Solidariteit ten gunste van ‘veilige’ terugkeer werk toe

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Solidariteit gee toe dat die terugkeer van werkers ná verlof of vakansie nuwe risiko’s inhou wat betref die verspreiding van Covid-19 in die werkplek. Die vakbond is egter van mening dat werkers te midde van die tweede golf infeksies steeds tuis kan werk of veilig na die werkplek kan terugkeer met die regte maatreëls wat geld.

Solidariteit het ’n tienpuntplan om gesond terug te keer werk toe aan honderde werkgewers gestuur. “Die uitgangspunt van die plan is dat werkgewers onverskrokke teen die virus, maar ook onverskrokke vir die ekonomie en werk moet wees,” verduidelik die vakbond.

Die plan behels dat werkers, waar moontlik, steeds van die huis af werk hoewel dit ook voorsiening maak vir behoorlike risiko-ontleding.

“Ingevolge die huidige regulasies mag, met enkele uitsonderings, werknemers na afloop van die vakansie terugkeer werk toe. Ons tienpuntplan is binne die bestaande statutêre raamwerk van die Covid-19-regulasies. Dié plan maak nie ’n keuse tussen werk en gesondheid nie, maar eerder ’n keuse vír gesonde werk,” sê Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit.

Dié tienpuntplan stipuleer dat gesondheidsprotokolle, waaronder die ontsmetting van werkplekke, die was en ontsmetting van hande, rekordhouding van diegene wat die werkplek betree, die handhawing van sosiale afstand en die versekering van goeie ventilasie, streng nagekom moet word.

“Gesondheid en veiligheid in die werkplek se kernpilaar is risikobestuur. Hierdie plan maak voorstelle vir verskeie maniere om risiko’s te bestuur insluitend die hersiening van protokolle met die nuwe uitdagings van Covid-19 in gedagte,” sê Mardon.

Lees die volledige plan hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.