Solidariteit veg voort teen rasafleggings by Barloworld

(Argieffoto)

Solidariteit het ’n dringende aansoek teen Barloworld Equipment in die arbeidshof ingedien om Barloworld se konsultasieproses gedurende sy onlangse afleggingsproses te betwis.

Volgens Solidariteit het Barloworld nie behoorlik gekonsulteer aangaande die kriteria wat gebruik is ten einde te besluit watter van sy werknemers afgelê word nie. Die kriteria behels ondermeer dat die keuse vir afleggings op grond van ras geskied.

“Ons is bitter teleurgesteld oor die onbillike manier waarop Barloworld die proses hanteer het. Die feit dat hulle nou nóg werkers op grond van velkleur afgelê het, vererger die alreeds kwaadwillige ondertone van die konsultasieproses,” sê Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van die metaal- en ingenieursbedryf by Solidariteit. “Ons kan nie toelaat dat staatsideologieë begin om die norm in die privaat sektor te word nie. Ras het ’n pertinente rol in die afleggingskriteria van Barloworld gespeel en dít kan nie geduld word nie.”

In sy onlangse uitspraak in Solidariteit se saak teen Barloworld het regter Moshoana aangevoer dat die vraag of transformasie deel kan wees van die kriteria tydens ’n afleggingsproses, nie gebruik kan word om te bepaal of ’n billike afleggingsproses gevolg is nie. Moshoana meen verder dat dié dringende hof nie die bevoegdheid het om oor substantiewe onbillikheid, soos die onwettigheid al dan nie van ras as seleksiekriteria, te beslis nie.

Solidariteit meen egter dat so ʼn presedent geweldige gevolge vir werkers reg oor die Suid-Afrikaanse ekonomie en werksmag sal hê.

“Solidariteit kan nie met hierdie uitspraak van die arbeidshof saamgaan nie en het reeds aansoek tot appèl ingedien. Ons is steeds van mening dat die afleggingsproses, soos deur Barloworld gevolg, onregverdig en diskriminerend van aard is en dat verdere regstappe nodig is om te verseker dat maatskappye nie onbillik optree en rasgebaseerde afleggings maak ten koste van lojale werknemers nie. ʼn Mens kan hoegenaamd nie ʼn boodskap aan maatskappye uitstuur dat hulle sommer net kan begin om werkers af te lê sodat hul persentasies vir transformasiedoeleindes beter lyk nie – veral nie in die lig van die grootste werkloosheidskrisis in ons land se geskiedenis nie. Werk moet nou geskep word. Werkgewers kan nie nou, van alle tye, mense aflê net omdat dit hulle verteenwoordigend gaan laat lyk nie.”

“Afleggings gegrond op ras is ʼn onding wat onmiddellik in die kiem gesmoor moet word. Ons kan nie toelaat dat dit die norm in ons werkplekke word nie. Solidariteit neem ferm standpunt in teen enige onbillike afleggings en veral teen afleggings gegrond op ras,” het Venter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hennie ·

Is dit nie tyd dat ons ‘n vermyding lys opstel van waar ons witgeld nie welkom is nie? Vra namens kers vader…

andre ·

Ek stem saam.die publiek moet deur die media ingelig word onder watter handelsname Barloworld equipment sake doen.

Miskruier ·

Wanneer ◼ ◻ die kriteria word vir werk, en nie kennis, uitnemendheid, entegriteit ens. is ons gedoem.

katerinadiekat ·

Dis lankal die kriteria, dis waarom die land nou n derdewereldse piesangrepubliek is.

Suzette ·

Ons is reeds daar – dit is hoekom die land is waar dit is. Met hierdie kriteria gaan dit net vinniger geskied. Ons is reeds Zimbabwe – dit vat net bietjie langer omdat hier meer is om af te breek….

Anel ·

Wie het Barlowworld begin? Difnitief nie een van our people nie. Maar di is mos hoe dit nou gaan. Jy begin ‘n besigheid, jou geld, hardewerk, kennis en wat nog word gebruik vir die opbou en dan MOET jy ten minste 50% aan onbevoegdes GEE. Waar in die wêreld werk dit so? In komunistiese lande. Jy mag niks hê nie, jy mag nie uit styg nie. Die armes word armer en rykes ryker. En dan het hulle die besigheid en môre, oormôre is die plek bankrot want hulle weer nie hoe om dit te bestuur nie. Voorstel, as ons mense nie goed genoeg is om by ‘n plek te werk nie is ons geld ook nie. Boikot hulle. Ek is seker daar is ander meubelwinkels wat sal kan help. In elke geval, wie het hulle ook geleer van skrynwerk? Ek probeer my bes om sover moontlik ons eie mense te ondersteun.

Louw ·

Barloword…. Caterpillar, Mercedes , BMW en Toyota behoort mos aan julle,? ek vra maar net.., Behoort Honda ook aan hulle? Ai, ek moet maar dink watse nuwe kar , of twee, ek gaan koop hierdie jaar…..Caterpillar is so n proud Amerikaanse produk…..en ek dink nie hulle is lus vir n rasse fight nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.