Somaliese dogter sal behandeling ontvang

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Meisie van Somalië (12) sal die nodige mediese behandeling vir haar harttoestand ontvang, insluitend ʼn operasie, nadat ʼn skikking Vrydag in die Pretoriase hooggeregshof bereik is.

Prokureurs vir Human Rights, wat namens die meisie se familie in Suid-Afrika opgetree het, het ʼn dringende aansoek ingedien nadat die Steve Biko-hospitaal haar weggewys het omdat sy onwettig in die land is en haar familie glo nie ʼn deposito van R250 000 kon betaal nie.

Die meisie het Somalië glo op 25 Junie verlaat en het sonder begeleiding deur Kenia, Tanzanië en Mosambiek gereis. Sy het op 4 Julie in Suid-Afrika aangekom en dieselfde dag ineengestort. Sy is na die Kalafong-hospitaal in Atteridgeville gehaas.

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, en gesondheidsbeamptes van Gauteng, het Vrydag ʼn skikking bereik om skriftelik te bevestig dat die meisie by Kalafong opgeneem is vir ʼn ernstige, bestaande toestand. Sy is dadelik opgeneem en deur ʼn verskeidenheid dokters, insluitend ʼn pediater, behandel. Die pediater het ʼn kardiopediater van Steve Biko-hospitaal in Pretoria gekonsulteer en dié dokter het haar ook bygestaan.

Alhoewel die meisie se familie gesê het hulle is gevra vir ʼn deposito van R250 000, kon beamptes van die departement, ondanks ʼn deeglike ondersoek, nie enige bewyse hiervoor kry nie. Die beamptes het ook ontken dat dokters by die Steve Biko-hospitaal geweier het om die kind te behandel.

Die meisie se broer het onderneem om die personeellede uit te ken wat die deposito geëis het.

Die hof is Donderdag in kennis gestel dat die meisie reeds in die Steve Biko-hospitaal opgeneem is.

Regter Andre Louw het die skikking deur middel van ʼn hofbevel bevestig en het dit duidelik gestel dat die meisie steeds ʼn normale heffing moet betaal. Die broer sal glo die heffing betaal.

Soraya Hassim, senior advokaat van die minister van gesondheid, het aan Louw gesê die skikking beteken nie dat die meisie dadelik ʼn operasie sal ondergaan nie. Sy het gesê die kind se gesondheid is van só aard dat sy nie dadelik geopereer kan word nie. Die operasie sal plaasvind wanneer haar dokters meen sy is gereed daarvoor en dit haar beurt is om die operasie te ondergaan. “Sy is op ʼn waglys van ongeveer 47 kinders geplaas,” het Hassim gesê.

Die meisie se broer het in hofdokumente gesê hy is van mening sy suster se toestand is kritiek en sy is besig om te sterf. Lede van haar familie het hul tevredenheid met die skikking uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.