Solidariteit weier ondertekening van Kumba-ooreenkoms

Argieffoto (Foto: Reint Dykema)

Solidariteit het aangekondig hy sal nie ’n salarisooreenkoms wat Kumba Iron Ore op sy lede wil afdwing, onderteken nie.

Dit volg nadat Kumba, as Anglo American se ysterertsprodusent, agteraf met die ander betrokke mynbouvakbonde ’n ooreenkoms bereik het ná die geskilverklaring deur Solidariteit. Kumba wil dit outomaties op Solidariteit se lede van toepassing maak.

“Ons weiering om te teken is ’n beginselsaak,” sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit. “Kumba onderhandel nie in goeie trou nie en dwing ’n ongunstige ooreenkoms op ons lede af. Hy stel onregverdige praktyke in wat tot gevolg het dat sekere kategorieë werkers die verhogings van ander werkers moet subsidieer.”

Volgens die nuwe ooreenkoms sal geskoolde werkers ’n laer persentasie verhoging as oorwegend semi-geskoolde werkers ontvang. Hierdie praktyk spruit uit die vorige driejaarloonooreenkoms toe dieselfde onregverdige beginsel deur Kumba toegepas is.

Die nuwe ooreenkoms bied aan werkers op meestal hoër posvlakke verhogings van 6,5%, 5,5% en 5% oor die komende drie jaar. Werkers op laer posvlakke sal verhogings van tussen 8% en 7,5% vir jaar een, en verhogings van 6% en 5,5% vir die twee jaar daarná ontvang.

Du Plessis voer aan Kumba het ook, soos met die vorige ooreenkoms, teenstrydige bewoording gebruik in ’n klousule vir die heropening van onderhandelinge, sou inflasie bo ’n sekere persentasie styg.

Hy glo die klousule het geen bindingsmag nie en is misleidend. Onder die vorige ooreenkoms het dieselfde klousule ’n minimale aanpassing wat ver benede die VPI was, vir sy lede tot gevolg gehad, terwyl ander werkers bo-inflasie-aanpassings gekry het.

“Kumba het, ondanks gunstige resultate vir sy finansiële jaar, tydens die onderhandelinge armoede begin voorhou. Hulle was nie geneë om ’n verhoging in lyn met Statistieke Suid-Afrika (SSA) se inflasiekoers van 7,1% vir die Noord-Kaap, waar Kumba se myne geleë is, vir hul werknemers aan te bied nie.

“Ons lede ervaar daagliks hoe Anglo American ’n beeld uitdra van hoe daar nooit ’n geldelike tekort is as dit by korporatiewe luukshede kom nie, maar wél wanneer verhogings ter sprake kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

Vakbonde is n onding, volgens huidige syfers is dit n bogemiddelde verhoging.

Gideon ·

Die kwessie hier gaan oor vaardige werkers wat deurgaans laer verhogings kry as die ongeskoolde werkers. Daar is ‘n ras ondertoon betrokke

Amelia ·

Eskom werkers het n 7% gekry maar doen niks gee net ir die wat werk nie die wat net daar is vir salaris nie

Veronika ·

Mooi so Solidariteit!! En vir wat kry ongeskoolde werkers meer verhoging as geskoolde werkers, waarvoor geskool word om beter in die lewe te doen en dit verniet!!??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.