foto: Reint Dykema

Sasol se lisensie vir toegelate oortydure tydens sy jaarlikse sluiting van sy Sasolburg-aanleg is opgeskort terwyl instandhouding by sy Secunda-aanleg etlike ure agter is weens Solidariteit se sloerstaking.

Die nasionale bedingingsraad vir die chemiese bedryf het Sasol skriftelik in kennis gestel dat dié lisensie met onmiddellike effek opgeskort is.

Gerhard Cloete, ʼn woordvoerder van Solidariteit, het gesê Sasol doen vir dié lisensie aansoek om toestemming te kry om oormatige oortydure te werk sodat die jaarlikse sluiting op ʼn veilige wyse kan geskied.

“Met die opskorting van dié lisensie beteken dit daar mag nou nie meer oormatige oortydure gewerk word nie.” Die lisensie is opgeskort nadat Solidariteit gekla het dat personeel, wat glo nie die nodige klaring en sertifisering het nie, die Sasolburg-aanleg in bedryf gehou het.

“Na regte moes ʼn stoomaanleg weens veiligheid by Sasol 1 Saterdagoggend gesluit word omdat Solidariteit-lede tydens die dagskof sou staak. Solidariteit-lede wat wel Vrydagaand se nagskof gewerk het, het aangebied om Saterdagoggend langer te werk om die aanleg veilig af te skakel.

“Sasol het egter die besluit geneem om die betrokke aanleg in bedryf te hou met personeel wat nie oor die nodige klarings en sertifisering beskik om daar te mag werk nie. Dit het natuurlik groot kommer oor die veiligheid van werknemers by die aanleg laat ontstaan. Die besluit om die aanleg met die dienste van werknemers wat nie daartoe bevoeg is nie aan die gang te hou, is roekeloos,” het Solidariteit vroeër gesê.

Volgens Cloete is instandhouding by Sasol se aanleg in Secunda reeds tot 96 uur agter skedule. In Sasolburg is produksie by een aanleg geraak en instandhouding by die ander.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het intussen gesê die opskorting van die lisensie kan ʼn reuse-impak op die instandhoudingsprojek hê. “Solidariteit se staking byt nou seer. Elke uur agter is miljoene rande.”

Solidariteit-lede by Sasol staak in opstand teen fase 2 van die Khanyisa-personeelaandeleskema. Ingevolge dié skema sal swart werknemers by Sasol R500 000 aandele by die maatskappy ontvang, terwyl wit werknemers, ongeag hul posisie of diensrekord by Sasol, geensins aan die fase mag deelneem nie.

Solidariteit meen dat Sasol se beleid in ’n suiwer rassebeleid van uitsluiting ontaard het. Sasol hou egter voet by stuk dat die aandeleskema deel is van die maatskappy se transformasieplan en ten doel het om die ongeregtighede van die verlede reg te stel.

Gesprekke tussen die partye sal eerskomende Woensdag voortgesit word onder die toesig van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA). Dit volg nadat die KVBA ingevolge artikel 150 van die Wet op Arbeidsverhoudinge die partye genader het om die dispuut te help oplos.

Die hooggeregshof in Johannesburg het intussen Vrydag beslis die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (oftewel Nedlac) moet sy aanvanklike besluit om Solidariteit se aansoek vir ʼn nasionale staking van al die vakbond se lede te weier, heroorweeg.

Solidariteit het aansoek gedoen vir toestemming dat al 180 000 Solidariteit-lede die reg het om in solidariteit met Sasol-werkers te staak. Solidariteit het Donderdag die aansoek ingevolge artikel 77 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, wat werkers die reg gee om in sosio-ekonomiese belang wettig te betoog, ingedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Blue Butterfly ·

Wel gedaan met die staking. Tyd dat ons net stilbly en alles gelate aanvaar is hopelik verby. Ek steun julle 100%.

piper ·

en steeds sien ek geen dansende betogers wat bande brand winkels plunder, paaie versper klippe gooi ens. nie.

Thinus Erasmus ·

Dit is baie mooi en goed hoe Solidariteit staak en baie sterkte daarmee. Ek is egter baie jammer om jul in kennis te stel dat SASOL niks voel nie, nie tyd of geld maak vir hulle saak nie, hulle het klaar besluit en sal laat Solidariteit staak totdat die laaste staker aan natuurlike oorsake sterf.
MAAR as jul bietjie geweldadig raak en mense dreig en motors met klippe gooi en winkels plunder; dan sal hul vir seker ingee en jul nog boonop ‘n eenmalige bonus gee – dis hoe dit in SA werk!
(as jul nie weet hoe nie, kry maar net die plaaslike EFF aan jul kant met beloftes van grond en geld, dan wys hulle hoe dit gedoen word)

Lendl Metcalf ·

Ons is nou wel in die miderheid, maar dit wys jou watter impak ons steeds het en watter verlies Sasol ly met n slegs n sloerstaking. Wittes het nie nodig om te brand en breek nie, ons werk net bietjie stadiger. Ons sal die land tot in ‘submission’ wurg indien die regering aanhou met hulle blatante rassisme teen blankes. Ons het nog die hef in die hand, dis tyd om die regering net weer te herineer met wie hulle te doen het. Die blanke man is geduldig, maar as jy sy kultuur, self-determinasie of nalatenskap bedreig, dan gaan jy n groot probleem he op jou hande. Try hom, die regering gaan nog spyt wees!

Roeks Griessel ·

#sasolmustfall
Die werkers moet staak tot dat Sasol nie net in gee nie maar 180 grade omkeer maak plus nog.

Tikkel tokkel ·

Ander burgers landwyd kan ook hul ontevredenheid uitspreek deur weg te bly van SASOL pompe.

Johan ·

Ek bly reeds weg van enige Sasol en verwante pompe. As ons mense ook andere verhoed het om te gaan werk sou dit ‘n groter impak gemaak het en Sasol tot stilstand gebring het. Sterkte manne ons is trots op julle.

Jozi ·

Ek boikot ook die Sasol garage. Sal nooit weer daar stop vir brandstof nie.

Joey ·

Ek vra net uit nuuskierigheid… word die personeel betaal terwyl hul staak.

TheStand ·

Nee. Dit is onbetaald. Maar hul kan verlof insit en deelneem aan die staking.

Staak ·

Ek hoop nie die oomblik wat hulle om die tafel gaan sit skik hulle vir minder as die R500 000 aandele nie.
Die verlede kan nie verander of reggestel word nie, die toekoms is onseker en dit kan jy verander, enige persoon wat glo dat jy ongeregtighede uit die verlede kan reg stel is n dwaas.

M.V. ·

Die mense moet asb nie ingee nie. As hulle ophou met die staking sonder om hulle eise te kry kan ons blankes maar weet dis verby. Dan is ons in ons glorie in.

Theo ·

Help my bietjie reg , wat moet reg gestel word by die wit manne in hoe poste wat elk R20 000. 00 se shares kry. Dit is vir my n bewys sekere wit mense worrie net oor hul eie sak en voel niks vir hulle wit mede werkers wat eindelik die werk doen dat hy in so n posisie kan sit. Sterkte ek staan saam julle

Andre C ·

Is daar al n hulpfonds gestig om n bydrae vir stakers te maak!

Casper Labuschagne ·

Hierdie protes moet inderdaad landwyd uitbrei. Ek wil graag sien dat al die wit gronddiewe wat skuldig is aan die oorspronklike sonde van Jan van Riebeeck se vestiging, vir ‘n dag of ‘n week lank ophou werk en eerder op straat protesteer omdat hul bestaansreg nou toenemend van hulle ontneem word, laat staan nog hul minderheidsregte wat veronderstel was om deur die grondwet beskerm te word.

VanAfrika ·

Hierdie staking is van n ander land, ons stakers is gewoonlik in rooi geklee en plunder so ver hulle gaan en rand voor die voet mense aan wat regtig wil werk vir n beter lewe

Johann du Toit ·

Kan iemand vir my sê of werkers finansieël gebaat het by die vorige Sasol personeel – aandele inisiatief, Sasol Inzalo? Sosiale media wil dit hê dat hierdie aandele nie op die aandelebeurs noteer was nie en dit nie, soos gewone Sasol-aandele, ‘n markwaarde het nie.

Jacob Malan ·

Bly staak tot hulle almal gelyk behandel. Of tot Sasol in meer probleme raak deur die staking.

Diefie ·

Trots op julle. En sterkte. Hoop slaghuis skenk wors sodat julle dit kan verkoop aan die wat wel werk, so kan julle darem ‘n geldjie maak.

Nuuskierig ·

Wonder oor die terugbetaling van Inzalo aandele wat oral in die nuus was. Dit sou 17/9 gewees het. Daar is wel rondom 15/9 n betaling aan werknemers gemaak maar die res wat deel was van die skema het niks gekry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.