Solidariteit vs. Beeld lok vurige reaksie uit

Beeld se voorblad op 21 Februarie 2014

Beeld se voorblad op 21 Februarie 2014

Talle gebruikers van sosiale media het hul mening Woensdag uitgespreek oor Solidariteit se #ProPUK-veldtog teen Beeld.

Solidariteit het Woensdag met die veldtog begin nadat Flip Buys, die uitvoerende hoof, ʼn dispuut verklaar het teen Beeld oor die manier waarop die koerant beriggewing oor studenteaktiwiteit by die Noordwes-Universiteit se Puk-kampus in Potchefstroom hanteer het. Buys het ook versoek dat Afrikaanssprekendes nie meer dié koerant sal koop totdat die dispuut opgelos is nie. Klik hier om meer te lees.

Max du Preez, die rubriekskrywer en outeur, het Solidariteit se dispuut teen Beeld vergelyk met die ANC se boikot teen die City Press in 2012. Die City Press wou, ná ʼn versoek deur die ANC, nie die omstrede The Spear-skildery van sy webwerf verwyder nie. Die skildery het Zuma uitgebeeld met sy naakte geslagsdele en is later deur vandaliste beskadig.

Du Preez skryf verder op Twitter: “Die geskiedenis leer as ‘n koerant bloot sy lesers se vooroordele versterk, verloor hy geloofwaardigheid en sterf ʼn stadige dood.”

Sandra Botha, Suid-Afrika se voormalige ambassadeur in die Tsjeggiese Republiek, het op Twitter gesê sy verleng juis haar inskrywing oor Beeld se “sinvolle optrede”, waarop Zackie Achmat, aktivis en rolprentregisseur, geskryf het: “Ek ook!”

Johrné van Huyssteen, omroeper by OFM en musikant, het op Twitter aan Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê: “Ek dink julle moes maar eers met PUK-bestuur gepraat het. Is dit nie logies nie?” Van Huyssteen sê op Twitter hy is self ʼn oud-Puk, maar meen dit is die verkeerde roete om te volg.

Solidariteit se webwerf vir die #ProPuk-veldtog is Woensdag reeds meer as 13 000 keer besoek en meer 2 700 mense het die elektroniese petisie onderteken.

Die gebruiker @JohanPienaar wou weet: “Waarom maak Flip Buys van Solidariteit wanvoorstellings oor die omstandighede waarin ʼn dosent van Puk se diens tot ʼn einde gekom het?” Buys het in die ope brief gesê sy inligting is dat ʼn persoonlike vriendin van die Beeld-redakteur net voor die gebeure op ’n betreklik onsmaaklike wyse gevra is om die kampus se diens te verlaat na ’n skikking.

Steve Hofmeyr skryf op Twitter: “Ek het gewonder wie werk die hardste om Afrikaans & Afrikaners te sink: Afrikaanse media of Afrikaanse libs? #propuk”

Die gebruiker Anné Leonard (@anneleonardpta) het voorgestel dat Solidariteit eerder ʼn veldtog van stapel moet stuur vir behoorlike opleiding oor geskiedenis op skool. “Kinders moet die konnotasie met so ʼn saluut verstaan,” het sy geskryf.

Die gebruiker ‏@grietjieprinslo skryf: “Ek neem deel aan die veldtog #proPuk! Jy moet ook!! Afrikaans is kosbaar, en eendag moet my kinders ook in hul moedertaal kan studeer.”

Johann Weber (@WeberJohann) skryf: “Ek is #proPuk maar om vyande te maak met mense wat ink in dromme koop is selfmoord!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Justii ·

Ek soek nooit ooit weer die betrokke koerant naby my huis nie en sal nie my geld mors op dit nie.

Demokraat ·

Ek is nie ‘n aanstigter van gewend of opstand nie maar het die tyd vir die blankes en in hierdie geval veral vir die Afrikaners nie aangebreek om minder te praat en te onderhandel nie, maar op te tree ? Optrede is die enigste taal wat die hardekoppe verstaan – want praat en onderhandel is ‘n teken onderdanigheid of ondergeskiktheid – nee, ons is mos lankal nie meer bang nie.

Pierre Viljoen ·

Ek dink die hele ding word uit verband geruk en die studente onnodig veroordeel. As hulle die sogenaamde Victory of peace sign sou wys sou sekere mense dit ook ui verband kon ruk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.