Solidariteit wil lede met “goeie werk” help

Toekomsberaad-Dirk-Hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema.

Volgens die Amerikaanse meningsopname-maatskappy Gallup is die grootste behoefte van mense dwarsoor die wêreld om ʼn goeie werk te hê. Dit is juis waarom die vakbond Solidariteit vandag as deel van die Solidariteit Beweging se 2020 Helpmekaarplan verskeie strategieë bekendgemaak het om sy lede te help om ’n goeie werk te kry.

Die 2020 Helpmekaarplan word vandag by die Solidariteit Beweging se Toekomsberaad bekendgestel. Meer as 2 700 mense woon die beraad in die Heartfelt Arena in Centurion by. Die beraad volg die Beweging se Krisisberaad wat in Mei vanjaar plaasgevind het, op. Die Helpmekaarplan bied verskeie oplossings vir die krisisse waardeur Afrikaners toenemend bedreig word wat tydens die krisisberaad geïdentifiseer is.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, verduidelik waarom ’n goeie werk vir soveel mense belangrik is. “Werk bepaal in ʼn groot mate wie jy is en waar jy inpas. Dit gee ook ekonomiese stabiliteit en stabiliseer gesinne,” sê Hermann.

Volgens Hermann glo Solidariteit as Christelik vakbond dat werknemers ’n roeping het en dat dit vakbonde se taak is om werkers te help om hul roeping te verwesenlik. “Solidariteit glo daarin om mense in staat te stel om hul werk te kan doen. Die verantwoordelikheid bly egter dié van die individuele werknemer. Solidariteit glo ook dat goeie werksetiek ʼn voorwaarde vir ʼn goeie werk is. Daarom dra ons deurlopend goeie etiese waardes aan lede en jongmense oor,” sê Hermann.

Solidariteit sal oor die volgende vyf jaar strategieë in plek sit om sy lede te help om ʼn goeie werk “los te werk”:

  • Afrikaanse beroepsverenigings gaan dwarsoor die ekonomie geskep word om duisende professionele persone in verskeie beroepe te help om suksesvol in hul onderskeie professies te wees.
  • Konferensietegnologie gaan in dienssentrums dwarsoor die land gevestig word wat dienslewering en hulp aan werknemers na ʼn nuwe vlak gaan neem.
  • ʼn Elektroniese platvorm, die Solidariteit Wêreld, gaan omvattende diens en produkte lewer om goeie werk aan mense te verseker. Die Wêreld se doel is om ’n uitgebreide loopbaanontwikkelingsdiens aan werknemers beskikbaar te stel.
  • Lede gaan bygestaan word met loopbaanbeplanning, die opstel van CV’s, voorbereiding vir onderhoude en vele meer.
  • Verskeie toepassings (apps) gaan ook ontwikkel word om mense meer suksesvol in hul werk te maak.

Hermann sluit af: “Ons doel is om ons lede daardeur ’n voorsprong te gee en hulle in die praktyk “vry te stel” van rassewetgewing deur hulle vir elke verantwoordelike werkgewer onmisbaar te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ben ·

Uitstekende plan hierdie! Onthou tog ook ons bejaardes ook wat nog nie by hul “Verkoop teen…” datum bereik het nie. Die staat het my toekoms vernietig deur nie ‘n konstante rentekoers te handhaaf vir my uittredebedrag nie. Dit was 12% PJ (waarop ek kon oorleef) en toe kom dit af, af, af en vêrder af in 2008 en vreet toe al my oorlewingskapitaal op tot op hede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.