Solidariteit wil myne moderniseer

(Argieffoto)

Die Solidariteit Beweging het Dinsdag ʼn ooreenkoms vir die modernisering van myne onderteken wat sal verseker dat Suid-Afrikaanse myne meer volhoubaar en veilig is.

“Die modernisering van myne moet ʼn mensgesentreerde proses wees waar masjinerie die werk verrig in gebiede waar werknemers se veiligheid en gesondheid in gevaar gestel word,” sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

Die ooreenkoms is tussen die Mandela Mining Precinct (MMP), Solidariteit en ander vakbonde gesluit.

Die MMP is ʼn mynbou-gefokusde navorsingsinstansie wat deur die Mineraleraad van Suid-Afrika, die WNNR en die departement van hoër onderwys, wetenskap en innovering op die been gebring is om op innovering, modernisering en volhoubaarheid van myne te fokus.

“Die vooruitgang en volhoubaarheid van die mynbousektor is van uiterste belang, nie net vir die ekonomie en werkskepping nie, maar ook vir die skep van werksekerheid binne die sektor vir diegene wat reeds daar werksaam is,” sê Du Plessis.

Volgens Solidariteit is dit belangrik dat hierdie ooreenkoms veral ook ʼn voordeel vir mynwerkers inhou.

“Afgesien van ʼn veiliger werkomgewing is ons ook van mening dat modernisering geleenthede vir vaardige werknemers kan skep om beter vergoeding te verdien.

“Op hierdie wyse kan Solidariteit dan as vennoot namens sy lede optree om ʼn beter toekoms vir mynbou in Suid-Afrika te bewerkstellig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.