Solidariteit tree toe as vriend van die hof in skole-godsdienssaak

Argieffoto: Don Mcphee/Guardian

Die vakbond Solidariteit het vandag bekendgemaak dat hy op 15 Mei aansoek gaan doen om as vriend van die hof (amicus curiae) in die grootste hofsaak oor die Christelike karakter van openbare skole toe te tree. Die saak spruit voort uit ʼn klein groep aktiviste wat ses skole weens hul Christelike karakter hof toe sleep.

Volgens Johan Kruger, adjunkbestuurshoof by Solidariteit, is dit vir Solidariteit uiters belangrik dat openbare skole die vryheid moet hê om ʼn Christelike karakter te kan kies. “Hierdie geloofsuitgangspunt is Grondwetlik moontlik, prakties uitvoerbaar en speel ʼn belangrike rol in die sukses van talle skole in die land,” het Kruger gesê.

Kruger verduidelik dat dit egter nie vir Solidariteit nodig was om aanvanklik as vriend van die hof in hierdie saak toe te tree nie, omrede die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) op 10 Maart 2016 as vriend van die hof, sterk standpunt ingeneem het vir skole se reg om hulle met ʼn bepaalde geloof te belyn. “Die SAOU het egter vanjaar op 28 Februarie hofstukke ingedien wat lynreg met hul aanvanklike eedsverklaring staan en teen die sterk pro-godsdiensstandpunt van hul lede en ledeskole indruis,” het Kruger verduidelik.

“Die SAOU se ommeswaai het Solidariteit met geen ander keuse gelaat as om tot die saak toe te tree nie,” het Kruger bevestig.

Die SAOU het intussen weer op 21 April van strategie verander deur hom van die saak te onttrek.

“Ongelukkig is daar steeds ʼn leemte in die hofstukke. Duisende onderwysers wat sterk daaroor voel dat skole ʼn spesifieke etos mag handhaaf se stemme word steeds nie gehoor nie. Solidariteit gaan dus voort om as vriend van die hof tot die saak toe te tree anders gaan die unieke stem van daardie roepingsgedrewe onderwysers nie gehoor word nie,” het Kruger gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Se maar net ·

Dis goed dat iemand iets wil probeer doen. Dankie Solidariteit.

Disselboom ·

Hier speel ‘n interessante stukkie magspel in Afrikanergeledere af. Tot verlede jaar 30 Augustus (en waarskynlik by nog geleenthede daarna) was die SAOU, Fedsas, Afriforum almal gemaklik onder die Solidariteit-sambreel in seminare en aanbiedinge; ‘n gemaklike vennootskap. Die wyse waarop die SAOU nou in die openbaar met ‘n harde en openlike aanslag deur Solidariteit beetgekry is, is sterk optrede en eintlik inmenging in ‘n ander organisasie se huishoudelike sake. Die verskoning dat die belangrikheid van die godsdiens-saak dit regverdig, gaan nie op nie: Solidariteit kon in elk geval ‘n vriend van die hof-aansoek geloods het. Dit ruik na dissiplinering onder ‘n sambreel vanuit ‘n meer sentrale beheer wat nie in die openbaar sigbaar is nie. Of op die minste vakbonde wat teenoor mekaar posisioneer. Of is die SAOU nie in staat om sy eie huishouding te behartig nie? Is dit ‘n eie huishouding? Hier is meer om waar te neem as wat dit lyk.

Andre Groenewald ·

Skoenmaker hou by jou lees. Chris Klopper en die SAOU speel ‘n onontbeerlike rol in die onderwys in Suid-Afrika. Kommentaar op Maroela Media tot die teendeel en voorspellings van die SAOU se einde getuig van ‘n grootskaalse onkundigheid. Herinneringe aan Wet 39 van 1967 se breinspoelende Christelik-Nasionale onderwys kom by my op – Christelike onderwys kan nie meer afgeforseer word nie – leef dit liewer! Onderwysers maak seker dat julle lid van die SAOU is en wees versigtig vir pogings van opportunistiese nie-onderwysspesialisinstansies wat julle van die SAOU wil afrokkel. Dubbele lidmaatskap, met onderskeibare doelwitte, is die antwoord. Die onchristelike optrede van Christene steek my dwars in die krop!

Ange ·

Stem saam Se maar net, dankie Solidariteit.

Ons skole is almal jare terug laat bou deur mense wat die Christelike beginsels geondersteun het (ek praat van Afrikaanse skole). Dieselfde beginsel geld vir Ateiste as vir die wat ewe skielik n probleem met Afrikaanse skole het- As julle n tjip op julle skouer het oor Christenskap – bou vir julle Ateistiese skole soos wat daar nou vir Afrikaanse Christen studente n privaat koshuis gebou moes word. Die Afrikaanse Christen skole was eerste hier. Hoekom moet ons weer skole bou, bou JULLE skole vir jul kinders.

Boerseun ·

Yip. Helfde, van die skole het nog Christelike leuses ook.

MCH ·

Dankie solidariteit vir jul ruggraat en hart wat op die regte plek sit. Mag jul uit jul sokkies geseen word vir jul onbaatsugtigheid vir wat vir ons belangrik is.

AL ·

Dankie Solidariteit dat jul baklei vir wat reg is. Christenskap is heilsaam tesame met dissipline en orde.

Drikus Kotze ·

Hierdie keer kan daar nie ‘n wen-wen situasie wees nie. God sê Hy is ‘n Enige Here.

Disselboom ·

Wat is die plan as die hofsaak dalk teen godsdiens in staatskole beslis? Is daar genoeg christelike wil en oortuiging om die staatskole dan te verlaat? Dit gaan ‘n toets wees of dit hier net oor afdwinging van regte gaan of werklik oor geloofsoortuiging.

Vra net ·

Wat my dronkslaan is die feit dat hierdie komende saak teen Christelike skole (en onderwys) gemik is. Wat van skole wat die Muslim, Joodse, Griekse ens. gelowe aanhang? Wat van die Universiteite en kolleges wat predikante en diesulke kerkleiers oplei? Dit is sekerlik so dat die meeste (ek dink ????) staat skole Christelik is, en dus onder ‘n ander kam geskeer word, maar ek kan sien hoe ander gelowe sal begin kapsie maak as dit hulle ook gaan raak? Of, is ek die klits iewers kwyt dat ek miskien iets nie weet nie?

Disselboom ·

Dis godsdiens in skole-saak soos dit tans kom, is ‘n aanslag op christelike skole. Dit lyk of niemand in elk geval enigsins navorsing doen of daar ooit staatskole is wat bv Joods of Moslem-getipeer is nie. Waarskynlik bestaan dit nie, iets wat ‘n vingerwysing na Afrikaner-Christene moet wees, dat ons toe ons aan bewind was, die skoolstelsel getipeer het en toe begin dink het ons is ywerige christene, maar toe dit moeilik word en ons self moet voorsien vir ons geloofsoortuiging sonder om aan die staat se spene daarvoor te kan suig, toe word ons te lig bevind; terwyl Jode en Moslems al lankal self verantwoordelikheid neem vir skoling en ooreenstemming met oortuiging.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.