‘Somber atmosfeer’ by kranslegging vir Groblersdal-seuns

Talle mense het Dinsdag deur die loop van die oggend afskeid van Conrad Meiring, Stiaan Grobler en JG Greyling geneem. (Foto: Verskaf / Hoërskool Ben Viljoen)

Sowat 200 mense het Dinsdagoggend blommekranse ter nagedagtenis aan Conrad Meiring, Stiaan Grobler en JG Greyling in die gedenktuin van die Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal, Limpopo, neergelê.

Geraamde skoolfoto’s van die seuns, wat Saterdag saam in motorongeluk in die Wes-Kaap gesterf het, het tussen die kleurvolle blomme gepryk.

“Dit was ’n somber atmosfeer. Ons het staatgemaak op die natuurlike klanke van die omgewing. Hierdie leerders was kinders wat lief was vir die buitelewe en die natuur; ons het dus gevoel dat dit gepas is,” het Jean-Marie Heyns, die skool se bemarker, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Die geleentheid is deur onder andere ouers, leerders, oudleerders, vriende en kennisse asook lede van die gemeenskap bygewoon.

Leerders steek kerse aan en lê blomme neer ter nagedagtenis aan Conrad Meiring, Stiaan Grobler en JG Greyling. (Foto: Verskaf / Hoërskool Ben Viljoen)

Verteenwoordigers van die onderwysdepartement in Limpopo was ook daar. Dié het intussen sy medelye met die seuns se familie, vriende en skoolgemeenskap uitgespreek. “Hierdie is ʼn tyd wat ons moet saamstaan en krag van mekaar af moet kry,” het Polly Boshielo, LUR vir onderwys in die provinsie, gesê.

Maroela Media het vroeër berig die drie skoolverlaters, almal 18 jaar oud, was ten tyde van die voorval met hul matriekvakansie in Hartenbos. Die ongeluk het in die vroeë oggendure op die N2 naby George plaasgevind. ’n Vierde insittende, Adrian Myburg (18), het die ongeluk oorleef.

Die Hoërskool Ben Viljoen se vlag het Dinsdag halfstok gehang. (Foto: Verskaf / Hoërskool Ben Viljoen)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Swerwer ·

Innige meegevoel en simpatie met die Ouers en families van die seuns gedurende hierdie emosionele stryd.

Marius ·

Innige simpatie en medelye aan die ouers, famillie, en vriende.

Johanna ·

Liewe familie van hierdie pragtige 3 seuns in die fleur van hulle jare. Kinders en ouers wat drome en planne gehad het vir n toekoms, wat in n oogwink kort geknip is…
Sterkte vir julle almal. Hoe sal mens ooit verstaan. Wees stil en vind in GOD julle krag.

Chantel ·

Ag jinne, hoe huil ek saam met die seuns wat gekniel sit by die blomme. Julle dis bitter hartseer.
Ek bid dat Jesus almal wat na aan hierdie seuns was sal styf vashou. My innige simpatie.

Mariaan ·

Ag nee..hierdie is sommer net te veel vir mens se hart!! Ek dink so aan hierdie mense…dis n tragedie….ek as ouer sal nie so iets oorleef nie..

Yvonne ·

Net die Here kan hier troos bring…..dink met empatie en elke familie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.