Solly Ozrovech oorlede

Solly Ozrovech (Foto: Skermskoot uit YouTube-video deur CUM-Uitgewers)

Solly Ozrovech (Foto: Skermskoot uit YouTube-video deur CUM-Uitgewers)

Die bekende skrywer Solly Ozrovech is Woensdag in die ouderdom van 88 oorlede.

“Dit is met groot hartseer dat Lux Verbi die afsterwe van oom Solly aankondig,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê.

NB-Uitgewers en die Afrikaanse Skrywersalbum – LitNet het die volgende in ‘n verklaring uitgereik:

Ozrovech is op 17 Januarie 1927 in Pole gebore. Sy ouers was Poolse Jode wat saam met hom en sy ouer broer, Mark, na Suid-Afrika geïmmigreer en ontkom het van die slagting van meer as 3 miljoen Jode net in Pole alleen. Hy was skaars sewe maande oud en sy boetie vier jaar ouer toe hulle ouers in ’n motorongeluk in Johannesburg oorlede is en die twee kinders ouerloos gelaat het in ’n vreemde land sonder enige familie.

Hulle was veronderstel om na ’n Joodse kinderhuis in Brixton te gaan, maar is per ongeluk omgeruil met twee Afrikaanse seuntjies en só beland die twee boeties in die kinderhuis op Ugie in die Noordoos-Kaap. Ozrovech het aan Hanlie Retief (Rapport, 11 November 2012) vertel: “Toe hulle die fout agterkom, was die tannie al so geheg aan ons sy’t tougetrek om ons te hou. Sy’t selfs belowe dat ons Sondae nie NG kerk toe sou gaan nie, maar naweke by Joodse families sou oorbly. Ek dink dit was die eerste ingryping van God in my lewe.”

Ozrovech het ook aan Retief vertel hoe Mark hom “soos ’n pa teen boelies beskerm” het. Mark het ’n kleremaker geword met ’n winkel in Port Elizabeth, maar toe hy 34 was, is hy dood aan kanker.

In sy boek Die romantiese verhaal van die dorpie Ugie het die stigter van die weeshuis aldaar, MTR Smit, as volg oor Solly Ozrovech geskryf: “Hierdie briljante weeskindjie het die Here aangeneem en hom toegewy aan ‘n groot ideaal. Sy eksamens het hy met lof afgelê, en eindelik daarin geslaag om die graad BA (Hons) te neem en om hom voor te berei as leraar van ons kerk.”

Dit was Solly Ozrovech se Engelse onderwyser, Ken Wilson, wat gesien het dat die jong Joodse seun graag wil lees en leer en het vir hom begin boeke aandra. Hy het ook vir ’n jaar lank met die Bybel Solly na die Here gelei. Van daardie dag af was niks meer vir Solly Ozrovech dieselfde nie, “op elke gebied in my lewe,” het hy aan Hanlie Retief gesê.

Hy het naweke by Joodse mense op Ugie deurgebring en Solly se insig in die Ou Testament het hy daar gekry. Toe Solly in die NG Kerk gedoop en voorgestel is, het daar drie banke vol Joodse mense voor in die kerk gesit. En die oom het vir hom gesê: ‘Solly, as dit die pad is wat die Here wil hê jy moet loop, loop hom enduit.”

Hy was in 1946 hoofseun van die Hoërskool Outeniqua op George waar hy gematrikuleer het.

Nadat ds. Ozrovech in twee sendinggemeentes (Sionskerk in die Paarl en Steytlerville) gedien het, is hy in 1958 aangestel as assistent-direkteur van die weeshuis waarin hy grootgeword. Later het hy besturende direkteur geword. Hy het die weeshuis herdoop na die Kinderoord MTR Smit.

Ds. Ozrovech het in 1965 ’n beroep aangeneem na die NG gemeente Strand-Noord. Dit is hier waar hy sy eerste boek In stilwees en vertroue geskryf het wat hom op die pad na bekendheid geplaas het. In 1970 is die gesin na Gordonsbaai en in 1979 na Robertson-Oos se gemeente. Sy laaste gemeente was dié een in Vishoek waar hy gebly het vanaf 1985 tot sy aftrede op 14 April 1991.

Solly en sy vrou Louise is in die 1960’s getroud en hulle het vyf kinders gehad, drie seuns en twee dogters. Hulle het ook tien kleinkinders, “vier Sollys een ná die ander”.

Hy is deur die VLV vereer vir sy bydrae op die terrein van die christelike lektuur. In 2002 het die beheerraad van die Andrew Murray-prysfonds ’n spesiale toekenning aan Ozrovech gemaak as mees gelese hedendaagse christelike skrywer in Afrikaans.

Solly staan bekend as die skrywer van die meeste geestelike boeke wat in Afrikaans verskyn het. Sy eerste boek het in 1969 verskyn en sy boeke was gereeld op die lys van topverkopers. Dit het alles baie lank terug begin. Hy was op skool en op universiteit altyd verantwoordelik vir die jaarblaaie. Hy het ook ’n telefoondiens gehad, “Lewensbrood per telefoon” wat, wanneer jy dit bel, ’n bandjie met ’n boodskappie van troos en ’n gebed teruggespeel het. Elise Muller het by NG Kerk-uitgewers gewerk en sy het hom gevra om 31 van daardie stukkies vir haar te stuur vir publikasie. Oom Solly  sal lank in menige Afrikaanse huis onthou word vir dagstukkies en ander geestelike boeke asook Pinksterreekse wat hy in baie gemeentes aangebied het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Leon ·

Oom Solly het n nalatingskap vir ons almal gelaat. Lees asb dit wat Vader deur hom vir jou sê.

SNEL ·

Ek stem Leon. Rus in vrede oom Solly, ek is so dankbaar vir al die wonderlike leesstof wat oom vir ons agterlaat. Sterkte aan die familie.

ig ·

Nee wat mense,sy nalentenskap is is ongedaan gemaak deur sy skeinheiligheid.Maar dit is mos hoe dit gaan met mense in magsposisies wat tegnies onskuldig bevind is.Hoop hy ontvang genade vir sy dade.Dit sou net beter gewees het as hy die slagoffers omverskoning sou vra sodat hulle ook kon berus.

Piet Pompies ·

Wat is die verskil tussen moord, diefstal, branstigting, gewapende roof, plaasmoorde, geweld en kindermolestering. Daar is geen verskil, dit is gebeurtenis wat ‘n invloed maak op jou bestaan, maar nog steeds sal daar ‘n groot bohaai wees oor moord, diefstal, branstigting, gewapende roof, plaasmoorde en geweld, maar die molestering word onder die mat ingevee of soos die NG kerk dit stel, die saak van molestering teen Dr Solly Ozrovech is gestaak weens sy siekte toestand. Hy moes eerder sy laaste dae van lewe in die tronk gewees het sodat hy self kan ervaar wat hy aan die kinders gedoen het.

Elfie ·

Ai julle, is dit nou nodig? Probeer hulp kry en dinge verwerk – dalk het hy vergiffenis gevra en gekry met dinge wat hy dan nou sou gedoen het (ek was nie daar en weet nie of dit wel gebeur het nie). Laat dit maar daar…

Leeutjie ·

Hoe kan mens nog na ‘n persoon se dood ‘n oordeel fel oor hoorse? Hoe weet julle werklik wat daar gebeur het sonder om self daar te wees. Ek het vriendin wat aangekla was van molestering (wat self 2 seuntjies het), omdat sy haar oor ‘n verwaarloosde kind ontferm het. Sy is aangekla en moes vlug na ‘n ander dorp. Die ouers was geldgierig en het haar loopbaan verwoes. Ek kan nie glo dat mense so ongenaakbaar kan wees om sulke uitlatings op die forum te laat nie. Leon, Snel en Elfie. Julle kyk oopkop hierna en ja… ek kan nie glo wat ek verder gelees het oor mense se geniepsigheid nie!

Elfie ·

NES jy sê Leeutjie – ek skaam my soms versrkiklik vir die aanmerkings wat mense maak. Daar is ‘n gesegde mens kan dink wat jy wil maar jy kan nie sê wat jy wil nie en ek wens mense wil dit meer toepas.

Leeutjie ·

Skies Maroele dis oordeel fel nie vel nie. Te vinnig getik!

Leeutjie ·

Maroela verwyder asb my eerste gedeelte met die spelfout waar ek vel i.p.v. fel getik het. Ek hou nie van spelfoute nie.

pop ·

Wonder wat se sulke mense vir God as hulle daar kom??? “Ek het die skyn baie mooi voorgehou”. En dalk iets soos “ek het ryk geword uit jou Naam”> Volwasse mans gaan nie almal uit die selfde mond lieg nie. Maar dis mos ou gesegde, as jy doodgaan was jy die wonderlikste mens!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.