Die Solidariteit Beweging het Vrydag adv. Bongani Majola, voorsitter van die Menseregtekommissie (MRK), in ’n brief versoek om die MRK se verdere betrokkenheid by die Eben Etzebeth-saak te staak. Dit volg ná adv. Buang Jones, hoof van regsdienste by die MRK, se uitlatings oor dié Springbokslot vroeër vandeesmaand.
Adv. Jones het vroeg in Oktobermaand verklaar dat Etzebeth “daaraan gewoond geraak het om met moord weg te kom”, asook dat hy van poging tot moord aangekla moet word. Hierdie stellings is gemaak nog voordat enige proses teen Etzebeth in die gelykheidshof ingestel is. “Dit is in werklikheid die MRK wat skuldig is aan partydigheid en tot rassespanning bydra eerder as dat hy dit bekamp,” sê Werner Human, Solidariteit se adjunkbestuurshoof.
Volgens Human is die wet duidelik daaroor dat geen kommissaris of personeellid op enige wyse mag optree wat die geloofwaardigheid, onpartydigheid, onafhanklikheid of integriteit van die MRK bevraagteken nie. “Die uitsprake van Jones doen die MRK se bedenklike reputasie gestand. Daarom is dit nodig dat die MRK hom aan die saak moet onttrek,” meen Human.
Luidens Solidariteit se brief het die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) ondersoek ingestel na die onafhanklikheid en onpartydigheid van ondersoeke wat die MRK hanteer. Die MRK se tekortkominge wat nou weer in die Etzebeth-aangeleentheid voorkom, is reeds in ’n verslag in 2017 uitgelig. “Die verslag dui ’n gebrek aan eweredigheid in die genoemde ondersoeke aan, wat gevolglik die omvang van onpartydigheid van die MRK bevraagteken,” sê Human.
Solidariteit het reeds in 2017 na aanleiding van bogenoemde ondersoeke met die MRK in gesprek getree.
Solidariteit eis in die brief dat die MRK bevestig dat Jones wel die nodige toestemming gehad het om namens die MRK op te tree, asook die besonderhede van die ondersoek na Jones se uitlatings.
Maroela Media het vroeër berig dat Solidariteit verlede Woensdag in die gelykheidshof aansoek gedoen het om as vriend van die hof tot die Etzebeth-saak toe te tree. Hulle ondersteun Etzebeth se hersieningsaansoek om die besluit van die MRK om gelykheidshof-verrigtinge teen hom in te stel, ter syde te stel. Dié stap dien as verskerping van Solidariteit se veldtog teen rassisme en dubbele standaarde.
Dit is tragedies dat die MRK homself tot op die vlak kry dat ‘n persoon ‘n aantyging maak en geld eis, en die MRK dadelik oordeel, en dit nogal deur ‘n advokaat, wat supose is om die wet en regstelsel te ken.
Ek sal graag wil sien dat alle mense wat “skuldig” bevind is deur die MRK hulle sake, met die hulp van Solidariteit, laat hersien.
In alle waarskynlikheid is hierdie die sinvolste optrede van enige liggaam ivm hierdie saak. Die onafhanklike handeling sonder vooropgestelde oordeel het niemand iets goed gedoen nie. Ons het nugter denkers in SA nodig. Nie populistiese opswepers. Hierdie geld vir alle Suid Afrikaners.
“Almal is gelyk voor die reg”.
Jaa, die sg Menseregte Kommissie se “onpartydigheid” laat veel te wense oor….
Buitendien is die MRK ook nét dit wat dit versinnebeeld : “menseregte”. In die Bybelse verband het ons, as mense, nie regte nie, slégs voorregte!
Hulle sal nie onttrek nie want kapokhaan wil van Eben n voorbeeld maak. Belaglik.
Ek stem saam, die MRK het té vinnig ‘n persoon skuldig bevind, nog voor enige papierwerk aan daardie persoon oorhandig is. En is mens nie onskuldig tot jy skuldig bevind is nie? Hier was ‘n geval hy is skuldig sonder enige behoorlike ondersoeke of dat hy kans kry om sy weergawe te gee.
Dis mos glad nie aanvaarbaar nie!
Amanda, ek verskil, dus nie die Mrk nie, die organisasie kan nie praat nie, dit is wel een van hul onvermoë amptenare se uitlatings