Solidariteit teleurgesteld oor aanbod in goudsektor

Argieffoto

Argieffoto

Die vakbond Solidariteit het vandag gesê hy is teleurgesteld met die finale aanbod wat die Kamer van Mynwese vandag in die goudsektor op die tafel geplaas het. Die aanbod, wat ʼn loonverhoging van tussen 4,6% en 6% vir vaardige werknemers behels, is laer as die mandaat wat Solidariteit van sy lede verkry het om voor te skik. Solidariteit is egter tevrede met die toegewings wat rakende die aftree-ouderdom van beide bo- en ondergrondse werkers gemaak is.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sal die vakbond die finale aanbod vir oorweging aan sy lede voorlê. “Indien die aanbod verwerp word, is die alternatief om te staak. Die voordeel wat ’n staking vir lede inhou, sal egter teenoor die impak wat dit op die volhoubaarheid van die mynbedryf sal hê, opgeweeg moet word,” het Du Plessis gesê.

Volgens hom is die aanbod van ’n R1 000-verhoging in die loon van intreevlak-werkers ’n gunstige aanbieding vir veral NUM- en Amcu-lede. “Ons kollegas by NUM en Amcu sal ook deeglik moet besin of ’n staking op die lange duur tot hul lede se voordeel sal strek in dié sektor wat tans om oorlewing veg,” het hy verduidelik. “Indien daar geen stakings in die goudsektor plaasvind nie, sal die sektor weer na normaal kan terugkeer en sal daarop gefokus kan word om produksie in die sektor te optimaliseer.”

Du Plessis het ook verduidelik dat werkers hul vergoeding sal kan aanvul deur produksiebonusse en winsdeling wat by sommige myne reeds in plek is.

Die Kamer van Mynwese het aan die vakbonde kans gegee om terugvoer te gee rakende die finale loonaanbod. Solidariteit sal teen 7 Augustus sy terugvoer lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.