Solidariteit wil impak van Kumba-afleggings by Thabazimbi-myn beperk

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het die beplande aflegging van 800 werknemers en 360 kontrakwerknemers weens die sluiting van Kumba Iron Ore se Thabazimbi-myn betreur.

Solidariteit het egter bevestig dat die mynmaatskappy nie veel kon doen om die afleggings te verhoed nie. Die vakbond het aangekondig dat hy egter steeds alles in sy vermoë gaan doen om die impak van die afleggings op sy lede tot die minimum te beperk.

Die myn het die mynsluiting en afleggings aangekondig nadat die ineenstorting van ʼn grondwal by die myn verlede maand dit onmoontlik gemaak het om werksaamhede te hervat. “Die mynbedryf in Suid-Afrika gaan tans deur moeilike tye. Die sluiting van die spesifieke myn is die afgelope 15 jaar 6 keer suksesvol uitgestel, maar verlede maand se gebeure was die spreekwoordelike laaste spyker in die doodskis van die Thabazimbi-myn,” het Moira Kloppers, woordvoerder van Solidariteit, gesê.

Volgens Kloppers kan afleggings verminder word, aangesien Kumba Iron Ore ʼn besigheidseenheid van die groter Anglo American-groep is. Die moontlikheid om die werknemers van Thabazimbi dalk elders in die groter organisasie te herontplooi kan ondersoek word.

Solidariteit sal binnekort met die werkgewer vergader om alternatiewe tot afleggings te bespreek.

Kumba het Donderdag aangekondig dat die myn, wat al 80 jaar in gebruik is, gaan sluit. “Die sluiting van ʼn myn is ʼn moeilike en pynlike proses en die impak daarvan kan nie ligtelik opgeneem word nie. Ons het alle opsies oorweeg om die myn verder te onderhou en het tot die onvermydelik gevolgtrekking gekom dat die myn nou aan die einde van sy lewe gekom het,” het Norman Mbazima, Kumba se uitvoerende hoof, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karel ·

By díe myn was daar nou die ineenstorting van die grondwal wat produksie laat stop het en gemaak het dat die myn baie geld verloor, maar die stakings van verlede jaar het ons myne ook geskud en so gaan klomp moontlik nog hul werk verloor omdat party dink geld val uit die lug uit. Die mynbou is nou erg sensitief in die land, glo nie hulle sal nog n staking kan hanteer nie. Dis jammer dat so baie gesinne hierdeur geraak word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.