Solidariteit verhoed dat niestakende werkers uitgesluit word

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van  Solidariteit Foto: Reint Dykema

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit sê sy lede sal nie deur die werkgewersagentskap die Federasie van Staal- en Ingenieursbedrywe van Suid-Afrika (Seifsa) van hul werkplekke in die metaal- en ingenieursbedryf uitgesluit word nie.

Die vakbond sê dit volg nadat hy vandag tydens ’n vergadering met die agentskap daarin geslaag het om sy lede in die bedryf teen Seifsa se beplande uitsluiting van werknemers te beskerm.

Seifsa het aanvanklik gesê dat hy, in reaksie op die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika (Numsa) se beoogde staking weens die loongeskil in die bedryf, ook niestakende Solidariteit-lede van die werkplek gaan uitsluit, maar het na aanleiding van Solidariteit se teenkanting daarvan van dié plan afgesien.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het Seifsa se nasionale bestuursraad aangedui dat die uitsluitingkennisgewing slegs op die stakende vakbonde van toepassing sal wees.

“Solidariteit is beïndruk met Seifsa se besluit om Solidariteit-lede van die uitsluiting te vrywaar. Ons is verder oortuig dat hierdie verwikkeling ’n welkome sukses vir kollektiewe bedinging is en dat dit die toonbeeld is van hoe werkgewers en vakbonde veronderstel is om saam te werk,” het Du Plessis gesê.

Daarby het Solidariteit en Seifsa ooreengekom om onmiddellik met salarisonderhandelinge voort te gaan. “Ons is gereed om die onderhandelinge met Seifsa voort te sit en is positief dat ’n gunstige ooreenkoms binnekort bereik sal word,” volgens Du Plessis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.