Somer in Gauteng dié naweek

Foto ter illustrasie. (Foto: David Lezcano/Unsplash)

Inwoners van Gauteng kan maar solank hul somersklere uit die kas grawe, want warm weer is dié naweek op pad.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Vrydag aan Maroela Media gesê dat temperature in Gauteng oor die naweek die hoogte in gaan skiet. Ander provinsies kan ook warmer weer volgende week verwag.

Dié provinsie kan van Vrydagmiddag af ʼn gemiddelde temperatuur van tussen 26 °C en 27 °C verwag, wat tot in volgende week gaan voortduur.

Pretoria kan die naweek ʼn minimum van 7 °C en ʼn warm maksimum van 28 °C verwag. Johannesburg sal ietwat koeler wees met ʼn minimum van 4 °C en ʼn maksimum van 24 °C, terwyl gedeeltes van Hammanskraal tot 30 °C kan bereik.

“Hoewel temperature warmer word namate die lente nader kom, is dié temperature van die hoogste wat ons in maande in hierdie provinsie gesien het,” het Vanetia Phakula, ʼn weervoorspeller verbonde aan die SAWD, gesê.

Phakula het gewaarsku dat die sonbrandindeks die naweek baie hoog gaan wees.

Temperature sal na verwagting Dinsdag weer daal, met ʼn 30%-kans vir reën in Gauteng. Temperature van tussen 20 °C en 22 °C word dan hier verwag.

“Die reën sal na verwagting Woensdag opklaar en temperature kan weer tot tussen 25 °C en 26 °C styg.”

Die res van die land sal na verwagting stelselmatig warmer word met Potchefstroom wat Sondag ʼn minimum van 7 °C en ʼn maksimum van 26 °C kan aanteken. Polokwane sal na verwagting 10 °C en 24 °C en Mbombela (Nelspruit) 13 °C en 24 °C haal.

Die kusgebiede kan egter meestal koue en nat weer verwag wanneer ʼn kouefront volgende week oor die Wes- en Oos-Kaap beweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Peter Pan

Is Gauteng die enigste provinsie in die land?

Anel

Kyk, ek verlang met my hele hart na die somer en die baie warmer weer, maar vir Maandag en dalk Dinsdag sou en stortreën verlang het, so van sonop tot sononder vir voir die hand liggende redes. En ek is ook nie mal oor herldag reën nie. Wens ek kan ‘n glimlag gesiggie wat sy tong uitsteek hier plaas.

Marius Gerhardus

Mut se die voorspelling is baie waar. Nou by ons 8 grade en die wind waai yskoud. Tot die honde se drink water is gevries.

Hardekwas

My weer app sê dis vandag (Saterdag) 25 in Pretoria en dstv weerkanaal sê 24. Redelik ver van sawd se voorspelling van 28.