Solidariteit stel miljarde rand se netwerk van werk bekend

Solidariteit het vandag ’n netwerk van werk met ’n vyfjaarbegroting van R4,5 miljard aangekondig. Die Solidariteit NetWerk gaan ʼn omvattende alternatiewe skoolstelsel, ’n beroepskollege, universiteit, studiehulp, ’n jeugbeweging, ’n netwerk van beroepsgildes, mentorskappe, werkplasing, beskerming in die werkplek en voortgesette opleiding insluit. Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gaan die NetWerk die volle loopbaanpad saam met sy lede stap.

“Die Solidariteit NetWerk is ’n reusesprong die toekoms in. Alhoewel emigrasie nou weer ’n warm gesprek is, bly die meeste mense net hier. Dit help nie om in moedeloosheid te verval nie. Ons het net een alternatief en dit is om ons goed te vat en te bou. Ons moet die bul by die horings pak en die voorwaardes skep om vry, veilig en voorspoedig hier te kan bly. Die rede hoekom ons suksesvol gaan wees, is juis omdat ons geen alternatief het nie,” sê Hermann.

Die Solidariteit NetWerk steun sterk op opleiding. Van die grootste projekte wat aangepak gaan word, is die uitbou van Akademia tot ’n volwaardige universiteit met ’n kampus, sportvelde, koshuise en ʼn studentelewe. Solidariteit se beroepsopleidingskollge, Sol-Tech, gaan ook ’n nuwe, moderne kampus met koshuise en sportgeriewe kry.

Nog ’n nuwe inisiatief van die Solidariteit NetWerk is die ontwikkeling van ’n volledige, alternatiewe Afrikaanse skoolstelsel deur die Skoleondersteuningsentrum wat ondersteuning aan openbare skole bied, maar wat ook die vestiging van ’n nuwe skoolnetwerk sal insluit. Daar gaan dus ’n volledige Afrikaanse wêreldklas private opleidingspyplyn gebied word.

“Die feit dat die Solidariteit NetWerk so groot belê in opleiding, is ’n harde politieke standpunt wat sê ons bly net hier en beplan vir die volgende geslag. Die Solidariteit Navorsingsinstituut het onlangs ’n verslag gepubliseer wat bevind het dat veral Afrikaners weer meer kinders kry. Ons moet dus nou beplan en bou vir ’n volgende geslag wat nou by kleuterskole sandkastele bou,” aldus Hermann.

Die Solidariteit NetWerk gaan steeds in ’n groot mate op beskerming in die werkplek fokus. Die stryd teen die regering se obsessie met ras gaan verskerp word en meer hofsake en verdere klagtes by die Verenigde Nasies kan verwag word. ’n Nuwe verwikkeling is dat ’n netwerk van beroepsgildes gestig gaan word. Hierdie gildes gaan vir jongmense toegang tot die werkplek help gee en gaan ’n mentorskapprogram begin. Die gildes gaan ook vir die belang van die beroep optree en gaan verdere opleiding deur Solidariteit se nuwe maatskappy, S-leer, fasiliteer.

Volgens Hermann is die Solidariteit NetWerk ’n antwoord op die Vierde Industriële Rewolusie en op ’n staat wat verswak. Baie dienste wat voorheen deur die staat gelewer is, moet nou deur die Solidariteit NetWerk ondervang word.

Die kerntema van die Vierde Industriële Rewolusie is verskuiwende kennis. Ons wil deelnemers aan die NetWerk op die voorpunt van kennis hou, maar die Solidariteit NetWerk en die stelsel wat dit aan mekaar gaan koppel, is op sigself nuwe verskuiwende kennis. Nuwe kennis gee antwoorde op vrae waarop daar nog nie voorheen antwoorde was nie. Ons kan die NetWerk van stapel stuur juis as gevolg van nuwe tegnologie. Die verskuiwende kennis erodeer ook die krag van die nasionale staat, en ’n minderheid kan in ’n onvriendelike omgewing antwoorde kry wat voorheen onmoontlik gelyk het.

Die inisiatiewe gaan deur verskillende bronne gefinansier word, maar een van die grootste nuwe inisiatiewe is ’n nuwe eiendomsbeleggingsmaatskappy, Kanton, wat ’n vennootskap tussen kapitaal en kultuur gaan fasiliteer. Beleggers gaan teen ’n gesonde opbrengs gewerf word om in die bou van ’n toekoms te belê. Die gemeenskap gaan dus, byvoorbeeld, kan belê in die bou van die Akademia-kampus en ’n finansiële en kulturele opbrengs daarop kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

66 Kommentare

Dries du Toit ·

Dit is ongelooflike goeie nuus. Ons moet regtig hierdie inisiatiewe met als in ons ondersteun terwille van ons kinders en kleinkinders. Dankie dr Hermann

Digitale ekonomie ook ·

Help die mense ook om in die digitale ekonomie te werk, programmeer en te verkoop, dan word ons wereldwyd bemagtig en kan inkomste van oorsee genereer.

Lourens ·

Hoop hierdie miljarde is in dollars want dit gaan een van die dae net n brood kan koop!

ADT ·

Wonderlike Afrikaners . Wens ons kon hulle in die parlement kry

Daniel ·

Nee wat, neef. Hierdie ouens is veels te veel werd om hulle daar te mors.

Dries ·

Kanselleer jou DSTV en skenk daardie geld aan hierdie inisiatief.

Johann v Heerden ·

Hoe kan mens meer te wete kom van die program. Veral die beleggings?

RATEL ·

Mooi Solidariteit! Die Afrikaner slaan terug. Sal sien hoe die ANC die een gaan probeer stop. Maar dit beteken ook ons hou die geld onder mekaar! Blink gedagte!!!! Greintjie hoop in die DOnKER tye. Godsspoed vir jul plan.

Dawid ·

Pragtig, positief en ‘n stap in die regte rigting. Ons bou eerder voor ons afbreek.

Anneli ·

Om te bou is nou maar eenmaal in ons gene! Baie dankie vir hierdie inisiatief.

Disselboom ·

Mens aanvaar dat die huiswerk gedoen is, ook oor Kanton, om opbrengs op belegging in onderwys-eiendom te kry. Dit gaan interessant wees om dit dop te hou en te sien wat Kanton anders gaan doen as wat die beleggersvertroue in die aandeelprysbewegings van genoteerde maatskappye soos Curro, Stadio en Advtech die afgelope twee jaar wys.

RG ·

Private aandele belegging, ja, dis weereens die antwoord. Dis nie “skenk” nie Dries, dis aandele belegging waaruit burgers wat daarin bele ‘n opbrengs sal verdien en gaan hopelik nie net weer ‘n paar ‘broederbonders’ verryk soos in die vorige eeu nie. Puik initiatief.

Andreas ·

Cyril en diegene wat die minderheidsgroepe hul regmatige plek in die son ontsê, kan nou maar net in verwondering en afguns kyk soos hierdie magtige masjien momentum kry. Hulle sal Solidariteit weer uitkryt dat hy weerbarstig is en nie met die ANC regering wil saamwerk nie.

Lesufi sal rook die lug in blaas, maar daar is niks wat hy daaraan sal kan doen nie. Hy sal my aan ‘n bul laat dink wat hangkop die aftog blaas, dan so vir oulaas met die voorpote in die grond grawe as hy wegstap.

Blommie ·

Fantasties Solidariteit!!! “En hoor jy die magtige dreuning!!!”

lizzi ·

Ek sou wat wou gee om betrokke te wees, wonderlike nuus!!!!!!

Leonard ·

Dis goed om te sien dat die konsep om kapitaal te versamel vir onderwys na vore kom. Dis nie maklik om eiendomsbelegging wat met onderwys verband hou, in wins om te skakel nie. En nog moeiliker om beleggings in onderwys te kry vir onderwys wat kulturele verbintenis het, soos ‘n Christelik-Afrikaanse skool. Stem met Disselboom saam dat dit interessant gaan wees om Kanton dop te hou.

Die finansies van ‘n privaatskool wat regtig vir die kinders omgee en nie maar net kultuurloos produkgedrewe is nie, is ‘n lang en harde pad en nie vir kitsbeleggers of bang mense is nie.

Solidariteit lid ·

Wanneer gaan Solidariteit na sy lede, wat enkelouer, weduwee, werkloos, of nie die finansies vir tersiere of enige naskoolse opleiding vir hul kinders kan bekostig nie, ondersteun of dit nou beurse of enige ander hulp. Al twee my kleinkinders behoort aan Solidariteit vandat hul uit die skool is (ek betaal die een se ledegeld omrede hy nog nie permanente werk kon kry nie). Die jongste seun het verlede jaar matriek geskryf maar nogsteeds nie werk gekry nie.
Help asseblief!!

Ig ·

Solidariteit Lid, jy weet mos wat is die leuse, Selfdoen is beter as niksdoen. Jy laat my dink aan die Anc lede wat alles verniet wil hê net omdat hy n lid is. Niemand op aarde skuld jou enigiets nie, As jy lid is net om n pensioen, werk of wat ookal te kry vir n minimale maandlikse bydrae moet jy by n ander organiesasie aansluit maar ek vrees dit gaan moelik wees om een te vind

Alida van Niekerk ·

Maar Solidariteit lid, Helpende Hand se studiefondssentrum gee al jare lank beurslenings vir tersiêre studies aan enige tersiêre instansie, nie net vir universiteitstudies nie. En lede se kinders kry voorkeur met die toekenning van die beurse. Gaan net op Helpende Hand se webblad en kyk waar jy moet aansoek doen. Dis ‘n studielening, maar dis rentevry. En as die student baie goed presteer, skakal hulle in verdienstelike gevalle die lening om in ‘n beurs.

Johan ·

Solidariteit het my dag gemaak! Dit is ‘n omgee organisasie wat nie net praat nie, maar doen ook!

zoom zoom ·

Wat sê ons edele lur van onderwys Lusufi van die stelsel. Hy gaan sekerlik iets te sê hê oor dit

Marie ·

Hy sal die idee probeer kaap en aan die einde is alles in elke geval apartheid se skuld…..Ek dink die inisiatief is briljant. Dankie Solidariteit.

Dirk ·

Nog n Afrikaner uitdaging vir die ANC/eff en CR wat met sy inhuldigingstoespraak gese het “there shall be no privilage”! Ons weet reeds hoe die haatdraendes reageer op Afriforum se plaasbeveiliging. Hulle behoort dieselfde te reageer aangaande hierdie inisiatief/uitdaging en hopelik sal Solidariteit anders as Afriforum n veilige ondeurdringbare omgewing kan bewerkstellig, Virseker en waarborg!

Ans Becker ·

Briljant! Dankie Solidariteit…dis nou mos “‘n boer maak ‘n plan” in aksie. Kan nie wag om iewers betrokke te raak nie!

Eddie ·

Tientalle plattelandse dorpies se fasiliteite lê relatief onbenut en kan in hierdie projek baie produktief betrek word ! Idiale en goedkoop infrastruktuur !

Kallie ·

Vestig die inisiatief aan die Weskus. Vergeet van Gauteng.

jaco ·

En hoe gaan hulle by wetlike vereistes van raskwotas verbykom? Dit gaan nie werk nie.

Deon ·

SEB en RA sal ‘n uitdaging wees. Opleiding ekslusief in Afrikaans ook, want sekere groepe word dan uitgesluit. Maar daar kan rondom dit gewerk word. Die grootste uitdaging is om jonges na opleiding te help om klein besighede te vestig, anders gaan hulle in elk geval emigreer met goeie kwalifikasies in die sak. Die 4de Industriële Revolusie kan oplossings verskaf. Vergeet van Pretoria as anker. Wyk eerder uit na die weskus en gebruik hierdie inisiatief as sneller vir verdere ontwikkeling.

Ronel ·

Die beste nuus op hierdie donderdagmiddag! Dis mos hoe ons Afrikaners is – sien uitdagings en DOEN! Ek het sommer nou meer hoop vir die toekoms in die eens pragtige land.

Hendrik ·

Die momentum van die Solidariteits Beweging is nou aan opbou en sal nie sommer gestuit word nie. Dit is noodsaaklik dat hierdie planne deur gevoer word.

Koos ·

As klomp wit mense nou klaar deur solidariteit se beroepskollege en universiteit is, nogal met solidariteit se studiehulp, Waar gaan hulle dan werk kry? Weet hulle regtig hoe lyk regstellende aksie en BEE? En hoe betaal hulle sonder werk daardie studieskuld terug.
NET die “regte” velkleur gee werk in die huidige SA. Kwalifikasies en ondervinding tel niks.
Na ‘n LANG gesukkel om werk te kry en gedurige afskiet van my kwalifikasies en ondervinding, het ek my universiteitsgrade afgehaal vanaf my CV. Een jaar militêre diensplig het ek na 2 jaar verander, en 4 jaar studie is verminder na 3. My CV sê bloot “studied at university”. Dis al.
Niemand het my OOIT oor dié leuens op my CV uitgevra NIE. My CV laat my eintlik dom lyk. Maar uiteindelik het ek wel weer ordentlike werk gekry. Skade en skuldlas van die werklose jare sal egter lank nog bly. Ek kan vergeet van aftree en pensioen.

Entrepreneur ·

Dit is hoekom hulle hopelik ook sterk klem op entrepreneursvaardighede sal le, veral op geleenthede in die nuwe digitale ekonomie.

Posduif ·

@Koos: Koos as ek jou reg verstaan was jy oor-gekwalifiseer vir die poste waarvoor jy aansoek gedoen het. Jy maak jouself toe so ‘n bietjie dommer op jou CV en lieg toe so ‘n stukkie by en……….. daar kry jy toe werk!!! Moedig jy jou werkswyse aan om vir mense te help werk kry, of deel jy maar net jou fustrasie so ‘n bietjie?
Hou goeie moed!!! Hulle se in die land van die blindes is die een-oog-koning!!!

Wian ·

Koos – die Soltech kollege is al langer as 10 jaar aan die gang, hulle lei honderde Afrikaanse studente jaarliks op en almal kry werk – ek weet, my seun was ook daar en al sy klasmaats het uitstekende werk gekry, sommer gou ook. Die eenvoudige rede – hulle was baie goed opgelei. Net omdat niemand jou wou aanstel is nie te sê dit gebeur met hierdie uitstekende resultaat wat die kollege lewer nie….

Blommie ·

Fantasties Solidariteit!!! “En hoor jy die magtige dreuning!!!”

PJC ·

Ek wonder wat gaan die ANC ,EFF en andere se reaksie hierop wees want dit is vir hulle ń doring in die vlees as wittes iets vir hulself doen en suksesvol daarmee is.

Matie ·

Wonderlik!!
Dankie vir mense wat OMGEE en DOEN.
Die kommentare hierbo sit n GLIMLAG op my gesig. Wel, meeste.
Ons kan, ons is bouers, nie brekers soos – my 4jarige seuntjie al weet en verstaan!!

Jakes ·

Staan saam burgers… staan saam!
Ons sal ons eie toekoms bou!

Elmarie ·

Ons het reeds n puik Christelike Volkseie onderwysstelsel deur die CVO-skole. Dis net jammer dat die Afrikaners die initiatief so swak ondersteun. Solidariteit kon al lankal hul gewig agter hierdie skole ingegooi het.

Johan Neuteman ·

Het ‘n paar vrae oor BCVO, maar dit is waar dat dit nogal eienaardig is dat Solidariteit geensins die bestaande opsies vir Afrikaanse privaatskole betrek of noem nie. Mens sou nog dink dit sal die saamstaan verbeter, en dalk help om dinge te versnel om bestaande organisasies te betrek. Maar dr Hermann skryf in Beeld dat die openbare skole se arms omhoog gehou gaan word – of so iets? Dit klop nie. Is dit nou die Doppers wat nie van die APK-mense hou nie?

aj ·

Eis een van die 5 Tuks kampusse vir Afrikaners en bou daarop.

Ons oumas en oupas het Tuks kampusse help bou met koeksisters en pannekoek fondsinsamelings.

Ons vra nie ‘n guns nie … ons bied ‘n vreedsame SKIKKING aan!

Hoopvol ·

Baie dankie Solidariteit !!! Ons dogter het haar dieselwerktuigkundige ambag deur hul tegniese kampus Sol-Tech gedoen en hul het sowaar diit wat hul adverteer nagekom………sy het haar leerlingskap dadelik by n goed gevestigde firma gekry en gaan volgende jaar kwalifiseer. Almal kan werklik by Solidariteit aansluit sodoende met bevonsing help. Dankie aan julle………….ek bly hoopvol!

jaco ·

Solidariteit het glo 500 000 lede, maar die VF-Plus het veel minder stemme as 500 000 gekry. Tog vreemd, aangesien solidariteit en die VF-Plus 99% dieselfde oor politiek en ander sake dink. So iewers is steeds van ons eie mense wat nie belang stel nie.

Andreas ·

En daar is ongeveer 1,500,000 Afrikaners in die land, dalk 2,000,000.

Alida van Niekerk ·

Wat op aarde laat jou dink dis net VF+ se ondersteuners wat lede van Solidariteit is? Ek kan jou verseker ek het in my lewe nog nooit vir die VF+ gestem nie, maar ek is al jare ‘n lid van Solidariteit. So ook ‘n hele klomp van my vriende en familie.

Wielspore ·

Dit is ‘n wenner van ‘n oplossing vir die onderdruktes, in my gedagtes sien ek die opstaan van ‘n nuwe generasie mense wat niks anders as sukses in hulle lewe soek. Hierdie konsep gaan groei tot ‘n mag waarvan kennis geneem moet word in ekonomiese en politieke vlak. Die wat nog nie lid is van Solidariteit, sluit aan, lede geld is relatief min en jou bydrae gaan vêr.

Frank ·

Wonderlik!
Wat van ‘n private sekuriteits maatskappy ook? Hieronder kan kommando sisteem, buurtwag en reserviste verenig…

Dalk kan jongmense weer ‘n jaar of 2 ‘diensplig’ doen en help om die sisteme op te rig…

Cefas ·

Wonderlike nuus Solidariteit.! Sterkte met all julle pogings, maar weet daar gaan teenkanting kom en beskuldigings van bevoordeling….julle ken mos al die ou afgesaagde stories. Groetnis.

MW ·

Maar wat is daar vir die “jongmense” wat al 30 se kant toe staan, elke tweede jaar werkloosheid in die oë staar , nie fondse het vir opleiding en nog minder om te emigreer. Ek weet nou van 5 gevalle wat nou nog nie hul laaste salarisse ontvang het nie ? Hoe kry hierdie mense hul menswaardigheid terug, besig in depressie te verval. Dis ook ‘n kwessie wat moet aangespreek word

Andre ·

Die beste nuus die jaar, wel gedaan Dirk Hermann en Solidariteit, dit gaan wonderlike geleenthede vir jong Suid Afrikaners bied, en uiteindelik sal hulle ouers en familie ook baat vind sodra hierdie jong entrepreneurs hulle eie besighede begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.