Solidariteit wil SAPD deur hof dwing om oor regstelplan te konsulteer

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema

Die vakbond Solidariteit het vandag aangekondig dat hy die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) deur die arbeidshof wil dwing om met hom te konsulteer oor die SAPD se nuwe regstelplan.

Solidariteit voer aan dat die twee polisievakbonde POPCRU en SAPU nie die regte van minderheidsgroepe in die SAPD beskerm nie.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, se die aankondiging volg twee dae ná die konstitusionele hofuitspraak se kondonering van rassediskriminasie teen Renate Barnard.

Die vakbond het gesê hy gaan nou die arbeidshof nader ten einde die SAPD te verplig om met hom oor die SAPD se regstellendeaksieplan te onderhandel. Solidariteit het reeds ʼn skriftelike versoek aan nasionale polisiekommissaris Riah Phiyega gerig waarin hy versoek om deel te hê aan die onderhandelinge oor die plan. Phiyega het egter tot op hede nie op dié versoek reageer nie.

“Hierdie nuwe hofsaak is een van ʼn reeks terugveg aksies van Solidariteit na die omstrede konstitusionele hofsaak wat teen Barnard beslis het. Ons gaan nie terugsit en die rassediskriminasie teen ons lede gelate aanvaar nie,” het Hermann gesê.

Volgens Hermann wil Solidariteit nou die bron van die onbillike toepassing van regstellende aksie aanpak, naamlik irrasionele regstelplanne. In die konstitusionele hofuitspraak het die regters aangedui dat Solidariteit die SAPD-plan moes aanval en dit is wat Solidariteit nou gaan doen.

“Solidariteit gaan sy aksies verskerp teen maatskappye en organisasies wat regstellende aksie misbruik om onbillik teen minderhede te diskrimineer. Ons het versoek om met die polisie oor hul plan te onderhandel omdat ons reeds 20 sake van onbillike diskriminasie namens ons lede teen hulle voer. Ons glo dit is beter om pro-aktief te konsulteer as om reaktief te litigeer.” sê Hermann.

“Dit is vir ons duidelik dat POPCRU en SAPU, die twee erkende polisievakbonde wat by die saamstel van die huidige regstellendeaksieplan betrokke was, nie bereid is om die belange van polisielede uit die nie-aangewese groepe te verteenwoordig nie. Solidariteit is dus die enigste vakbond in die polisie wat hom vir die regte van minderhede beywer,” het Hermann gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.