Solidariteit vergader met minister oor Kubaanse ingenieurs

Solidariteit gaan met die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, en haar departement oor die aanstelling van 24 Kubaanse ingenieurs vergader. (Foto: @DWS_RSA
/Twitter)

Die vakbond Solidariteit sal op 10 Mei met die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, en haar departement oor die aanstelling van 24 Kubaanse ingenieurs vergader.

Maroela Media het vroeër berig dat Solidariteit op 26 April met ’n regsproses teen Sisulu begin het oor die invoer van Kubaanse ingenieurs vir waterinfrastruktuurprojekte in Suid-Afrika.

Die vergaderig volg nadat Solidariteit ʼn skrywe van die departement ontvang het in reaksie op die regsproses wat die organisasie aanhangig gemaak het om die wettigheid van die invoer van dié ingenieurs te bevraagteken.

“Die feit bly staan dat die Kubaanse ingenieurs nie aan die vereistes van die Suid-Afrikaanse Raad vir Ingenieurswese (Sari) voldoen nie en dus net beperk aangewend kan word vir die werk wat hulle veronderstel is om te doen,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

“Die kruks van die saak bly egter steeds dat Suid-Afrika oor genoeg ingenieurs beskik wat meer as voldoende kennis en ondervinding op eie bodem het om sodanige projekte aan te pak.”

Volgens Hermann verwelkom Solidariteit die departement se bereidwilligheid om te vergader en sal die uitkoms van dié vergadering bepaal of die regsproses voortgaan.

Die DA het intussen ook parlementêre vrae aan Sisulu gestuur waarin die minister versoek word om die besonderhede van die ooreenkoms tussen Kuba en Suid-Afrika bekend te maak.

“Suid-Afrika het talle opgeleide, werklose ingenieurs wat bevoeg en gewillig is om die regering met infrastruktuur-uitdagings by te staan,” het Leon Basson, DA-lid van die provinsiale wetgewer, gesê.

“Dit gaan my verstand te bowe waarom die departement Kubaanse ingenieurs – waarskynlik teen ʼn reusefooi vir die belastingbetaler – sal aanstel. ”

Volgens hom hou Sisulu se “flou verskoning” dat min Suid-Afrikaanse ingenieurs bereid sal wees om in landelike gebiede te gaan werk, geen steek nie.

“Solidariteit het ’n lys met 120 bevoegde plaaslike ingenieurs aan die regering verskaf. Dit bewys dat die aanstelling van die ingenieurs niks met die onbereidwilligheid van plaaslike ingenieurs te doen het nie, maar eerder ’n komplot van die ANC om Kubaanse geallieerdes te paai,” het Basson gesê.

Volgens hom moet Suid-Afrikaners verseker wees van die deursigtigheid van die  samewerkingsooreenkoms.

Benewens die besonderhede van dié ooreenkoms wil die DA ook weet watter stappe die regering vooraf gedoen het om te kyk of Suid-Afrikaanse ingenieurs nie eerder aangestel kon word nie. Hulle wil ook weet hoeveel die aanstelling van die 24 Kubane die belastingbetaler uit die sak gaan jaag én oor watter eienskappe dié ingenieurs beskik waaroor Suid-Afrikaanse ingenieurs nie doen nie.

Indien Sisulu nie op die DA se versoek gehoor gee nie, sal die party ’n aansoek ingevolge die Wet op die Toegang tot Inligting (Paia) indien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Probeer verstaan

Daar is een woord geldwassery.

Johann

Ja wel sterkte met die ANC se voorloper as dit kom by vermetelde onaantasbare arrogansie.

Suzette

Sy gaan haar afvee……

David

Ek doen instandhouding oral in Afrika op waterbehandelingstelsels, want ek is te wit om hier te werk.

Ek sal daai kubane ore aansit en enige tyd in landelike gebiede werk. Sisulu se verskoning is flouer as flou.

JohanR

Ek is die minister. Laat ek net my pruik regstel. Ek is die minister, nou bly stil!