Solidariteit vereer ‘hedendaagse helde’  

Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand het uit eerbetoon vir gesondheidswerkers Maandag ʼn wit lint om die Unitas-hospitaal in Centurion gespan. (Foto: Solidariteit/Twitter)

Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand het uit eerbetoon vir gesondheidswerkers Maandag ʼn wit lint om die Unitas-hospitaal in Centurion gespan.

Die wit lint en strik is ʼn simbool van dankbaarheid vir die onbaatsugtige werk wat gesondheidwerkers nou al bykans 12 maande in die voorste linies van die Covid-19-pandemie bly lewer.

“Dit is ʼn ongelooflike eer om buite ʼn hospitaal te kan staan en ons gesondheidswerkers te kan vereer met die wete dat daar tans in hierdie gebou heldedade plaasvind om mense se lewens te red,” het dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

“Woorde kan nie ons dankbaarheid vir gesondheidswerkers se harde werk uitdruk nie. Ons bewonder hulle krag, moed en opoffering. Gesondheidswerkers is die hedendaagse helde van Suid-Afrika.”

Dr. Dirk Hermann van Solidariteit het gesê gesondheidwerkers verdien dus SA se buitengewone steun. (Foto: Solidariteit/Twitter)

Hermann het benadruk dat hierdie mense ongelooflike lang ure werk onder moeilike omstandighede en is buite verhouding aan die virus blootgestel.

“Hulle verdien dus ons buitengewone steun.”

Solidariteit moedig die gemeenskap aan om deel te neem aan die aksie en ʼn boodskap van waardering vir alle dokters, verpleegsters en ondersteunende personeel te skryf.

“Elkeen wat kan, moet asseblief die moeite doen om persoonlik hul boodskap vir ons gesondheidswerkers op die wit lint te kom skryf. Diegene wat dit nie kan doen nie; ons moedig julle aan om op ons webblad so ʼn boodskap te skryf, dan sal ons dit self op die strik gaan plaas.”

Om ʼn boodskap van waardering vir Suid-Afrika se gesondheidswerkers te stuur, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Snowball

Dankie vir die dokters, verpleegpersoneel en almal wat ‘n diens aan die gesondheidsektor voorsien. Mag die Here hulle seën en beskerm. Hulle toewyding gee lig in ‘n donker tyd. Dankie ook vir Solidariteit se gepaste herkenning aan hierdie mense.

Cd

Dankie vir Solidariteit en sy bondgenote se sinvolle en positiewe bydrae.
n Steunpilaar in vandag se korupte RSA.

Frieda

Dit is ‘n wonderlike gebaar!! Dankie vir al die gesondheids werkers en ook die skoonmakers van die hospitale!!