Solidariteit wil hof toe oor kleuterskole

Die organisasies voer aan kinders se reg op basiese onderrig word ontneem. (Foto: Maroela Media)

Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) dreig met ʼn dringende hofaansoek as die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu en Nkosazana Dlamini-Zuma, haar eweknie by samewerkende regering en tradisionele sake, nie duidelike regulasies bekend maak oor die heropening van onafhanklike en private kleuterskole nie.

Kleuterskole wat by die departement van basiese onderwys geregistreer is, mag op 6 Julie hul bedrywighede hervat, maar dié wat by die departement van maatskaplike ontwikkeling geregistreer is, is steeds in die duister oor die pad vorentoe.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, het gesê die heropening van skole en private kleuterskole was tydens die afsonderingstydperk ʼn groot bron van onsekerheid vir ouers, leerders en onderwysers.

Die beroepsgilde en die SOS glo dat private kleuterskole ook toegelaat moet word om op 6 Julie, saam met ander kleuterskole, hul onderrig te hervat. Hulle sê kinders van alle ouderdomme het ʼn reg op basiese onderrig en die weiering dat dié skole open, ontneem kinders van hierdie reg.

“Hierdie toedrag van sake ontneem nie net die kinders van hul regte nie, maar ook die personeel verbonde aan die skole. Die personeel se reg om te werk en ʼn inkomste te verdien deur die diens wat hulle lewer, word hulle ontneem,” het Marisa Engelbrecht, sektorhoof by Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers, gesê.

“Die diens wat hulle lewer, is van die uiterste belang vir die ontwikkeling van jong kinders wat baat by die opvoedkundige stimulering wat hulle by hierdie skole ontvang. Om hulle dít te ontsê, kan verreikende gevolge vir hul skoolloopbane inhou.”

Die organisasies voer aan die departement van maatskaplike ontwikkeling se versuim om enige planne of riglyne bekend te maak, vererger ook maatskaplike nood.

Hulle sê vir duisende kleuters is hul skool ook hul bron van oorlewing en talle kinders is deel van voedingsprojekte by kleuterskole waar hulle hul enigste kos van die dag kry. Soms is ʼn kind se huis ook nie noodwendig ʼn veilige tuiste nie en help die skool om maatskaplike probleme te pak. Hulle voer aan die departement ontsê kinders hierdie basiese regte.

Suid-Afrika het Maandag na vlak 3 van die afsonderingsregulasies afgeskuif en miljoene meer mense het teruggekeer werk toe. Baie van hulle sit hande in die hare oor waar hulle nou hul kinders veilig laat wanneer hulle gaan werk.

Die organisasies sê in dié opsig lewer kleuterskole ʼn noodsaaklike diens aan ouers wat die versorging van hul kinders gedurende die dag betref.

Buys het gesê daar is geen rede waarom kinders nie na private kleuterskole kan terugkeer nie.

“Met die nodige voorkomende maatreëls wat ingestel is en die verantwoordelike infasering van kinders kan kleuterskole, soos enige ander skool, voortgaan met onderrig,” het Buys gesê.

Maroela Media het vroeër berig die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Pediaters (Sapa) het aanbeveel dat skoolonderrig, ook vir kleuters, so gou moontlik hervat word. Die vereniging het gesê kinders verwerk die virus biologies beter, sal onwaarskynlik sterf aan Covid-19 en is waarskynlik minder aansteeklik as volwassenes. “Hoewel kinders ʼn groter kans het om by die skool aan te steek, word die bykomende gevaar vir hulself en ander getroef deur die voordele daaraan verbonde om terug te keer skool toe.”

Buys het gesê die SOS deel dié siening dat die skade aan kinders se opvoedkundige ontwikkeling terwyl skole toe bly, veel groter is as die risiko dat kinders moontlik Covid-19 kan opdoen of oordra indien hulle veilig terugkeer skool toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

WLM ·

Sou dit nie makliker en goedkoper wees om net met mekaar te praat en dan ‘n besluit te neem nie. Hoekom moet alles op ‘n hofsaak uitloop?

Johan ·

want dit is onmoontlik om met hulle te onderhandel hulle het nie die vermoe nie kyk wat het voor 1994 met daai onderhandelings gebeur.

RB ·

Louis, mens kan net praat en besluit wanneer jy weet die besluit word gerespekteer. Daarvoor is vertroue en integriteit ‘n vereiste. Hierdie regering verstaan nie wat integriteit is nie, verder bewys hulle daagliks dat hulle nie vertrou kan word nie.
So eenvoudig soos dit.

Anoniem ·

Nee Louis dit help nie om te wil praat nie. Die enigste opsie vir organisasies is om die regering hof toe te sleep want dit is al wanneer ‘n mens ‘n reaksie kry.

Althes ·

Want regering kommunikeer nie met sy landsburgers behoorlik nie.

Onnie ·

MM is die 2de van nie verkeerd nie? Nkosasana Dlamini Zuma, nie Zulu nie

Megan Swart ·

Dagsê Onnie
Dit moet inderdaad Zuma wees nie Zulu nie. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Jims ·

Daar is baie dinge in die Bybel geskryf wat n mens laat wonder. Ek lees vanoggend in Jesaja 10 die eerste 2 verse: “Ellende wag vir julle wat kwaad bevorder met die wette wat julle maak, wat met julle ordonnansies mense laat ly. Julle verdraai die reg van die armes, julle ontse die armes van my volk hulle regte, julle buit weduwees uit, julle plunder weeskinders.”
Hoe kon Jesaja soveel jare terug ons regering van vandag so raak beskryf?

PH ·

Louis jy’t seker tog al gesien dit help niks om te praat en selfs ooreekomste aan te gaan nie. Hulle draai eenvoudig om en doen wat hulle wil.

Michiel ·

Jy woon in AFiKA en jy probeer Afrika met Europese manier opvoed. Waar in Afrika het dit al gewerk, welke Afrikland is menswaardig, welvarend? Geen. Solidariteit veg teen ‘n demografies oormag.

Anel ·

Omdat dit privaat kleureskole is en hulle nie voordeel trek nie. Verder, in hulle oë is dit net blankes wat privaatkleuterskole het bederyf en hulke wil mos blanke besighede vernietig. Het niks met die kinders te doen nie. Verder wil julle dwing om een van hulle in dien te neem om na jou kinders te kyk.

Agtogwatnog ·

dus die een departement wat presies dieselfde doen as die ander weet nie hoe om te koordineer nie. klink reg

Corne123 ·

Ja ons almal voel so maar die vraag eerder is dit die geldmors werd terwyl hoefeel mense daagliks sterf van die honger en hoefeel elke dag dieper en dieper in die gemors raak oor die goed

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.