Solidariteit verlaag Eskom-looneis

                                                                                                 Foto: GCIS

Foto: GCIS

Die vakbond Solidariteit het aangedui dat hy sy looneis aan Eskom gaan verlaag ten einde die gaping tussen die werkgewer se aanbod en sy eis te verklein.

Dit volg nadat Eskom Maandag aangedui het dat hy die onderhandelinge na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys het. Daarby het die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika (Numsa) aangedui dat hy volgende week met ’n stakingsaksie gaan begin. Solidariteit het benadruk dat sy lede nie gaan staak nie.

Volgens Deon Reyneke, hoof van die energiebedryf in Solidariteit, het die vakbond afgesien van die ander vakbonde se eis vir ’n 12%-loonverhoging. “Eskom het besluit om die onderhandelingsproses na die KVBA te verwys nadat vakbonde sy jongste aanbod van 5,6% van die hand gewys het en op ’n loonverhoging van 12% aangedring het.

Solidariteit het geen ander keuse as om hom van die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) en Numsa se eise te distansieer nie.

Ons gaan aan die onderhandelinge by die KVBA deelneem in die hoop om ’n ooreenkoms wat vir beide ons en die werkgewer gunstig is, te bereik. Solidariteit eis tans onder meer ’n tweejaarooreenkoms wat ’n verhoging van 8,1% vir die eerste jaar en 9,1% vir die tweede jaar behels,” het Reyneke gesê.

Reyneke sê Eskom se aanbod van ’n 5,6%-verhoging vir die volgende drie jaar is nogtans teleurstellend, aangesien dit nie met die inflasiekoers tred hou nie.

“Numsa is bereid om aan ’n onwettige staking deel te neem omdat hy nie Eskom se aanbod wil aanvaar nie. Hoewel ons nie ten gunste is van Eskom se loonaanbod nie, sal ons nie aan ’n onwettige staking deelneem nie. Ons lede onderneem om steeds hul werk te doen om sodoende ’n noodsaaklike diens aan die publiek te lewer,” volgens Reyneke.

Die onderhandelinge sal hervat word wanneer die partye op 16 Julie 2014 by die KVBA aan die bemiddeling deelneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.