Solidariteit wil regsfonds bou vir 34 regstelaksiesake

regstellende aksieDie vakbond Solidariteit het Woensdag aangekondig dat hy nog 34 regstellendeaksie-hofsake teen die staat en semi-staatsinstellings gaan aanpak. Solidariteit het terselfdertyd ook aangekondig dat hy ʼn groot veldtog van stapel gestuur het om ʼn regsfonds van R10 miljoen op te bou om te help om die hofsake te finansier.

Hierdie aankondiging kom op die vooraand van Solidariteit se regstellendeaksie-hofsaak namens lt.kol. Renate Barnard teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat môre (20 Maart 2014) in die konstitusionele hof aangehoor gaan word. Barnard veg al nege jaar lank vir geregtigheid en daar word verwag dat hierdie hofsaak die landskap van regstellende aksie vir altyd sal verander.

“Die Barnard-saak is ’n bepalende gebeurtenis in Solidariteit se stryd vir gelykheid, billikheid en waardigheid in die werkplek,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê. “Die staat gee die pas aan in Suid-Afrika. Indien die staat ʼn onregmatige praktyk toepas sal die privaat sektor dit begin volg en binnekort word dit so algemeen toegepas dat die onregmatige praktyk regmatig word. So volg die reg die praktyk.

Ons kan dus nie die staat se onregmatige ideologie van verteenwoordigendheid net daar laat nie. Die taak van die burgerlike samelewing in ʼn grondwetlike demokrasie is om as waghond van die regstaat op te tree. Om op te tree teen ʼn staat wat buite die regsraamwerk teen die grondwetlike demokrasie optree is juis patrioties.”

Die 34 sake van Solidariteit is in verskillende stadiums van die regsproses en fokus ook op verskillende elemente van die staat se ideologie van verteenwoordigendheid. Dit sluit in die rol van dienslewering; die effektiewe funksionering van die staatsdiens; die uitsluiting van rasgroepe uit posadvertensies; die gebruik van rassekwotas; die inagneming van streeksdemografie; en minderhede se reg op waardigheid en gelykheid.

Solidariteit het reeds drie maal teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) se regstellendeaksiestrategie in die hof geseëvier en verskeie kere teen die SAPD. Die vakbond het ook in die hoogste hof van appèl in Bloemfontein namens Barnard gewen. Solidariteit was ook al suksesvol teen Denel, die Tshwane-munisipaliteit en die Suid-Afrikaanse Bloeddiens.

Benewens dié sake is Solidariteit ook gewikkel in ʼn verdere agt sake teen die SAPD, nog ʼn saak teen die DKD, asook sake teen die Suid-Afrikaanse Lugdiens en die lugredery se tegniese afdeling, die Tshwane-munisipaliteit en die departement van justisie asook verskeie sake in die privaat sektor. Solidariteit het ook regsake aan die gang waarin gevra word dat die regstellendeaksieplanne van die SAPD en DKD ongeldig verklaar word.

“Solidariteit het besluit om met ʼn veldtog te begin om ʼn R10 miljoen-regsfonds te vestig om ons veldtog vir gelykheid, billikheid en waardigheid in die werkplek te befonds. Ongelukkig litigeer ons teen ʼn staat met diep belastingsakke. Die staat litigeer teen ons met ons eie belastinggeld. Ons verwag dat duisende Suid-Afrikaners tot die regsfonds sal bydra, hetsy in die vorm van kleiner of groter bydraes. Sover ons kennis strek, is hierdie regsaksie die grootste burgerlike regsaksie in Suid-Afrika. Die doel van Solidariteit is om ʼn Suid-Afrika daar te stel waarin almal vry, gelyk voor die reg, waardig en billik behandel sal word.”

Vir al die tersaaklike dokumentasie vir die hofsaak, kliek hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.