Solidariteit vergader met Hongaarse leiers

Verskeie hoofde van die Solidariteit Beweging het met leiers in Hongarye ontmoet. (Foto: Twitter/ Jaco Kleynhans)

Die Solidariteit Beweging het die afgelope week saam met verteenwoordigers van verskillende bedrywe in Hongarye ʼn vereniging in Boedapest tot stand gebring wat samewerking tussen Hongarye en Suid-Afrika sal bevorder. Dit volg nadat ʼn afvaardiging van die Beweging die afgelope twee weke met politici, sakeleiers, akademici en ander leiersfigure in Hongarye vergader het.

Die afvaardiging het bestaan uit Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by Solidariteit, dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai, Werner Human, Solidariteit se operasionele bestuurder, Ernst Roets, hoof van beleid en aksie van AfriForum, en Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Die Hongaars-Suider-Afrikaanse Vriendskapsvereniging is formeel as ʼn vereniging by die owerhede in Hongarye geregistreer en sal verskeie projekte fasiliteer. Solidariteit het verlede jaar reeds besluit om sy Europese netwerk ook na Sentraal- en Oos-Europa uit te brei met ʼn eerste sterk fokus op die vier lande wat deel van die Visegrad-groep is, naamlik Pole, Hongarye, Slowakye en Tsjeggië. Die vriendskapsvereniging sal ʼn heeltydse kantoor in Boedapest hê wat deur Hongarye gefinansier word.

Solidariteit wil veral deur dié nuutgestigte vereniging sakegeleenthede vir sy lede in Hongarye help ontgin, sodat lede van die Beweging hul internasionale bedrywighede kan diversifiseer.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, ontmoet lede van die Hongaarse parlement. (Foto: Twitter/ Ernst Roets)

Tydens die onlangse besoek is met verskeie senior regeringsleiers in Boedapest oor uitdagings en geleenthede samesprekings gevoer. Volgens Kleynhans het Solidariteit verskeie belangrike oogmerke met internasionale skakeling. Een daarvan is om kulturele vriendskappe in soveel moontlik lande te smee sodat daar veral ʼn groter bewustheid van Suid-Afrika se diversiteit geskep kan word.

“Terwyl ons in alle internasionale skakeling Suid-Afrika se enorme uitdagings van swak regering, korrupsie, misdaad en die Afrikaners se unieke belewenis van Suid-Afrika oordra, maak ons dit ook duidelik dat Suid-Afrika ʼn land van ongekende geleenthede is en dat die land nie afgeskryf moet word nie. Ons bevorder dus vriendskap, eerder as om net buitelandse kritiek en druk te probeer ontlont.”

Verdere doelwitte sluit in die bevordering van sake-geleenthede, akademiese samewerking, uitruil van landboukennis en -tegnologie en kulturele projekte om groter bewustheid van die twee streke se kulturele verskeidenheid te skep.

“Ons het tydens ons besoek ook met verskeie universiteite, akademici en politici wat akademiese beleid beïnvloed, vergader met die doel om ons eie opleidingsinstellings, insluitende Akademia en Sol-Tech, se internasionale bande te versterk. Ons verwag baie goeie samewerking oor die volgende paar jaar tussen ons instellings en universiteite in Hongarye.

“Solidariteit se planne om binnekort met landbou-opleiding te begin sal ook ʼn hupstoot kry met samewerking uit Hongarye,” het Kleynhans gesê. Verder beplan Solidariteit om met die hulp van groepe in Hongarye meer studente uit Suid-Afrika te stuur om met spesiale beurse in Hongarye te gaan studeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anton

Orban is een van die min wereld leiers wat nie oogklappe aan het nie

JM

Doen so voort, Solidariteit! Julle uitreik en samewerking met Hongarye behoort net positiewe resultate te behaal.

Willem

Mooi so!!Vertel buitewêreld van al die misdade en rassisme teen witmense in SA dat almal hul bellegings onttrek uit SA!!!

Althes

Mooi so Solidariteit! Dankie vir jul hardwerkendheid, deursettingsvermoë en al die suksesse wat jul al behaal het.
Julle is ons stemme wanneer daar teen ons gediskrimineer word en geweld teen ons aangehits word.

gatgogga

Miskien kan ons kinders nog eendag soontoe vlug.
Want ons wil mos nie ons samewerking gee vir ons eie toevlugsoord hier in die Kaap nie. Ai, tog!