Solidariteit: ‘Verslag oor werkmag so gebrekkig as voorheen’

Dirk Groenewald

Dirk Groenewald

Die vakbond Solidariteit sê die 14de verslag van die Kommissie vir Billike Indiensneming herhaal soortgelyke foute en wanvoorstellings van data wat die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) al herhaaldelik in die verlede beklemtoon het.

Mildred Oliphant, minister van arbeid, het vroeër vandag die verslag bekend gestel en gesê daar is steeds te min swart mense in top-bestuurposisies en dat dié posisies deur wit mense oorheers word.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê Oliphant het tydens die bekendstelling van die verslag verwys na die huidige konsepregulasies oor gelyke indiensneming en gemeld dat dit nie die bedoeling van die regulasies is om iemand in die aangewese groepe, met spesifieke verwysing na bruin mense, te benadeel nie en dat enigeen wat die teenoorgestelde beweer, nie die waarheid praat nie.

“Terwyl dit wel so mag wees dat dit nie die minister se bedoeling is om benadeling te veroorsaak nie, sal die konsepmaatreëls, indien dit toegepas word, ongetwyfeld ernstige benadeling vir alle minderheidsgroepe in Suid-Afrika tot gevolg hê. Die fokus behoort nie te val op die bedoeling nie, maar op wat die werklike uitwerking daarvan sal wees, naamlik dat minderhede gedwing sal wees om na ander streke in die land te migreer om werk te kry.”

Die benadering wat die kommissie in vanjaar se verslag gevolg het, is opnuut ’n dogmatiese nakoming van die rassesamestelling van Suid-Afrika se ekonomies aktiewe bevolking (EAB) as enigste maatstaf om die vordering wat gemaak word met rassetransformasie te meet, terwyl enige en alle ander faktore wat relevant is vir rassetransformasie of die meting daarvan uitgesluit word.

“Deur nie oorweging te skenk aan faktore soos die poel van geskikte kandidate; ekonomiese omstandighede; en die dinamika van besigheidgroottes nie, hou die kommissie aan om ’n irrasionele en onvanpaste maatstaf te gebruik om die omvang van rassetransformasie in die arbeidsmark te meet. Die kommissie kan nie rasionele resultate verwag as sy ontleding irrasioneel is nie,” het Groenewald gesê.

“Soos tevore het die Diensbillikheidskommissie hoofsaaklik gefokus op die stadige rassetransformasie op topbestuursvlak, selfs al verteenwoordig die 22 571 persone op hierdie vlak minder as 0,5% van die totale getal werknemers wat deur die verslag gedek word.”

Lees ook:
Minister vaar uit oor “te min” swartes in bestuursposte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ria Maritz ·

” … minderhede gedwing sal wees om na ander streke in die land te migreer om werk te kry.”

OF – emigreer en ons verloor nog meer professionele mense.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.