Solidariteit verwerp sensuur van nuwe regulasies

Argieffoto Foto: stevepb, Pixabay

Solidariteit het Dinsdag sy kommentaar op die Konsepwysigingswet op Rolprente en Publikasies wat onlangs vir openbare insette gepubliseer het, ingedien. In sy kommentaar takel Solidariteit die drakoniese inperkings op onder meer basiese regte soos vryheid van spraak en vryheid van uitdrukking wat deur die regulasies voorgeskryf word.

Volgens die regulasies sal alle aanlyn verspreiders van inligting by die Rolprent-en-publikasieraad (RPR) moet registreer en alle inhoud sal eers vir klassifikasie ingedien moet word voordat dit gepubliseer mag word. “Publikasie” sluit in enige drukvorm en aanlyn platform en is van toepassing op enige geskrewe of beeldmateriaal. Dit sluit selfs die publikasie van speletjies in.

ʼn Tarief word gehef vir hierdie sogenaamde reg om te mag publiseer.

Werner Human, adjunkbestuurshoof van strategie, regsake en navorsing by Solidariteit, meen hierdie regulasies is niks anders nie as ʼn nuwe vorm van sensuur wat die regering wil implementeer.

“Die regering is duidelik besig om regte in te perk en beoog om dít wat die wêreld en mense sien en lees te reguleer en te beheer. Dit is absoluut belaglik om te dink dat mense en ondernemings voortaan sal moet toestemming vra en ʼn tarief moet betaal voordat hulle enigiets in ʼn koerant of selfs op hul sosiale media mag publiseer,” sê Human.

Hy sê die implikasies van hierdie regulasies strek egter veel verder as internetdiensverkaffers of maatskappye en raak veral ook die kunste- en kommunikasiebedryf.

Solidariteit het sy kommer uitgespreek dat hierdie regulasies nie net vryheid van spraak sal inperk nie, maar dat dit ook enige vorm van kommunikasie wat vir publikasie geskep word, sal dikteer.

Marisa Engelbrecht, sektorhoof van Solidariteit se Gilde vir Kommunikasie en Bemarking, sê dit kan nie toegelaat word dat die staat absolute sensuur op kreatiwiteit toepas nie.

“Mense in kommunikasie-, ontwerp- of skryfberoepe gebruik hul roepingsgawes om hul talente [mee] uit te leef. Die staat mag hulle nie van hierdie reg ontneem deur hul ontwerpe en woorde in te perk nie. Hierdie regulasies gaan net nog ’n manier wees waarop die staat aan ons wil dikteer wat om te sê, doen en ontwerp. Ons sal nie toelaat dat ons lede in hul beroepe geboelie word nie,” sê Engelbrecht.

Volgens Hennie Bierman, hoof van die Gildes by Solidariteit, moet die regering dit in werklikheid makliker maak vir onder andere kunstenaars om hul werk te publiseer, en enige inperking op vryheid van uitdrukking deur die staat en sy ideologie moet ten sterkste teengestaan word.

“Met hierdie regulasies is die regering besig om kunstenaars se lewensaar af te sny. Teenstand en selfs opstand deur kunstenaars is nodig waar sensuur ter sprake is,” sê Bierman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mrs H ·

Dit lyk nie net na kommunisme nie, maar skep ook n beeld en indruk, dat die regering nie deursigtig wil regeer en meer korrupsie moontlik wil maak… wie weet, NOG onder die tafel se bruin koevertjies om toe gelaat te word om te doen wat tweede natuur in n ‘demokratiese’ omgewing behoort te wees… of hoe?

Vriendelike Frikkie ·

Hierdie berig wek twee teenstrydige gevoelens op. Eerstens, dis hoog tyd dat daar iemand die klomp gemors wat as nuus en kuns opgedien word, begin stop. Mense is al afgestomp met die klomp vals nuus wat versprei word. Tweedens, sodra ons weer begin met sensuur hardloop ons reguit terug na die drakoniese, en meesal belaglike, beperkings van die vorige regering. Enige vrye denke sal hardhandig aan bande gelê word. Bewaar jou siel as jy iets negatiefs oor die regering wil sê.

PH ·

Hoekom moet ek die ANC betaal om my skeppende kuns te beoefen?

PH ·

Dit is niks anders nie as nog ‘n vorm van belasting wat ‘n iemand aan die regering sal moet betaal omdat hy talente het. Waar gaan hierdie geld nou weer heen?

Jack ·

Ek dink dis n goeie ding as dit nie weer net n kleurding is nie of weer n nuwe vorm van belasting en outikrasie nie. Die goed wat bv by malema se mond uitkom is net haatspraak en ek wonder hoe hulle hom gaan stop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.