Solly Msimanga weer as DA se leier in Gauteng aangewys

Solly Msimanga (Foto: Mariska Nanni/Maroela Media)

Solly Msimanga is Saterdag weer as leier van die Demokratiese Alliansie in Gauteng aangewys. Hy het sy teenstander, Khume Ramulifho, ʼn lid van die provinsiale wetgewer, uitgestof.

Fred Nel het sy posisie as DA-voorsitter in die provinsie behou en Posigo Mthimunye, ook ʼn lid van die Gautengse wetgewer, is as adjunkvoorsitter aangewys.

Msimanga het vroeër ʼn vurige toespraak gelewer aan die 961 afgevaardigdes by die Birchwood-hotel in Boksburg, Gauteng.

“Die mense van Gauteng eis ʼn verandering in leierskap,” het Msimanga gesê. “Hulle eis ʼn ekonomie wat vir hulle werk. Hulle eis stede wat dienste lewer. Polisie wat nie terugdeins van misdadigers nie. Hospitale wat wêreldgehalte gesondheidsdienste lewer. Onderwys wat nie ongeletterde leerders uitstuur nie, maar leerders wat met die beste in die wêreld kan meeding.

“Hulle eis ʼn einde aan die ineenstorting van infrastruktuur. Hulle eis regverdigheid in indiensneming. Hulle eis gelyke geleenthede vir almal.”

Msimanga sê sy werk is om voort te gaan om die DA te verenig, om strukture te versterk en te ondersteun. “Ek versoek dat julle almal by my sal aansluit om te stabiliseer, nuwe lewe te gee en dienste te lewer aan almal in Gauteng,” het hy aan die afgevaardigdes gesê.

“Die deurslaggewende uitdaging wat voorlê, is om ʼn werkbare bloudruk vir regering te implementeer – lank voor die 2024-verkiesing, wat die ANC se nalatenskap in ons provinsie sal omkeer. Kom ons maak dit wat ons begin het, klaar. Kom ons kry die DA om Gauteng in 2024 te red. Kom ons blaas lewe terug in Suid-Afrika deur Gauteng te laat gedy.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.